1932: HULDEBLYK AAN CJ LANGENHOVEN

KULTUURDAGBOEK 15 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Hierdie dag, 15 Julie, was in 1932  'n Vrydag, toe Langenhoven die oggend, drie weke voor sy 59e verjaardag, oorlede is in sy kamer in Arbeidsgenot, sy woning in Oudtshoorn. Hierdie woning is deur mev Langenhoven in haar testament beskikbaar gestel as 'Volkshuis' en is vir openbare besoek oopgestel sedert 21 April 1955 tydens 'n formele geleentheid deur Sy Eksellensie dr EG Jansen, destydse Goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika.

Cornelis Jakob (Zetuin) Langenhoven is op die middernag van 12-13 Augustus 1873 gebore in Hoeko, Ladismith, Kaap. 'n Paar dae na sy geboorte is sy moeder oorlede. Sy vader se broer was getroud met sy moeder se suster; hulle het hom aangeneem en as hulle eie kind grootgemaak. Vir sy eie vader het hy gesê "Anderpa"; sy oom en tante was "Pappie" en "Mammie".

Van sy plaasskooltjie op Hoeko is hy na Ladismith waar hy aan die einde van standerd VIII  as eerste student in die Kolonie gestaan het;

  daarna na Riversdal, waar hy gematrikuleer het. Die nuwe skool staan later bekend as die Hoërskool Langenhoven. 'n Brons-standbeeld van hulle oud-leerling het nog onlangs in die mooi voorportaal van die pragtige skoolgebou gestaan.

Nadat hy in die Victoria College – vanaf 1918 die Universiteit van Stellenbosch – sy B.A. behaal het, het hy huistoe gegaan, daar studeer en sy LL.B geslaag. Hy het hom ook as prokureur bekwaam en 'n ruk in Ladismith gepraktiseer. Van die begin af het hy hom op watersake en die waterreg toegelê, en ook toe hy met sy vrou na Oudtshoorn verhuis, (sy huwelik met die weduwee MM van Velde van Ladismith) het hy baie belangrike werk in hierdie verband gelewer – soos trouens ook in die Volksraad en Senaat.

In 1912 word hy redakteur van die plaaslike (twee maal weekliks) Hollandse blad Het Zuid-Westen, en gebruik dit, doelbewus en met volle ondersteuning van sy boere-direksie, as propagandamiddel tot bevordering van die stryd vir die erkenning van Afrikaans as die taal van die Afrikaner. Gedurende sy beheer was Het Zuid-Westen 'n Afrikaanse blad.

In 1914 stel hy hom beskikbaar as kandidaat vir die Provinsiale Raad se verkiesing en word onbestrede lid vir Oudtshoorn. Na drie weke van daardie 1914-sitting, wat hom die tyd gegee het om sy mede-lede te bearbei en te wen vir sy plan, het hy op die 23e April daarin geslaag om die eenparige besluit te laat neem wat aan die Afrikaanse skoolgaande kind die reg gee dat hy deur middel van sy moedertaal, Afrikaans, in die skool opgevoed mag word. Met hierdie besluit is daar vir die eerste keer in die wetgwende geskiedenis van ons land aanvaar en op die wetboek gestel, dat 'Afrikaans die moedertaal van die Afrikaanse kind is."

In 1918, Langenhoven was toe LUK van onderwys in sy portefeulje, is moedertaal-onderwys (vir die Afrikaanse kind – dit was altyd die geval vir die Engelse kind) verpligtend gemaak.

Die oorspronklikheid van sy insig in die aard van die probleem, sodat hy kon deurdring en vasstel wat die oplossing moet wees, die daaropvolgende stappe van lid-word van die liggaam wat oor die skoolgaande kinders se regte beslis, die drie weke se bearbeiding wat uitgeloop het op die voorstel wat aan die Afrikaanse ouers hulle hoogmoed sou gee vir die kinders van Suid-Afrika in hulle eie vaderland, is 'n goeie voorbeeld van Langenhoven se werkwyse.

Die Vrystaat en die Transvaal het later in dieselfde jaar (1914) soortgelyke besluite geneem in hulle Provinsiale Rade.

Reeds gedurende daardie 1914-sitting het Langenhoven begin werk aan sy betoging oor die goeie reg van Afrikaans as Voertaal, wat hy aan die begin van Junie 1914, by hulle sitting in Bloemfontein aan 'De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst' voorgedra het. Met twee teenstemme het die Akademie toe besluit om aktief te werk vir Afrikaans. Hulle sou skoolboeke keur, spelwyse vasstel ensomeer. Dit het ook nie baie jare duur nie voordat die amptelike taal van die Akademie self Afrikaans word.

Reeds in 1911 het Langenhoven se 'Stukkies en Brokkies' verskyn. Amper al die bekende alleensprake, tweesprake en dies meer, soos bv die geliefde 'Omslagtige Tant Lenie', 'Die Tweetalige Vonnis', ' Die Kis abaut die Forro', verskyn daarin, sowel as sy eie liefdesgediggie op die hond:

Met modderpote, Haagagaa!
Trap hij die voordeur oop -
Trap hij twee rijties blommetjies
Soover als wat hij loop...

Ook daarin is sy Wiegeliedjie; Liefdesonsin; Lamtietie, damtietie, doedoe mij liefstetjie... lg waarvoor hy sy eie melodie geskep het. Eers baie jare later het die Vlaamse komponis, Hullebroeck, die musiek gekomponeer waarop hierdie slaapliedjie so graag gesing word.

Vir Stukkies en Brokkies was daar 'n Voorwoord deur president FW Reitz.

Kort voor die sluiting van Het Zuid-Westen in 1914 – Oudtshoorn se ekonomie was ontwrig, verwoes, as gevolg  van die oorlog van 1914-1918 in Europa: daar was geen mark vir die volstruisvere waarop die welvaart van dorp en distrik gebou was – het twee Belgiese propagandiste in Suid-Afrika kom rondreis om samewerking en steun te soek vir die Europese Bondgenote, en toe ook in Oudtshoorn aangekom. Die twee here, hoogstaande geleerdes, verneem toe dat die groot voorstander van Afrikaans in Oudtshoorn woonagtig is. Vol belangstelling vra hulle om 'n 'staaltje' van die vir hulle onbekende taal. Langenhoven sou daardie aand 'n lesing oor sterrekunde hou en 'n onderwysersvriend wat nogal so bietjie moedswillig kon wees, nooi hulle om met hom saam te gaan en daar met die 'groot' man kennis te maak. Goed, maar hulle wil darem ook graag 'n voorbeeld van Afrikaans hoor, as dit mag. Toe dra die onderwyser, Jacob Smith, een versie uit die Wiegeliedjie voor:

Ossie se kossies is bossies en polletjies,
Papa eet droo'e brood, mamma krij bolletjies,
Wieletjies woeletjies, tolletjies rolletjies,
Papa kom huistoe sij wa'entjie is volletjies.
Huistoe naar mammetjie,
Huistoe naar lammetjie,
Weg van die vlammetjie,
Weg van die dammetjie,
Papa kom huistoe naar kindjie en mammetjie.

Die twee here het die lesing sowaar nog bygewoon.

Vir skoolboeke moes die onderwysers van daardie vroeë jare self sorg; en onder andere het Langenhoven besef dat hy 'n roeping het: om Afrikaans te gebruik en met sy volk te praat deur middel van sy geskrifte en boeke.

Etlike pleidooie vir die gebruik van Afrikaans en twee toneelstukkies – een wat hy later verwerk het as die Laaste van die Takhare – het in daardie jare verskyn. In 1913 skryf hy Die Hoop van Suid-Afrika om in Oudtshoorn op 16 Desember opgevoer te word. Die werk het hom slegs twee weke geneem om te voltooi. (Dwarsdeur die land is Die Hoop opgevoer om geld vir die nuutgestigte Helpmekaar in te samel.)  In die Oudtshoornse opvoering het Langenhoven Piet Retief voorgestel.

Ook het sy Afrikaanse Verjaardagboekie in 1912 verskyn met 'n Voorwoord van president Steyn. Ons Weg deur die Wêreld (1913) het ook meeste van Stukkies en Brokkies bevat. Sy 100 Prekies wat gereeld in Het Zuid-Westen verskyn het, sowel as baie van sy Spreuke was in boekvorm in hierdie uitgawe.

In die tweede uitgawe (1919) verskyn 'n groter aantal van sy Spreuke. Ook verskyn daar vir die eerste keer Afrikaans as Voertaal . Hierdie lesing is met 'n besluit van die Akademie in 1914 in die destydse Brandwag gepubliseer "met't oog op de belangrykheid, op't ogenblik, van die kwestie van Afrikaanse als medium van onderwijs."

Vir een jaar is Langenhoven volksraadslid (Oudtshoorn) en die volgende jaar, 1920, word hy senator wat hy tot sy sterfdag gebly het. Van 1914 af tot sy laaste dag op aarde was hy dus een van ons land se wetgewers. Gedurende die jare wy hy hom geheel en al aan sy skrywersberoep en aan die politiek.

In die Versamelde Werke verskyn daar 'n volledige lys van sy boeke met datums van hulle eerste verskyning. Daar het maklik drie en vier en soms vyf boeke per jaar verskyn; en intussen, in die laaste dertien jaar van sy lewe, het hy 'n weeklikse rubriek – Aan Stille Waters – in Die Burger waargeneem. Volgens sy eie stelling het hy geskryf vir "kinders van agt tot agt-en-taggentig".

In 1918 gee hy aan sy volk 'Die Stem van Suid-Afrika', wat saam met die komposisie van ds ML de Villiers heelwat later in 1957 ons amptelike Volkslied geword het.

Oor sy verdere aandeel aan die uitbouing van Afrikaans en aan die staatsbesluit om die betrokke wet so te wysig dat Afrikaans en Engels die amptelike landstale sou wees, sien ons in U Dienswillige Dienaar onder andere dat die Wet, op versoek, deur Langenhoven self opgestel is.

Op 24 Junie, 1931, het die Universiteit van Stellenbosch – by geleentheid van hulle goue jubileum – aan Langenhoven die eregraad as doktor in die lettere toegeken. Die rede vir die toekenning het gesluit met hierdie woorde:

"...Senator Langenhoven skryf nie maar praat, ook waar hy die pen hanteer. Sodat met waarheid van hom kan gesê word dat hy sy volk leer lees het. En daarom tref dit besonder gelukkig dat Stellenbosch, wat daarna streef om inderdaad 'n Volksuniversiteit te wees, ook op hierdie dag in een van sy oud-studente 'n Volkskrywer kan eer deur aan hom die ere-graad van Doctor Litterarum toe te ken."

Langenhoven se aandeel aan die politieke lewe en woelinge van die klein twintig jaar van sy diens aan sy volk, is nie hier ter sake nie. Maar in sy ernstige essays betrek hy alle kante van die lewe, en die student kry daardeur 'n baie gewigtige geleentheid om die geskiedenis van die Suid-Afrika van 1912 – 1932 te bestudeer en te leer verstaan.

Ook het Langenhoven die besluit om Afrikaans naas Nederlandse in die Bybel beskikbaar te maak so bietjie aangehelp met sy Vlugskrif 'De Heilige Ennen van Rehum en Simsai'. Die Afrikaanse Bybel het wel eers ná die dood van Langenhoven verskyn.

Deurlopend in Langenhoven se werke vind ons aanspreekvorme en woorde (bv ook teenoor nie-blankes) wat in ons eietydse letterkunde – en in die samelewing – in onbruik geraak het. Maar om daardie uitdrukkinge in enige stukke van daardie tyd nou te verander sou beteken vervalsing van beide Langenhoven se werk en die geskiedkundigheid daarvan. Daarom sal u deurlopend in die artikels, prekies of ander stukke wat ons op hierdie webblad van CJ Langenhoven aanhaal hierdie ouertydse manier van uitdrukkings onveranderd lees. Geniet die werke van hierdie briljante skrywer en volksman saam met ons.