GOD HET ONS NIE VERLAAT NIE

Oorweldig die poorte van die hel ons dan nou?

Dr JJ Snyman

Waarom voel dit vir baie Afrikaners of hulle van God verlaat is? Het die bose magte dan die oorhand gekry? Wel, as mens sake op sigwaarde beskou sien mens 'n volk wat hopeloosheid en weerloosheid ervaar. Mense wat probeer ontsnap van die werklikheid. Hoe dikwels is die reaksie: "Moet my nie ontstel met die feite" nie? Volksgenote het toeskouers van hulle eie ondergang geword. Waarom is dit so?

Nadat Petrus, die deur-God-geopenbaarde verklaring maak dat Jesus die seun van God is, het Jesus hom verseker dat die poorte van die hel (duisternis) nie die kerk (volk) van God sal oorweldig nie. Maar hoekom wil ons dit nie vandag meer glo nie?

Petrus het pas, nadat hy saam met alle gelowiges een van die kragtigste momente in die Bybel beleef het (Matt 16:16), probeer om Jesus wys te maak dat Hy nie sou sterf soos wat God dit wou nie. Skielik word Petrus deur Jesus as Satan aangespreek juis omdat hy hom verset het teen God se wil!  Petrus word in 'n ommesientjie 'n dissipel van Satan. Sy geloof verander dramaties na kleingeloof.

Ons het vandag nie die fisiese teenwoordigheid van Jesus, soos Petrus dit gehad het nie. Maar ons het die Heilige Gees. Wanneer die Heilige Gees nie in ons is nie, dan maak geloof plek vir kleingeloof. 'n Gebrek aan 'n positiewe toekomsverwagting is 'n duidelike teken van geloof wat plek maak vir kleingeloof. Wat is doelloosheid, rigtingloosheid en hopeloosheid anders as 'n tanende geloof? Dan neem Satan, die owerste van hierdie wêreld ook in die gelowige se lewe oor.

Het die magte van die duisternis dan magtiger as God self geword? Nee, ons weet mos dat God die bose juis toelaat as straf vir die oortreding van sy verordeninge. Satan is owerste van hierdie wêreld (Joh 12:31), maar is netso sterk as wat ons hom toelaat om te wees. Al waarom hierdie demoniese magte nou so sterk en magtig lyk, is omdat ons dit toelaat! Ons glo elke woord wat die duistere magte en hulle propaganda aan ons opdis en verroer nie 'n vinger om iets daaromtrent te doen nie. Eiebelang staan voorop. Vrees vir God en sy gebooie het plek gemaak vir vrees en eerbied vir die duiwelse magte.

Die vuurproef van die individu se vryheid en sy wil om die kwaliteit van sy lewe te beskerm, lê in sy houding teenoor hierdie duiwelsmagte. Hoe voel jý teenoor die magte van die duisternis? Soos al opgemerk is (wat ook natuurlik geld vir die Afrikaner):

The most amazing thing about the American people is that they are constantly defending their worst betrayers.

Die moderne mens het 'n gebreinspoelde sondebok ("patsy") geword wat elke dag sy bevele kry uit die "nuus" wat aan hom opgedis word, terwyl hy in dieselfde asem enige idee van 'n wêreldwye bose sameswering ("magte van die duisternis") met minagting sal verwerp! Die moderne mens is darem veels te gevorderd om aan sulke bygeloof te glo! So het die moderne mens die ideale slagoffer van hipnotisme geword juis omdat hy glo dat as kroon van die Skepping hy enige mag van die bose oor hom verwerp.

Die Japannese filosoof, George Ohsawa het verklaar dat daar net een ongeneeslike siekte is, naamlik arrogansie. As jy nie wil besef dat jy siek is nie, kan jy nie genees word nie. Die arrogante mens hoef nie te sien nie - hy het alles klaar gesien soos hy dit wil sien. Die res laat hy oor aan die "kenners" - dit is nou hulle wat hom verder sal wysmaak hoe bewonderingswaardig hy is. Hy bewonder hulle omdat hulle hom vlei. Dit is dan ook die basis van elke vals geloof, kerk, beweging, party en sisteem: Hulle vertel aan die moderne mens dat hy reeds 'n half-god is en dat die fout elders (buite homself) lê.

Die popsterre en filmsterre (en selfs sportsterre) en die okkultiese simbole wat ons en ons kinders aanhang getuig van hierdie gevorderde staat van breinspoeling. God se naam word elke dag en deur meeste van hierdie "idols" (afgode) ydelik gebruik (ja, dit is Godslaster - strafbaar met die dood!), en demoniese magte het meeste van hulle beetgepak - dog in 'n toestand van amperse beswyming word steeds aan hulle lippe gehang.

Is ons dan te lui om ons eie draaiboek te skryf? Is die regte medisyne dan so bitter om te sluk? Louis-Ferdinand Celine, in sy seminale opstel oor die Bolsjevisme, Mea Culpa, het die volgende opgemerk:

Since the end of religions, before this new (modern) altar, they have been swinging incense; they have been intoxicating man with the sense of his own importance, with all manner of rigmarole. Man has been made the whole Church. No longer can he see anything with clear eyes. He is cracked! He believes anything that is told to him, just so long as it is flattering to him...

 

Ons het wysheid en wyse leiding nodig om hierdie aanslag te weerstaan. So stel Spreuke 9:10:

Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here...

Vrees vir God is die grondslag van ware wysheid. Waarom? Want wysheid behels die vermoë om kennis en insig met welslae te gebruik. Om God te vrees, beteken nie om voor hom te bewe van angs nie, maar om voor Hom te buig in ontsag, eerbied en vertroue. Hierdie vrees is heilsaam en ’n kragtige dryfveer. Dit beweeg ons om ons lewe in ooreenstemming te bring met ons kennis van God se wil en weë. 'n Hopelose toestand word deur hopelose mense geskep en deur hooplose mense in stand gehou. Dit kan nooit vanself ontstaan nie. 'n Volk met 'n hoopvolle toekomsverwagting is getuienis van geloof in werking en hoef niks te vrees nie. So 'n volk se vrees vir God is vir daardie volk verlossend!

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie (Ef 6:12). Ja, ons stryd is nie teen die barbaar of regering van die dag nie, maar teen die magte van die duisternis agter hierdie barbare en regering. Laat ons (elkeen) dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons (almal) die wapens van die lig opneem. Satan is netso sterk soos wat ons hom toelaat om te wees.

Ja, God het ons nie verlaat nie. Ons het Hom verlaat!