1892: DR THEO WASSENAAR

KULTUURDAGBOEK 24 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Theodorus Wassenaar is op hierdie dag gebore op Hendrina, waar hy ook later sy eerste onderrig op die plaas ontvang het.

In 1909 gaan hy na Middelburg, en in 1910 ontvang hy 'n beurs vir  verdere studie in Holland. Daar raak hy in Afrikaans geïnteresseerd en begin skryf.

In Oxford raak hy onder die invloed van Shelley, en later Perk, onder wie se invloed hy die sonnetvorm gebruik.

Hy kwalifiseer in Amsterdam as oogspesialis en was 'n tyd lang oogarts op Lydenburg en daarna professor in Fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sedert 1934 neem hy deel aan die politiek.

Vanaf 1943 is hy LPR, en later word hy lid van die Uitvoerende Komitee van die Transvaalse Provinsiale Raad. Hier het hy veral sy stem laat hoor teen die dubbelmediumbeleid op skool aangesien hy gemeen het dat dit albei landstale sou benadeel.

Sedert 1941 publiseer hy gedigte in Die Brandwag onder die skuilnaam Adeodatus (Latyn vir Theodorus) en later ook in Die Nuwe Brandwag.

Hy vertaal die Griekse drama Oidipus in Afrikaans. As tipiese Twintigerdigter dig hy dikwels konvensioneel, tog vertoon sy verse 'n gevoeligheid.

In 1921 publiseer hy sy bundel, Gedigte, wat in 1938 heruitgegee is. Sy werk staan buite die ontwikkeling van Dertig, en tog het hy talle digters ná hom beïnvloed.

Dr Wassenaar was 'n vurige en toegewyde kultuurmens, stigterslid van die FAK, kampvegter vir Afrikaans en die kultuurregte van die Afrikaner. Onder sy talle prestasies op hierdie gebied was sy inisiatief en dryfkrag agter die totstandkoming van die Afrikaanse mediese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria.