KULTUURDAGBOEK 28 JULIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Jan Bouws, Nederlands-Afrikaanse musiekwetenskaplike, musiekpedagoog, skrywer en komponis (onder andere 'Op my ou ramkietjie') is op hierdie dag in Purmerend, Nederland gebore. Na opleiding as onderwyser en gedurende sy lang onderwysloopbaan studeer hy in Amsterdam musiekwetenskap onder proff. Bernet Kempers, Smits van Waesberghe en andere, en begin vroeg reeds intens belangstel in die Afrikaner en veral sy musiekkultuur.
In 1946 verskyn in Brugge uit sy pen in Afrikaans, die eerste en tot nog toe enigste poging tot 'n omvattende musiekgeskiedenis van Suid-Afrika 'Musiek in Suid-Afrika'. Die huis van Jan en Juliana Bouws in Amsterdam was 'n toevlug en tuiste vir baie Afrikaanse studente in Nederland.
Na nog 'n hele aantal publikasies oor die musieklewe van Suid-Afrika, veral die Afrikaanse vollkslied, besoek Bouws op uitnodiging van die FAK Suid-Afrika in 1957 vir die eerste keer. Hy vestig hom in 1960 op Stellenbosch en lê daar die grondslag vir musiekwetenskaplike werk aan die universteit.
Ook in verskeie internasionale publikasies het hy artikels oor musiek in Suid-Afrika gepubliseer.
In 1972 by die FAK se Algemene Vergadering is 'n oorkonde uit erkentelikheid vir die rol wat hy in die bevordering van die Afrikaanse lied gespeel het, aan hom oorhandig. Vanweë sy swak gesondheidstoestand, is die oorkonde deur mev Juliana Bouws in ontvangs geneem.
Hy is op 26 Januarie 1978 in Tygerberg oorlede.