1943: STIGTING VAN DIE GENOOTSKAP VIR AFRIKAANSE VOLKSKUNDE

KULTUURDAGBOEK 22 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Hoofsaaklik onder aansporing en leiding van dr Abel Coetzee as Direkteur van die Buro vir Taal- en Volkskundige Navorsing, Universiteit van die Witwatersrand, het 'n groep geesdriftiges in Johannesburg byeengekom om die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde te stig.

Die Genootskap se strewe was die algehele bevordering van kennis aangaande die Afrikaanse volkseie.

Dit het geskied deur die insameling van gegewens insake die oorgelewerde geestesgoedere en die stoflike kultuurbesit van ons volk, en ook navorsing op die gebied van die Afrikaanse volkskultuur.

Die eerste uitgawe van die Genootskap se kwartaalblad, die Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal, word in 1944 gedruk, en hierdie blad het nog tot in die tagtigerjare sonder onderbreking verskyn.