VOLKSVERRAAD (20)

Adv PJ Pretorius

Lees volledig by Volksverraad - die boek

DIE AFRIKANER-WEERSTANDSBEWEGING MAAK SY OPENBARE VERSKYNING AS INSTRUMENT VAN KOM. OPS. OM DIE VOLKSTAATSGEDAGTE TE BEVORDER

Tot op daardie stadium het die Afrikaner Weerstandsbeweging as 'n koverte beweging geopereer. Veral in die Afrikaner Broederbond het Professor Carel Boshoff 'n sterk pleidooi gerig vir 'n Blanke tuisland in 'n pluralistiese Suid-Afrikaanse opset. Carel Boshoff was in sy argument sterk aangedryf deur sy skoonvader, dr. Verwoerd se gedagtegang vir 'n heimat vir die Blanke bevolking, hoewel dit aan die einde van die dag Boshoff se eie visie vir Suid-Afrika is. Hierdie standpunt het wel by sommige Broeders soveel aanhang geniet dat selfs die Afrikaner Weerstandsbeweging as 'n geheime regeringsprojek geaktiveer is om daardie aspirasie in 'n nuwe moontlike staatkundige bedeling te akkommodeer.

Soos ons reeds in die vorige hoofstuk gesien het, het die geheime komitee onder leiding van M.D. O'Dowd besluit dat die tagtigerjare die begin sal wees van die era van liberalisme en van radikale konstitusionele hervorming sonder noodwendig 'n verandering van regering in Suid-Afrika.

Kom. Ops. het toe gegaan en 'n hele gebeurtenis georkestreer wat die weg vir die Afrikaner Weerstandsbeweging sou baan om die konsep van 'n volkstaat te bevorder. Professor Floors van Jaarsveld is deur Kom. Ops. ingetrek. Hy sou in 1979 'n gehoor by Unisa in Pretoria toespreek waarin hy 'n pleidooi sou lewer vir die skrapping van Dingaans-/Geloftedag (op elke 16 Desember as openbare vakansiedag ter eerbetoning aan God vir die Slag van Bloedrivier) ter bevordering van goeie rasseverhoudings. Hy is egter deur lede van die AWB geteer-en-veer. Die insident is deur brig. Tienie Groenewald van Kom. Ops. georkestreer uitsluitlik met die oog daarop dat die Afrikaner Weerstandsbeweging nie meer ‘n geheime beweging sou wees nie, en ook sodat die Beweging voortaan toenemend in die kollig op die politieke terrein sou opereer.

Die AWB se overte verskyning het plaasgevind op die vooraand van ingrypende politieke hervorming. Eugene Terre'Blanche het dan ook in 1979 teen die agtergrond van die doel van die AWB die Volkstaatsparty in Wonderboom, Pretoria gestig. Die party is gestig om die Volkstaat-gedagte lewendig te hou. Die polisie het op 15 Desember 1982 wapens op Terre'Blanche se plaas gevind. By nadere ondersoek sou dit aan die lig kom dat die wapens in samewerking met offisiere van Militêre Inligting daar geplant is om 16 Desember as amptelike vakansiedag te diskrediteer.

EKONOMIESE ONTWIKKELINGSPLAN OM INTE-GRASIE TE BEVORDER

In 1979 sien die Republiek se Ekonomiese Ontwikkelingsplan onder leiding van professor Jan Lombard (lid van die Afrikaner Broederbond sedert 1976) die lig. Die plan plaas op grond van die Riekert en Wiehahn-verslae 'n hoë premie op die ontwikkeling van die nywerheidswese en die dienssektor. Dit verg baie kapitaal. Venda en Ciskei het as Swart tuislande hulle onafhanklikheid verkry wat deel gevorm het van die Afrikaner Broederbond/Nasionale Party se strategie van Afsonderlike Ontwikkeling om Swartmense stemreg te gegee. Die strategie was daarop gemik om 'n konstellasie van state in Suidelike Afrika te bevorder. (Vorster het reeds in sy ampstydperk gepoog met dieselfde konsep.) Die gedagte was daarop gemik om die streek by wyse van samewerking met die TBVC-state asook die buurstate ekonomies te ontwikkel. By die plan was 'n Ontwikkelingsbank vir suider Afrika ingeweef. Pik Botha se Departement van Buitelandse Sake en Inligting het 'n sogenaamde 'Masterplan' in 1980 vrygestel waarin groeipunte uitgewys word vir Nywerheidsontwikkeling; Pretoria- Witwatersrand-Vereeniging as een geheel, Nelspruit tot Kuruman, Pretoria tot Messina, Johannesburg-Phalaborwa, Tzaneen, Bronkhorstspruit-omgewing, Witbank, Oos-Londen, Richardsbaai en Bloemfontein.

Voorts het hierdie strategie verder toegesien dat die Inligtingsgemeenskap in samewerking met Mangosuthu Buthelezi binnelands 'n pro-Westersgesindheid moes openbaar. Ons het reeds gesien dat Inkatha in 1975 gestig is (as alternatiewe vir die ANC met sy pro-Kommunisme) en Buthelezi het toe sy beweging steeds in die buiteland gaan bemark met die oog daarop dat hy buitelandse investering na Suid-Afrika moes aanmoedig. Dit was weereens 'n geheime inligtingsprojek wat onder Tienie Groenewald geressorteer het. Die oogmerk van hierdie projek was dat indien die buurstate die Konstellasie van State-beginsel sou aanvaar, dit tesame met die opkoms van Inkatha outomaties kon lei tot internasionale erkenning van die Republiek se Nie-Blanke beleid en kon dit in 'n groot mate die buitelandse aanslag teen die Republiek lamlê en die ANC/SAKP se internasionale aansien diskrediteer.

Vervolg...