KULTUURDAGBOEK 5 JULIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Brittanje het die Kaap in Januarie 1806 vir die tweede keer beset. In April 1814 het lord Charles Somerset goewerneur van die Kaap geword, en in Augustus 1814 is die Kaap formeel aan Engeland afgestaan.
Die Britse bewindhebbers het van meet af aan 'n verengelsingsbeleid teenoor die Afrikaners gevolg omdat hulle die Kaap 'n suiwer Britse kolonie wou maak. Daarom het Somerset sedert 1818 die tekort aan predikante in die gemeentes van die NG Kerk aangevul deur die aanstelling van predikante van die Skotse Presbiteriaanse Kerk.
Op onderwysgebied het Somerset 'n stelsel van vrye Engelse skole in die lewe geroep waar ingevoerde Engelse en Skotse onderwysers aan die Afrikaanse kind onderwys sou gee. Die uiteindelike oogmerk was die invoering van Engels as enigste amptelike taal van die Kolonie.
En om hieraan uitvoering te gee, het Somerset op 5 Julie 1822 sy bekende taalproklamasie uitgevaardig. Hiervolgens sou Engels met ingang van 1 Januarie 1827 die enigste amptelike taal in die geregshowe wees, en in alle ander regeringskantore reeds met ingang van 1 Januarie 1825. Voorts sou alle regeringstukke en briefwisseling vanaf 1 Januarie 1823 slegs in Engels opgestel en gevoer word. Engels is dus op alle terrein van die openbare lewe tot die enigste amptelike taal verklaar.
Die Hollandse koloniste het hulle aanvanklik nie teen die verengelsing van die staatsbestuur verset nie. Daarby het die boere, wat ruim tagtig persent van die bevolking uitgemaak het, 'n afgesonderde lewe op hul plase gevoer en maar min met die staat en sy instellings in aanraking gekom. Hoewel die Hollandse koloniste bereid was om in die verengelsing van die staatsdiens te berus, was hulle geensins van plan om hul eie taal op kerklike en opvoedkundige gebied prys te gee nie. Daarom het hulle op kulturele gebied 'n hardnekkige stryd om die behoud van hul eie taal gevoer. Die Afrikaners het dus volstrek geweier om hul identiteit prys te gee.