Waarheen gaan ek met my kind?
Ds WJA van Schalkwyk
Uiters belangrike aspekte soos Kan ek my kind aan die staat toevertrou?; gevare in staatskoolonderwys vir die onmondige kind, seksonderrig en vele meer word in hierdie artikel behandel. Indien u as ouer van 'n skoolgaande kind waarlik omgee en betrokke wil wees in u kind se toekoms, lees asseblief ds Van Schalkwyk se referaat met aandag. Die almagtige God wat ons aanbid, gaan van elke ouer rekenskap oor sy kinders eis.
"In ’n graad 7 Lewensoriënteringhandboek wat algemeen deur skole in ons omgewing gebruik word, word die kinders geleer hoe om te voorkom dat ’n meisie swanger word. Wat meer is, een van die maniere wat hulle dan geleer word, is onttrekking. Teenoor 'intercourse' noem hulle dit 'outercourse'.As kinders op hierdie jong ouderdom al met leermateriaal met seksuele inhoud gekonfronteer word, is dit geen wonder dat die grootste verbruikers van pornografie tussen die ouderdomme van 13 tot 17 jaar is nie.
Verder word kinders, jou kinders, nie geleer dat dit sonde is om voor die huwelik seksueel aktief te wees nie, maar hoe om veilig te wees. Elke ouer wat die Here lief het, mag tog nie sy/haar kind blootstel aan ’n onderwyssisteem waar die waardes en die beginsels van die Woord van die Here vertrap word nie."
Ek wil die aanbieding vanuit ’n totaal onkonvensionele hoek benader. Ek wil eers ’n stelling waag en dit verduidelik en dán ons aandag vestig op die beginsels vir Christelike Onderwys.
Dr. Tim Keller is ’n gereformeerde teoloog van Amerika. Hy bedien ’n groot gemeente in New York en doen geweldig baie om die Evangelie regoor die wêreld uit te dra. Hy het in ’n preek ’n stelling gemaak wat kortliks op die volgende neerkom: Dit is vir ons wat in christelike huise grootgeword het baie moeiliker om die Here met oorgawe te dien as iemand wat later in sy lewe tot bekering gekom het.
Die waarheid van sy stelling lê daarin dat nuwe bekeerlinge oor die algemeen borrel van dankbaarheid en oorgawe aan die Here terwyl die meeste mense wat in christelike huise grootgeword het maar traag is om in oorgawe te lewe. Nuwe bekeerling het gewoonlik ’n honger na die Woord van God terwyl ons wat in christelike huise grootgeword het so gewoond geraak het aan die leer van die Skrif dat dit ons nie meer aangryp nie – kyk maar net hoe lyk ons Bybelstudiegeleenthede. Ons het so gewoond geraak aan die verlossing in Christus dat die onbeskryflike genade wat aan jou bewys is nie meer jou lewe beheers nie. Ons het so gewoond geraak aan die leer oor die vergifnis van sonde dat ons nie meer werklik omgee hoe ons lewe nie, want ek kan tog maar weer my sonde bely. Ons het so gewoond geraak aan die Bybel dat die inhoud daarvan ons nie meer aanspreek nie.
Bybellees en kerkbywoning, ja die hele christelike storie, het so deel van ons lewens geword soos Springbokrugby en skottelgoedwas en partytjiehou; so deel van my alledaagse bestaan soos my werk en my gesin en my stokperdjies; so deel van my lewe dat dit nie meer die bepalende faktor en dryf van my hele bestaan is nie. Ja waarlik, ons het so gewoond geraak aan God en sy Woord dat ons glad nie anders lyk as die res van die wêreld nie.
Besef u die waarheid hiervan?
As die wêreld na die christendom kyk, lyk ons glad nie anders nie, ons staan nie uit nie. Ses dae van die week leef ons en lyk ons soos elke ander onbekeerde, maar een dag per week, en dan net vir ’n uur, hou ons ons heilig en maak ons of ons anders is. Ons lyk eenvoudig net nie anders nie. Ons leef soos die wêreld, ons vier Kersfees soos die wêreld, ons voed ons kinders op soos die wêreld.
Waarom?
Omdat die verlossing in Jesus Christus ons nie meer aangryp nie.
Elkeen wat ernstig is oor sy verhouding met die Here, elkeen wat ernstig is oor sy gehoorsaamheid aan die Woord, elkeen wat nie maar bloot wil voortlewe asof God net nog ’n deeltjie uitmaak van sy/haar besige bestaan nie, sal moet stil word en voor die Here kom buig om te hoor wat Hy in sy Woord oor die onderwys van my kind sê.
oo0oo
Die hoe en die waar van die onderwys van jou kind is een van die mees kritiese en mees ingrypende besluite wat jy in jou lewe moet neem. Baie ouers dink nie eers oor hierdie saak na nie. Baie ouers leef hulle lewe sonder om een keer te stop en te vra wat die Here se wil ten opsigte van die onderwys van hulle kinders is. Een rede hiervoor is ons geloofsingesteldheid waaroor ons pas gehandel het.
’n Ander rede is die feit dat ons so gewoond is daaraan dat onderwys die staat se verantwoordelikheid is, dat ons nie eers verder daaroor dink nie. Dit is belangrik om te hoor dat staatsonderwys soos wat ons dit vandag ken, ’n nuwe verskynsel in die wêreld is. Deur die eeue was dit ouers wat in gemeenskappe self vir die onderwys van hulle kinders verantwoordelikheid geneem het. Eers met die opkoms van die kommunisme in die 18e eeu het die kommuniste beplan om onderwys in die hande van die staat te kry. Deur middel van die skole kon die kinders se denke gevorm word om die ideologie van die staat na te volg – ongeag wat hulle by die ouerhuis geleer word. Met dit in gedagte het Marx gesê: The education of all children, from the moment that they can get along without a mother's care, shall be in state institutions at state expense.
Lenin het verder gegaan: Give me just one generation of youth, and I’ll transform the whole world.
Dit is presies die situasie waarin ons vandag in Suid-Afrika sit – ’n staatskoolbedeling waarin die ideologie van die staat die kern van die onderwys vorm.
In hierdie voordrag sal dit dus oor twee sake handel, nl.: My verantwoordelikheid ten opsigte van die onderwys van my kind én Staatskoolonderwys – die gevare vir die onmondige kind.
I MY VERANTWOORDELIKHEID TEN OPSIGTE VAN DIE ONDERWYS
VAN MY KIND
My doopbelofte
As ons vanaand oor ons verantwoordelikheid ten opsigte van die onderwys van ons kinders handel, is ons vertrekpunt die belofte wat ons voor die Here afgelê het.
Voordat ons probeer vasstel wat ons belofte inhou, moet ons eers die regte perspektief ten opsigte van ons kinders hê. Ons moet verstaan wie en wat ons kinders is.
Daarom die vraag: Aan wie behoort jou kind werklik?
Is jou kind jou eiendom sodat jy daarmee kan maak wat jy wil? Die waarheid van die Skrif is: My kind is myne, maar nie myne nie. My kind is in die heel eerste plek kind van die Here. Reg deur die Bybel leer ons dat dit Hy is wat kinders aan mense gee. Inderwaarheid vertrou Hy sy kind aan jou toe om daardie kind vir Hom groot te maak. Hy léén sy kind vir jou sodat jy ook die vreugde van ouerskap kan beleef. Hy bewys ’n ongelooflik groot genade aan jou om jou met een van syne te vertrou.
Besef u die verantwoordelikheid wat dit meebring?
Wat meer is, jy het ten opsigte van daardie kind, wat die Here aan jou toevertrou het, sekere beloftes gemaak.
Onthou u nog:
Beloof u om u kind in die leer van die Skrif na die beste van u vermoë self te onderrig en te laat onderrig?
Ja Here, het dit oor die gemeente geklink.
Hierdie belofte lê op my as gelowige nou ’n Goddelike verpligting van gehoorsaamheid. Juis daarom moet ek na die Woord van die Here gaan luister om te leer hoe ek hierdie verantwoordelikheid moet nakom.
Deut. 6:4-7 sê:
Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
Die heel belangrikste beginsel, en dit is die vertrekpunt as ons van onderwys praat, is dat die onderwys van jou kind primêr jou verantwoordelikheid is.
Jy mag dit nie delegeer nie!
Jy mag dit nie op iemand anders afskuif nie!
Jý gaan voor die Here verantwoording doen!
Luister weer na vers 6 en 7: En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
Jy, jy, jy!
Nie die staat nie, ook nie die kerk nie – jóú verantwoordelikheid.
Jý het beloof om jou kind vir die Here groot te maak.
Vers 8 en 9 gaan verder sê: Ook moet jy dit as ’n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. Met ander woorde jy moet altyd daaraan dink, jou optrede moet daardeur bepaal word.
En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.
Verstaan u?
Die Here beveel dat ons kinders grootword in ’n omgewing wat oorheers word en deurdrenk is met Sy Woord. Daarom moet die plek waar die onderrig van jou kinders plaasvind – as dit nie in jou huis is nie – ook met die beginsels van die Woord van die Here deurdronge wees.
In die Bybelse tyd het die gelowige vaders hierdie saak baie ernstig opgeneem – iets wat vandag in ’n groot mate by ons ontbreek. Die hele Spreukebundel is ’n samestelling van opvoedkundige lesse vir ’n kind. In Spreuke 4 sê Salomo dat sy pa hom onderrig het en dat hy hierdie wysheid en kennis nou aan sy seun oordra.
Hoor net:
Spr. 4:3,4 Want toe ek ’n seun was by my vader, teer en ’n enigste voor my moeder, het hy my geleer en vir my gesê: Laat jou hart my woorde vashou; onderhou my gebooie, dan sal jy lewe. En dan sê Salomo vir sý seun in vers 10 en 11: Hoor, my seun, en neem my woorde aan; dan sal die lewensjare vir jou vermeerder word. In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree.
As ’n mens dan die boek Spreuke lees, merk jy gou op dat dit die onderrig van ’n vader aan sy seun is. Telkens lees ons hoedat hy sy seun aanspreek.
Dat die onderrig van jou kinders primêr die ouers se verantwoordelikheid is, was ook waar van die lewe van die Here Jesus. Telkens lees ons dat die mense verslae was oor sy leer. In Joh. 7:15 staan: En die Jode het hulle verwonder en gesê: Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie?
Ons lees nêrens dat die Here Jesus formele onderwys ontvang het nie. Dit was ook nie die gebruik in daardie tyd nie. En tog het Hy kennis van die Skrifte. Hoe is dit moontlik? Waar het Hy daardie kennis gekry?
Sy ouers het Hom dit in die huis geleer.
Ons moet verstaan dat in die tyd van die Here Jesus die meeste kinders deur hulle ouers in die huis opgevoed en onderrig is. Die belangrikste deel van die onderrig was natuurlik die onderrig in die Woord en Wet van die Here. Kinders is geleer om die Here lief te hê en Hom met hulle hele hart te dien. Hulle is geleer om vanuit die beginsels van die Skrif elke dag vir die Here te lewe. Verder het die seun gewoonlik die pa se ambag aangeleer om eendag vir sy eie gesin te kan sorg.
Selfs in die Nuwe Testament lees ons hiervan. In 2 Tim. 1:5 lees ons dat Timoteus deur sy ma Eunice en sy ouma Loïs in die leer van die Skrif grootgemaak is. Dit was slegs die rykes wat ’n geleerde slaaf kon aanstel om die onderwys van hulle kinders in die huis te hanteer.
Die beginsel van Deut. 6 het dus gegeld: Elke ouer is self verantwoordelik vir die onderrig van sy kind.
Kan die Deut.6-beginsel steeds geld?
Dit is egter ’n vraag of hierdie beginsel steeds vandag toegepas kan word. Want as ons oor die onderrig van ons kinders praat, moet ons dadelik erken dat tye verander het. Dit is eenvoudig net nie meer moontlik om my kind tuis alles te leer wat hy of sy nodig het om te weet nie. Ek kan nie maar net my ambag aan hom oordra en dink dit is genoeg nie. Elke verantwoordelike ouer sal besef: Nadat, of terwyl ek tuis besig is om die gebooie van die Here op die tafel van my kind se hart te skrywe, moet hy of sy ook onderrig word om in die moderne wêreld ’n inkomste te verdien. Daartoe besit ek nie al die vaardighede nie en daarom moet ek die hulp van professionele persone inroep. En met hierdie besef van onvermoë stuur ek nou my kind skool te en vertrou dat hy of sy by die skool geleer sal word om met verantwoordelikheid ’n staanplek in die wêreld te verkry.
Die vraag is nou: Die beginsel is dat ek self verantwoordelik is vir die onderrig van my kind, ek mag dit nie delegeer nie. Hoe moet ek maak as ek nie die vaardighede het om bv. wiskunde of wetenskap of wat ook al aan te bied nie?
Onthou, ’n beginsel is ’n ewige waarheid, want dit is op die Skrif gegrond.
Die beginsel is: Jý is verantwoordelik. Die Here het met jóú ’n Verbond gesluit in die doop en jý moet daaraan gehoorsaam wees.
Die probleem is egter dat ek nie in die vermoë is om in die moderne tyd waarin ons leef my kind tuis te onderrig nie. Maar wat as ’n groep verbondsouers bymekaarkom en saam besluit hoe hulle die onderwys van hulle verbondskinders gaan hanteer? Wat as ’n groep verbondsouers bymekaarkom en besluit dat hulle hul kinders in ’n skool wil laat skoolgaan waar hulle dieselfde waardes en Skrifgetrouheid kan leer as by die huis? Wat as ons ’n verbondsouerskool sou kry; ’n skool waar die ouers besluit wat hulle kinders geleer moet word; ’n skool waar dit moontlik is dat ek my doopbelofte kan nakom?
Is dit nie die saak waarna elkeen van ons moet streef nie?
II STAATSKOOLONDERWYS – DIE GEVARE VIR DIE ONMONDIGE KIND
Om te verstaan waarom daar gevare in ’n bepaalde stelsel van onderwys kan wees, moet ons eers verstaan wat onderwys werklik behels.
Onderwys handel primêr oor die oordrag van ’n wêreldbeskouing. Dit handel nie in die eerste instansie met die oordrag van kennis nie. Juis daarom bestaan daar nie iets soos neutrale onderwys nie. Daar is altyd ’n vertrekpunt vanwaaruit die onderwys aan die kind gebring word. Onderwys vorm. Onderwys vestig waardes. Onderwys is identiteitvormend. Onderwys bou of breek ’n volk.
Die Bybel sê dit duidelik in Spr. 22:6: Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.
Dit is uiters belangrik om te verstaan dat terwyl my kind op skool is, kan hy nog nie self onderskei tussen die waarheid en die leuen nie. Dit is nie moontlik dat sy vanaf haar eerste skooldag so toegerus is met die geloofswapens dat sy nie die leuens van die wêreld sal glo nie. As ons dít verstaan, sal ons verstaan waarom Marx die onderwys in die hande van die staat wil hê. Dan kan jy die kinders breinspoel; dan is die volk syne.
Juis daarom is dit my verantwoordelikheid om my onmondige kind teen ’n nie-Christelike onderwysbestel te beskerm.
Die vraag is nou:
Kan ek my kind aan die staat toevertrou?
Geen ouer kan hierdie vraag antwoord sonder die regte inligting tot sy beskikking nie. Daarom wil ek u ’n klein kykie gee van wat vandag in die staatskole geleer word. U verantwoordelikheid voor die Here is om hierdie inligting te weeg en aan die Bybel te toets. Toets dit veral aan die belofte wat u voor die Here gemaak het en vra uself: Is dit tot eer van die Here? Mag ek my kind hieraan blootstel?
Hou ingedagte wat die Bybel leer: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie (Jer. 10:2a).
Godsdiens
Die Onder-Minister van Onderwys (mnr. Smangaliso Mkhatshwa) het in Julie 1997 by ’n kongres by UNISA dit duidelik gestel dat religieuse en spirituele ontwikkeling ’n wesenlike deel van die Nuwe Kurrikulum vorm. Dit is in al die vakke/leerareas ingewerk en dit moet op so ’n manier in klaskameraktiwiteite geïntegreer word dat alle religieë as ewe deugdig aan kinders voorgehou word. Skole mag nie langer uitkomste beperk tot die Christengeloof nie. Gelykheid van alle religieë, wêreldbeskouinge en kulture word dus nagestreef.
In die vak Lewensoriëntering vergestalt dit só:
In die Graad 4 Lewensoriënteringhandboek, deur Coe, Haden en Raubenheimer, moet kinders kennis dra van die Afrika-geloof waar voorvaders, die geeste van dooies, opgeroep word om saam fees te vier. Die voorvaders se hulp word gevra (bladsy 55).
Dis uit ’n Christelike hoek gesien suiwer afgodediens. Die Here verbied die oproep van afgestorwenes uitdruklik in Deut. 18:11 en noem sodanige praktyke gruwels. Hoe kan ’n Christenouer sy kind dan blootstel aan sodanige gebeure in die klas?
In ’n boek Commemoration Days – a Guide to public holidays & religious days celebrated in South Africa, uitgegee in 2002 en in Lewensoriëntering gebruik, word daar ondermeer só met die Christelike godsdiens gehandel:
Op bladsy 168 moet die kinders die vraag beantwoord: Is dit reg om te probeer om mense tot jou godsdiens te bekeer?
Bladsy 180: Voer debat oor die moontlikheid van die opstanding van Jesus.
Bladsy 182: Hou ’n hofsaak waarin die dissipels aangekla word van leuens wat hulle oor Jesus vertel as sou Hy die Messias wees.
Seker die grootste doelstelling van die vak Lewensoriëntering is om die kinders te begelei om te aanvaar dat alle godsdienste gelyk is. Daar word moeite gedoen om aan te dui dat godsdienste baie in gemeen het en dat dit eintlik onnodig is om te dink dat jou godsdiens die enigste een is wat reg is. Jaar na jaar word die onderwerpe in Lewensoriëntering so uitgebou dat die kinderhart stelselmatig omvorm word tot op die punt waar Bybelse en heidense waarhede so met mekaar vermeng geraak het dat jou kind alle standvastigheid verloor.
Onthou nou, kinders kan nie onderskei nie en leer dit as die waarheid.
Navorsing in die VSA toon aan dat, as gevolg van die staatsonderwys, tot 80% van alle christenkinders wat in staatskole was, na hulle eerste jaar op universiteit kerklos raak. Hierdie is ’n geweldige belangrike stukkie inligting aangesien jou kind deel van die statistiek kan word as jy nie jou verantwoordelikheid nakom nie.
Geskiedenis en breinspoeling
In ’n standaardiseringsvraestel (2008?) van die staat word die volgende vrae aan leerlinge gestel:
3.3 Watter bevolkingsgroep het die minste geld vir onderwys tussen 1950 en 1980 ontvang?
3.4 Kinders word gevra om 'n tabel te teken waarin gewys word hoeveel geld aan wit onderwys en hoeveel aan swart onderwys spandeer is.
3.6 Verbeel jou dat jy 'n leerder aan 'n skool in Soweto gedurende die 1960's is. Hoe sou ongelyke besteding aan onderwys jou beïnvloed het? Lys VIER punte.
Vraag 4 se opskrif is "Gedagtes aan Steve Biko".
Die kinders word gevra om 'n plakkaat te maak wat 'n Steve Biko uitstalling by die Apartheidsmuseum adverteer. Die kriteria is o.m.: "Hoe suksesvol jy die gedagtenis van Steve Biko en sy idees en ideale vasgevang en oorgedra het."
Kan u sien wat die onderliggende doelstelling met hierdie vrae is? Die regering wil ’n misplaaste skuldgevoel by u kind kweek oor wat in die verlede gebeur het. Dit is misplaas omdat die werklike agtergrond van die gebeure nie vir hulle vertel word nie.
Seksonderrig
In ’n graad 7 Lewensoriënteringhandboek wat algemeen deur skole in ons omgewing gebruik word, word die kinders geleer hoe om te voorkom dat ’n meisie swanger word. Wat meer is, een van die maniere wat hulle dan geleer word, is onttrekking. Teenoor “intercourse” noem hulle dit “outercourse”.
As kinders op hierdie jong ouderdom al met leermateriaal met seksuele inhoud gekonfronteer word, is dit geen wonder dat die grootste verbruikers van pornografie tussen die ouderdomme van 13 tot 17 jaar is nie.
Verder word kinders, jou kinders, nie geleer dat dit sonde is om voor die huwelik seksueel aktief te wees nie, maar hoe om veilig te wees. Elke ouer wat die Here lief het, mag tog nie sy/haar kind blootstel aan ’n onderwyssisteem waar die waardes en die beginsels van die Woord van die Here vertrap word nie.
Die vraag is of dit verantwoordelik is voor die Here om jou verbondskind hieraan bloot te stel? In Amerika en hier plaaslik is die resultate van seksonderrig op ’n jong ouderdom dieselfde, nl. Kinders raak op ’n baie jong ouderdom seksueel aktief. In Suid-Afrika is meer as 60% van hoërskoolkinders seksueel aktief.
Jy kan tog nie jou kind in ’n hok met slange sit en sê: Pas op dat jy nie gepik word nie! Dit is nie die kind se verantwoordelikheid om nie gepik te word nie. Dit is jou verantwoordelikheid om hom/haar nie in die hok te laat beland nie.
Evolusie
Makro evolusie, dit is die idee dat lewe progressief vanaf nie-lewende materie tot by die mens opwaarts ontwikkel het, vorm die grondslag van die Suid-Afrikaanse onderwys.
Die Bybelse skeppingsleer word as fabel of storie aan die kinders voorgehou en die teorie van die evolusie, want dit kan nie bewys word nie, word aan jou kind as die waarheid geleer. U mag dalk dink dat hierdie saak nie so belangrik is dat ek my kind in ’n Christelike skool moet plaas nie.
Sien u dit dan nie?
Dit ontken die Godheid van God.
Dit ontken die gesag van die Skrif.
Die aanslag is groot
Daar is natuurlik nog baie ander sake wat ons hier kan lys, maar ek oordeel dat hierdie genoeg is dat u onder die indruk kan kom van die doelstelling van die onderwys van die staat. Die staat se oogmerk is om jou kind se hart te roof. Hulle wil nie van jou kind ’n goeie gereformeerde landsburger maak nie. Hulle stel nie belang dat sy haar eie identiteit behou en lief is vir haar God en haar volk nie. Die staat se doel is om jou kind los te maak van sy God en sy volk. Hulle wil identiteitslose burgers hê wat in alles van die staat afhanklik is. Hulle wil jongmense hê wat aan niks en niemand verbonde is nie. Hulle soek useful idiots.
Wat besef moet word, is dat die Afrikaner by ’n kruispad in sy voortbestaan gekom het. Reg deur die wêreld word dit erken dat onderwys een van die mees kragtige middels is om kinders van hulle voorgeslagte te vervreem en identiteitsloos te maak. Wanneer die kinders van ’n volk van kleins af blootgestel word aan ’n onderwysstelsel wat direk in konfrontasie staan met dít wat in die bepaalde volk se kerke en huise geleer word, is dit bykans onmoontlik om die volk se eie taal, kultuur en godsdiens by daardie kinders geliefd te maak. Ouers beleef hoedat hulle kinders van hul vervreem raak aangesien hulle elke dag gevoer word met die vreemde ideologieë van ’n nie-Christelike onderwysstelsel.
Die realiteit is dat ouers en die kerk nie genoeg tyd per dag tot hulle beskikking het om die vreemde lewensbeskouing waaraan hulle kinders blootgestel word te absorbeer nie. Ons kinders word vir ses of sewe ure per dag, vyf dae van die week, blootgestel aan ’n ideologies-gedrewe onderwysstelsel, daarteenoor het ouers miskien een tot twee ure per dag om ideologie te vervang met Christelike waardes.
U moet verstaan: Die aanslag teen u en u kind manifesteer in die onderwys deur middel van ’n aanslag teen die Verbond en alles wat daarmee saamgaan. Die gesag van die Skrif –die Verbondswoord, die Godheid van ons Vader – die Verbondsgod en die gesag van die Verbondsouer word bevraagteken en afgebreek.
Hoor wat sê die Here Jesus oor hierdie saak:
’n Blinde kan tog nie ‘n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie? ’n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees (Luk. 6:39-40).
Jy kan nie die opvoeding van jou kinders oorlaat aan ’n staat wat geestelik blind is nie. Deur die onderwys maak jy dissipels. Die leerling word gaandeweg soos sy leermeester, wat beteken dat die kind gaandeweg die dinge wat die staat hom leer gaan begin leef.
Sommige ouers redeneer dat hulle genoeg aandag aan die Christelike onderrig by die huis gee en daarom kan hulle kinders maar die staatskole bywoon.
As ons ná al die inligting wat ons ontvang het só redeneer, is ons nie dan maar weer terug by die stelling daar in die begin nie? Is so ’n redenasie nie maar net nog ’n bewys daarvan dat ons werklik nie deur Christus gegryp is nie en bereid is om met die wêreld saam te leef en ons kinders só te leer?
SLOT
Elkeen van ons wil hê dat ons kinders eendag gelukkig en suksesvol sal wees. Ware christenouers begeer daarby nog dat hulle kinders die Here elke dag al meer sal liefhê en dat hulle gehoorsaam aan hulle Hemelse Vader sal lewe.
Paulus herinner die jong Timoteus aan die onderrig wat hy by sy ma en ouma ontvang het en sê dan vir hom in 2 Tim. 3:14,15: Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.
Liewe br. en sr., u kan seker insien dat dit nie moontlik is nie om my kind bloot te stel aan ’n onderwysstelsel wat humanisties en sinkretisties gedrewe is en dan vir hom te sê: bly in wat jy geleer het, dit sal jou standvastigheid gee? Hoe is dit moontlik dat my kind moet bly in wat sy geleer het as die inhoud van haar onderrig reg teenoor die inhoud van die Skrif staan?
Liewe ouers u moet besef wat op die spel is. U moet besef dat dit hier gaan om die hart van jou kind.
Dalk is dit nodig dat ons met ’n woord van die Here Jesus afsluit:
... elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see (Mat. 18:6).
God se verbondskinders is vir Hom belangrik. Besef u die ontsaglike verantwoordelikheid wat u teenoor die Here het om die verbondskinders wat Hy aan u toevertrou het, vir Hom groot te maak?
Moenie toelaat dat enige wêreldse oorweginge of redenasies u van hierdie verantwoordelikheid vervreem nie. Die groot en magtige God wat ons aanbid, gaan van u rekenskap vra.