1865: PRETORIA RIFLE CORPS GESTIG

KULTUURDAGBOEK 6 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Pretoria Rifle Corps onder leiding van Stephanus Schoeman, wat met die rang van kaptein die eerste hoof daarvan was, is as 'n vrywilligerkorps gestig.

Die woord Rifle dui nie op die Engelse begrip van 'n geweer nie maar op die Westley-Richards-doppie-agterlaaier van 1858 – 'n geweer wat gou in Transvaal bekend geword het en spoedig graag gebruik is.

Die doel met die Rifle Corps was om Pretoria en omgewing en ook die staat in die algemeen te beskerm. Daarby sou die lede aan kommando's en noodlydendes voorrade help voorsien.

Die manne het sover as moontlik in hulle eie behoeftes voorsien – 'n geweer, mes en rewolwer is as basiese wapens beskou. Die uniform was 'n bruin broek en baadjie van fluweel, 'n grys hoed, 'n swart kraag aan die moue en 'n swart volstuisveer aan die regterkant van die hoed.

Pres MW Pretorius het as beskermheer opgetree en hiervoor amptelik die rang van kolonel ontvang.

Die eenheid is verder formeel deur die Uitvoerende Raad van die ZAR goedgekeur en is later ook die Vrywilliger Corps genoem, wat later ontbind is.