KULTUURDAGBOEK 23 JUNIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
So laag het ons Britse volksvyande gedaal dat hulle selfs nadat die Tweede Vryheidsoorlog verby was en die Boere gedwonge by Vereeniging moes instem tot 'vrede', nog van ons volksgenote terreggestel het. Dié dood was die prys wat 'n aantal Boerekrygers moes betaal vir hulle dapperheid toe hulle huis en haard moes beskerm tydens 'n oorlog op eie bodem wat die gulsige Brittanje hier op ons volk kom afdwing het.
Salmon Gerhardus van As is op 2 Mei 1878 gebore en op 23 Junie 1902 deur 'n Britse krygshof tereggestel nadat hy aan moord op kaptein Richard Miers skuldig bevind is. Dit was net ná die Vrede van Vereeniging op Heidelberg in Transvaal.
Veldkornet Van As, asook 'n sekere Cilliers en ene Muller is van die vrywarings in die akte van oorgawe uitgesluit omdat hulle elkeen by drie verskillende geleenthede drie ander mense in die Tweede Vryheidsoorlog om die lewe sou gebring het.
Aan genl PR Viljoen het Van As op die vooraand van sy teregstelling erken dat hy Miers onder gewone oorlogsomstandighede doodgeskiet het en nie vermoor het nie.
Pogings deur ds AJ Louw en andere om Van As se lewe te red het misluk. Aan sy ouers, familie en mej Nelly Nortje het Van As vir oulaas afskeidsbriewe geskryf voor hy dié Maandagoggend vroeg teen die tronkmuur laat staan, en op sy versoek nie geblinddoek nie, doodgeskiet is. Sy lyk is in 'n kakiekombers toegedraai en in 'n vlak graf langs die pad na die Heidelbergse kerkhof begrawe.
Op 14 of 17 (dit is onseker) Oktober 1903 is 'n besonder aandoenlik en groot herbegrafnis vir genl CJ Spruyt, kmdt Kriegler en veldkornet Van As en vyf ander burgers op Heidelberg gehou. Genl CR de Wet het 'n bemoedigende toespraak gehou en onder andere die Afrikaner gemaan om sy kinders te laat studeer ten einde die toekoms te verseker.
Op 12 Maart 1938 is 'n gedenksteen deur CH Muller vir nege krygers van die Tweede Vryheidsoorlog onthul en ook Van As se naam verskyn op die monument.