1979: FAK HALFEEUFEES- KONGRES

KULTUURDAGBOEK 12 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Tussen 10 en 12 Julie het die FAK sy vyftigjarige bestaan luisterryk in Bloemfontein herdenk. Vroeër en later in die jaar is natuurlik ook allerlei ander programme en publikasies as deel van die halfeeufeesverrigtinge aangebied. So was daar 'n sakeleiersdinee en landwyd is plaaslike verjaardagfeeste van uiteenlopende inslag gereël.

 'n Gedenkuitgawe van Handhaaf, 'n nuwe FAK-Sangbundel, en 'n geskiedeniswerk met die titel Vyftig Jaar Volksdiens, is gepubliseer.

Gedenkpennings is geslaan, 'n gedenkseël is gedruk, 'n gedenkplaat by die NALN onthul en 'n dubbel langspeelplaat waarop die ontwikkeling van die Afrikaanse liederskat aangedui word, is beskikbaar gestel. Talle dagblaaie en tydskrifte het spesiale bylaes of artikels versprei. In 'n radio- en televisieprogram is die FAK se werksaamhede en rol beklemtoon. 'n Prysnavraag vir leerlinge in sekondêre klasse is suksesvol afgehandel.

Tydens die halfeeufees-kongres kon 'n geslaagde kunsuitstalling besigtig word, het die Konferensie vir Kultuurrade plaasgevind en die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad (ANK) vergader. Talle referate is gelewer en bespreek. 'n Amptelike onthaal is vir die afgevaardigdes deur die rektor van die Vrystaatse Universiteit en een deur die burgemeester van Bloemfontein aangebied. Ongeveer 20 stigterslede van 1929 het 'n noenmaal bygewoon, oud-voorsitters is gehuldig, twee skitterende musiekprogramme is aangebied – onder andere opdragwerke wat spesifiek vir die doel aangevra is – en tydens 'n dinee het premier PW Botha die byeenkoms afgesluit.

Die halfeeufeesverrigtinge was inderdaad besielend, kennisverrykend, afgerond aangebied en verkennend aangaande die toekoms.