1879: STIGTING VAN DIE AFRIKANERBOND

KULTUURDAGBOEK 20 JUNIE

Ds SJ du Toit, 'n predikant van die NG Kerk – lank voordat hierdie kerk deur die geldmag aangewend is om die Afrikanervolk te probeer uitwis - en leier van die Eerste Taalbeweging, het in Junie 1879 in 'n hoofartikel van Die Arikaanse Patriot, die stigting van 'n 'Afrikaner Bond' om die Afrikaners politiekbewus te maak, bepleit.

Die Bond het die vereniging onder een beherende liggaam van alle persone wat Suid-Afrika as hulle tuisland aanvaar, beoog.

Sy tweede oogmerk was 'n verenigde Suid-Afrika onder Britse kusbeskerming maar met 'n eie vlag en 'n eie regeringsvorm wat uiteindelik op 'n Suid-Afrikaanse republiek moes uitloop.

Ds Du Toit het die Afrikanerbond op 20 Junie 1879 in die Paarl in die lewe geroep om aan hierdie oogmerke gevolg te gee. Die seëvierende Vryheidsoorlog in Transvaal het geesdrif vir die oogmerke van die Bond hoog laat vlam.

Die Bond het spoedig in die Kaapkolonie naas die gematigde Boeren-Beskermingsvereeniging van JH Hofmeyr, wat slegs beperkte ekonomiese oogmerke gehad het, ingang gevind. Takke van die Bond is ook in Transvaal en die Vrystaat gestig. Hofmeyr, 'n uitnemende taktikus, het afskeiding van die Britse Ryk nie as praktiese politiek beskou nie. Hy het in die verengelste atmosfeer van die Kaap grootgeword. In Mei 1883 het hy daarin geslaag om op 'n kongres van die Bond in Richmond, Kaap, die Bond en sy eie Boere-Beskermingsvereeniging te amalgameer. Die aanvaarding van 'n gematigde 'Program van Beginsels' in 1889, wat na groter ekonomiese eenheid in Suid-Afrika en samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes gestreef het, veral in die Republikeinse noorde, het die Hofmeyr-seksie in beheer van die Afrikanerbond geplaas.

Teen 1890 was dit egter duidelik dat die Afrikanerbond nie bestem was om 'n al-Afrikanerorganisasie te wees nie maar 'n boereparty vir die Kaapkolonie.