1917: KONGRES VAN HELPMEKAAR OP MIDDELBURG, KAAP

KULTUURDAGBOEK 11 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Ná die Rebellie van 1914 moes die rebellieskuld en –boetes, wat in Transvaal en veral in die Vrystaat enorme bedrae beloop het, terugbetaal word. Aanvanklik het elke kommando sy eie skuld probeer betaal maar selfs ná duisende onselfsugtige bydraes was die skuld nog meer as honderd duisend pond. By 'n bespreking tussen JH van Barneveld, dr DF Malan en adv HS van Zijl is daar besef dat 'n groot poging aangewend moet word om die agterstallige bedrae te verhaal.

Die Helpmekaarvereniging, wat gestig is om rebelleskuld te help vereffen, het hierin 'n groot rol gespeel. Op 11 en 12 Julie 1917 is 'n Helpmekaarkongres op Middelburg in die Kaap onder voorsitterskap van adv HS van Zijl gehou, waarop die toenmalige stand van geldsake blootgelê is.

Die feite was skokkend. Al die geld wat reeds in Kaapland ingesamel is was nie eers genoeg om die rente op die verskuldigde bedrae te betaal nie.

Mnr R van der Merwe, sekretaris van die Vrystaatse Helpmekaar, het die toestand in die Vrystaat uiteengesit en die kongres het deur die ongelooflike bedrae soos aangestip onder die volle besef gekom van die erns van die saak. Toe is daar besluit om 'n fonds te stig om so spoedig moontlik die rebelleskuld te help delg.

Hierdie feite was vir die Afrikaner 'n ontnugtering aangesien die volk gemeen het dat die grootste werk reeds afgehandel was. Dit het die volk laat besef, soos De Burger ook bepleit het "dat er geen verslapping mag zijn, maar dat het veeleer noodzakelik is om meer dan ooit tevoren alle krachten in te spannen".  Self het die koerant 'n onmiskenbare bydrae gelewer tot die aansporing vir insameling van meer geld. Ook dr DF Malan het na aanleiding van die kongres die Helpmekaarsaak met groot krag bepleit. Uit die ouditeursverslag van die Vrystaatse Hellpmekaarvereniging is vasgestel dat die totale tekort 104 250 pond beloop. De Burger het dit duidelik gestel dat "mensen die gereed zijn, zich op die manier zelf te helpen, zijn voorwaar de hulp van andere waardig", verwysende na die groot somme geld wat reeds deur die rebelleprovinsies ingesamel is. Aangesien die kongres goed gepropageer is en artikels daaroor in die pers verskyn het, kon dit die Afrikaner laat besef dat "Het werk van de Helpmekaar (niet) voorbij (zijn); het is pas begonnen."

De Burger se versugting dat die kongres te Middelburg "een aansporing tot nieuwe ijver en geestdrift" sou wees, is spoedig verwesenlik. Kort na afloop van die kongres het HC Wilcocks 'n versoek aan die Sentrale Bestuur van die Middelburgse Helpmekaartak gerig om op 10 November 1917 Helpmekaardag deur die Unie te vier.

Uit die besieling van die Middelburg-kongres is Helpmekaardae oral in die land gehou, met uitstekende opbrengste. Hierdie kongres was ook die inspirasie vir mnr Japie de Villiers van die Paarl, wat met sy 500-pond fonds meegehelp het dat die rebelleskuld betaal en 'n oorskot vir volksake oorgehou kon word. Hy het aangebied om 500 pond aan die fonds te skenk indien nog 100 mense bereid sou wees om elk 100 pond by te dra. Dit het geweldige geesdrif  vir die fonds ontlok.

Die feit dat die kongres op Middelburg in die Kaapprovinsie gehou is het die koloniale Afrikaners bewus gemaak van die politieke situasie en probleme in die Noorde. Dit het meegebring dat die historiese kloof wat sedert die Groot Trek tussen Noord en Suid ontstaan het, grootliks oorbrug is.

Die Afrikaner het homself herontdek – hy het 'n samehorigheidsgevoel ontdek, gebore uit die nood van die volks- en landsgenote.

Die Helpmekaarkongres op Middelburg het die Helpmekaarbeweging 'n nasionale beweging gemaak, 'n volkseie-saak waarop met dankbaarheid en trots teruggekyk kon word want dit was 'n tyd waarin ons kon leer hoe 'n volk behoort saam te werk wanneer daar nood is.