1685: OPDRAGTE AANGAANDE SLAWE- BEHANDELING

KULTUURDAGBOEK  16 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag het die besoekende Nederlandse kommissaris, Hendrik Adriaan van Reede, aan goewerneur Simon van der Stel verskillende opdragte aangaande slawe aan die Kaap gegee.

Volgens hom moes die slawe meer produktief gebruik en beter versorg word. Hoe meer hulle gehelp word om vooruit te kom en gesond te bly, hoe beter sou hulle die kompanjie kon dien en sou hulle teenoor hulle eienaars lojaal kon bly. Daarom het hy die administrasie van die slawe laat opknap, wette met betrekking tot hulle nagagaan en nuwes opgestel en ook huwelike tussen vrygestelde vroueslawe en vryburgers verbied.

Mense in gevangenisdiens moes harder as slawe werk. Slawe moes in die Christelike beginsels onderrig en in die Nederlandse taal geleer word. Slaweseuns onder 12 jaar oud moes skoolgaan,

en kinders oor twaalf jaar sou twee maal per week in die namidae onderrig in lees, skryf en kategese ontvang. Sondae moes die kinders kerk toe gaan.

Die slawelosie is voortaan in drie verdeel en was nie meer een groot woon- en slaapsaal nie. Getroude of "amptelike" saamwonende egpare sou in een afskorting leef, dogtertjies en ongetroude vroue in 'n tweede en seuns en jong mans in 'n derde eenheid. Seuns van blanke vaders en slawemoeders sou outomaties op 25-jarige leeftyd, dogter op 22, hulle vryheid ontvang mits hulle Nederlands kon praat, belydenis van geloof afgelê en 100 pond betaal het. Warmer klere en beddegoed moes voortaan aan Kompanjieslawe verskaf word. Kriminele oortreders moes ook nie saam met slawe gehuisves word nie.

Alle besonderhede aangaande die dood, geboorte en huwelike van slawe moes volledig aangeteken word., Die slaweseuns veral moet 'n ambag bygebring word. Slawe moes oor die algemeen goeie inwoners van die Kaap gemaak word sodat hulle met ywer 'n goeie taak kon verrig en hulle nuwe land kon aanvaar.

Die totale slawebevolking aan die Kaap in ongeveer 1700 was iets meer as 600. Vrygestelde slawe, ander vry swartes en die nasate van verhoudings tussens slawe onderling, met Hottentotte en blankes en besoekers aan die Kaap, het die begin van 'n nuwe samelewingsgroep, die Kaapse Kleurlinge, ingelui.