1909: SA AKADEMIE VIR WETENSKAP EN KUNS GESTIG

KULTUURDAGBOEK 2 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

In 1908 is die vereniging Onze Taal in Bloemfontein gestig om te waak oor die belange van Hollands in die Vrystaat. Ds Willem Postma (dr O'kulis) het 'n leidende rol in hierdie vereniging gespeel en het dit sterk bepleit dat 'n sentrale organisasie daargestel behoort te word om samewerking tussen die twee strydende taalpartye – Hollands en Afrikaans – te bewerkstellig. 'n Taalkongres wat later tot April 1909 uitgestel is, was 'n noodsaaklikheid.

Onze Taal se planne vir versoening was dus reeds beraam toe daar by 'n Afrikaanse Taalkongres in Desember 1908 in Kaapstad ook toenadering gekom het tussen voorstanders van Nederlands en voorstanders van Afrikaans.

In Desember 1908 het die Nasionale Kovensie in Kaapstad byeengekom, en op 'n wenk van pres Steyn, JH Hofmeyr en genl JBM Hertzog, is besluit om 'n konferensie te belê en almal wat in die Hollandse taal belang stel, daarheen uit te nooi.

 Hierdie konferensie is op 5 Januarie 1909 in die Hugenote-gebou in Kaapstad gehou en van die mees vooraanstaande manne was teenwoordig. Die konferensie het besluit "dat een lichaam in't leven worden geroepen ter bevordering van de Hollandse taal en letteren in Zuid-Afrika." 'n Komitee van 12 afgevaardigdes moes op 29 Junie 1909 byeenkom en 'n konsep vir die beoogde stigting van 'n Akademie aan die algemene kongres wat op 1 en 2 Julie sou vergader, voorlê.

Die komitee se aanbevelings is met enkele wysiginge goedgekeur, en daar is besluit dat hierdie te stigte Akademie 'n klein uitgelese liggaam met 'n beperkte aantal lede van ongeveer 50 sou wees. Die afvaardiging het die doelstellings soos volg geformuleer:
"De handhaving en bevordering van de Hollandse Taal en Letteren en van de Zuid-Afrikaanse Geschiedenis, Oudheidskunde en Kunst. Onder't woord, Hollands, word verstaan de beide taalvormen gebruikelik in Zuid-Afrika."

Op 2 Julie 1909, na afloop van die algemene kongres, is die 30 stigterslede van die Akademie gekies. Daar is besluit op twaalf verteenwoordigers vir die Kaapprovinsie, nege vir Transvaal, sewe vir die Vrystaat en twee vir Natal.

Die groot betekenis van die stigting van die Akademie het op daardie tystip daarin gelê dat daar versoening teweeggebring is tussen die twee taalpartye, en dat die voorstanders van Nederlands hulle bereid verklaar het om met ander saam te werk. Sodoende is die werk van die voorstanders van Afrikaans erken as gedaan in belang van die Hollandse taal in Suid-Afrika.