1945: FAK HOU VOLKSKONGRES OOR MAATSKAPLIKE BELEID

KULTUURDAGBOEK 5 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op maatskaplike vlak was daar vir die Afrikaner ná 1929 nog baie probleme om te oorbrug. Verwarring en onvermoë op hierdie sosio-ekonomiese terrein het immers ook kultuurarmoede beteken. Daarom het die FAK dit nodig geag om 'n volkskongres daaroor te reël – met die oog daarop om 'n maatskaplike beleid vir die Afrikaner te bepspreek.

Die betrokkenheid van Suid-Afrika by die Tweede Wêreldoorlog en die gevolglike uitwerking daarvan op die volk op vele terreine het dit soveel te meer noodsaaklik gemaak.

Die kongres van 5 Julie 1945 is deur 250 afgevaardigdes bygewoon.

 Die sake wat bespreek is het onder meer ingesluit die Afrikaanse gesinslewe, en 'n arbeidsbeleid vir ons jeug. Die bedoeling was voorts, ook in die jare hierna, om veral deur kultuurbewustheid en volkstrots die Afrikaner op sosio-ekonomiese gebied sterker te laat staan. Onbetrokkenheid by die Kerk, die eie kultuur en die eie onderwys het hierdie taak bemoeilik, terwyl noue inskakeling op hierdie terreine maatskaplike bewaring vergemaklik het.

Met die jare het die FAK minder op die maatskaplike vlak opgetree omdat 'n hoë graad van opheffing bereik is en omdat die Kerk en ander liggame veel meer betrokke geraak het en veel in hierdie verband uitgerig het.