SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (1)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Oom Nieklas van Rensburg se besondere karakter, persoon en gesigte het verskeie beroemde persoonlikhede geïnteresseer. So was daar die digter, C. Louis Leipoldt. Sy benadering tot die Boereprofeet was egter meer wetenskaplik en objektief. Hy was van mening dat al was die ou Siener 'n byna ongeletterde man en sonder enige kulturele agtergrond, het hy beskik oor 'n ingebore gevoel vir die skone, en ook dat hy (Nieklas) die lewe betrag het met die versiende oë van 'n digter. Sy rapsodieë (vertellinge) het gespruit uit 'n diepe gevoelswêreld, al kon hy hom weens 'n beperkte woordeskat nie behoorlik uitdruk nie.

Die Siener was geneig om een woord te gebruik om twee betekenisse uit te druk, en om dieselfde frase met effe wysiging te herhaal, nie om dit te benadruk nie, maar asof hy 'n behae in die assonansie en ritme geskep het.

Op bl. 297 van Die Huisgenoot van Nov. 1921 gee 'n anonieme leser 'n mooi beskrywing van die Boereprofeet se karakter en lewensomstandighede. Hy skryf:

"Vier van ons het 'n paar weke gelede spesiaal vir oom Nieklas gaan besoek. Hy woon in 'n outydse, langwerpige platdakhuisie, wat baie eenvoudig, maar baie netjies daar uitsien. Toe die kar stilhou, kom hy uit en groet op beleefde wyse die gaste, met twee waarvan hy goed bekend was.

"Dadelik voel 'n mens dat jy met 'n persoonlikheid te doen het: Die reëlmatige gelaatstrekke, helderblou oë, lang baard, mooi gevormde voorkop en kalme houding — alles dra daartoe by.

"Pas het ons die huis ingegaan, of ons word natuurlik op' n koppie koffie getrakteer; en na ons so bietjie gesels het, het een van die lede vir oom Nieklas gevra hoe dinge vir hom lyk. Hy het eers 'n bietjie huiwerig gelyk, maar so langsamerhand begin vertel wat hy  op sy pad sien.

"Oom Nieklas se manier van vertelling is eienaardig: hy begin eers met 'n stukkie geskiedenis uit die Engelse Oorlog, en hoe hy eers gewaar geword het van sy gawe. So stadigaan kom hy dan op teenswoordige toestande.Terwyl hy met sy linkerarm op die tafel leun, word met die regterhand herhaaldelik deur sy baard of oor sy voorkop gestryk, en so nou en dan vee hy ook sy waterende oë af.

"Dit lyk of sy vertelling nogal 'n geestesinspanning by hom veroorsaak. Hy sê:  'Nie ver voor nie, dreig daar oor ons volk 'n dik, swart wolk; maar dis gou verby en anderkant gaan dit gelukkig en goed. Die vlaktes van ons hele land is omgespit en omgeploeë, en net hier en daar staan daar klompies garingbome wat bitterlik ween. (Die garingbome meen hy is die Engelse).

Die Engelse trek almal Kimberley toe, en dan sien hy hulle nie meer nie. Die Afrikaners kom ook almal bymekaar; en dié wat tussen die Engelse (en ander vyande van die Boere) is, sluit hulle by hulle eie mense aan..."

Die beriggie sluit dan af met die volgende gesig:  "lerland sien ek as 'n los koringgerf wat van 'n wa (Engeland?) afgegooi word..."

Vervolg...