'N VLAG VIR DIE AFRIKANERVOLK

Ons leef al langer as twee dekades onder 'n vreemde heidense vlag in Suid-Afrika, maar daar sal reeds gedink moet word aan die toekoms en watter vlag ons as ons nasionale simbool wil gebruik as ons die dag die juk van die kommuniste afgooi. Om hierdie debat te begin is dit goed om weer na die geskiedenis van die sogenaamde "Republiekvlag" te kyk. RENCIA DE VILLIERS van die AFRIKANER NASIONALISTIESE BEWEGING neem die saak in oënskou.

"'n Land se vlag is 'n heilige simbool van sy oorsprong, geskiedenis en grootheid . Dit wapper oor land en see en in die lug, en deur die eeue heen was die mens gewillig om die hoogste offer, sy lewe, vir die verdediging daarvan te gee." Hierdie simbolisering van 'n volk se identiteit is 'n suiwer blanke begrip. Dit versinnebeeld jou herkoms sowel as jou toekoms. ‘n Eie kenmerkende nasionale vlag is die algemeen erkende simbool van eie nasieskap en in die geval van 'n vrye en internasionaal erkende volk is dit onontbeerlik. Daarmee saam gaan ook die landswapen en die volkslied. Dit is die simboliese uiting van die nasionale gevoel. Solank nasionalisme in 'n volk leef sal die volk leef. "Ons helde sal eers sterf wanneer die ideale waarvoor hulle gesterf het, dood is." Dít is een van die grondbeginsels van die nasionalisme. Hierdie ideale word versinnebeeld in die vlae, wapens en simbole van ons land.

In die tyd van Romeinse heerskappy het die vaandeldraer vooraan geloop as die vyand gekonfronteer word. Hy was gewoonlik een van die dapperste van die koning of veldheer se soldate. In die geveg was die doelwit van die vyand om die vaandel te laat val waarop die stryd dan gewen of verloor is. Rondom die vaandeldraer was die stryd op sy heftigste. Later is daar ook 'n doek aan die vaandel vasgemaak sodat die ander dit beter van ver af kon sien. Nog later is doeke of vlae en baniere ook gebruik deur die kruisvaders, leenhere en ridders en dit is ook in stede opgehang. Die leeu en ander kentekens was op dié doek/vlag geborduur. So het Die Prins van Oranje Nassau 'n blou agtergrond met 'n goue leeu daarop geborduur en 'n blou kruithoring op 'n geel agtergrond gehad. Sy lafreie se kenmerkende kleur van hulle baadjies was oranje, wit en blou. Sy vlag was drie horisontale bane oranje, wit en blou. Vandaar die kleure van die Hollands Oos Indiese Kompanie (HOIK) - die vlag (oranje, wit en blou) wat deur Jan van Riebeeck hier geplant is op 6 April 1652. Dit is natuurlik ook die kleure van die latere Suid-Afrikaanse Republikeinse vlag.

Nasionale vlae is egter eers amptelik begin gebruik in die 18de en 19de eeu met die totstandkoming van nasionale state. Lande soos Denemarke (1219) en Nederland (die Prinsevlag wat, na die verowering van Den Briel deur die Watergeuse, saamgeneem is en die simbool in die stryd teen Spanje geword het) het reeds vlae gebruik lank voor hierdie tyd. Ons geskiedenis is besonder ryk en daarom ook versier met menige vlag waarmee die uiteindelike Afrikanervolk ons diepste gevoelens wou toon:

1795: Vir 7 maande - Die Republiek Swellendam.

1835: Die Voortrekkervlag

1839 - 1843: Republiek van Natalia

1854 - 1902: Oranje Vrystaat

1852 - 1902: Transvaal (Die Zuid-Afrikaanse Republiek)

1857 - 1860: Republiek van Lydenburg (die Nederlandse vlag)

1874 - 1875: Kruisvlag van ZAR (Die "Burgersvlag")

1882 - 1885: Republiek Land Gosen

1883 - 1885: Republiek Stellaland

1884 - 1888: Die Nuwe Republiek

Kleure van die bane op die vlag het elkeen sy eie betekenis. So ook die tekens wat daarop verskyn. Die kleure van die Vierkleur is groen (jeug) rooi (bloed- ons gee ons lewe om ons land en volk te beskerm) wit (reinheid, regverdigheid van ons saak) en blou (hoop op die toekoms). Na die Engelse Oorlog het 'n vreemde vyandige vlag vir agt jaar oor ons koppe gewaai. Dit was natuurlik die Union Jack. In menige hart wat nog gebloei het oor vrou en kinders wat in die kampe gesterf het, het ook die vurige wens geleef om hierdie vlag af te ruk en ons eie weer te laat wapper in 'n eie Republiek. Die onreg wat die Afrikanervolk onder die Engelse moes verduur, het hulle vasberade gemaak om nie die vyand die bevrediging te gee dat hy suksesvol was in die vernietiging van die Afrikanervolk nie. Stadig maar seker het die Afrikanernasie daarna weer opgestaan uit die as.

Met Uniewording in 1910 word die vier provinsies van Suid-Afrika verenig. Maar dit was ook deel van die geboortepyne van die Republikeinse droom van elke ware Afrikaner – om vry van oorheersing te wees. Vanaf 1910 tot 1928 waai die Natalse vlag oor Suid Afrika. Dit was 'n rooi vlag met die Uniewapen op 'n wit kol en dit is die "Red Duster" genoem. Die Afrikaner verdeel in hierdie tyd in twee groepe. Groepe een was diegene met Engelse harte wat buk onder die juk van die oorheerser en sy hand kus. Groep twee was die Afrikanernasionaliste met Boereharte wat alles van die Engelsman verwerp het.

Op 26 Augustus 1914 word die Nasionale Party gestig. In 1924 kom hierdie party saam met die Arbeidersparty van kol Creswill aan bewind . Dr. Malan is Minister van Binnelandse sake en die taak om ‘n eie nasionale vlag te bekom het op sy skouers geval. Genl. Hertzog se beleid van "Suid-Afrika eerste" het 'n groot invloed gehad op die behoefte van baie Suid-Afrikaners om 'n eie vlag te kry. Malan dien kort na sy inswering as minister 'n wetsontwerp daaroor in. Jan Smuts vra uitstel vir 'n jaar en dit word toegestaan. Dit word al hoe duideliker dat Jan Smuts en die Engelse faksie en hulle koerante geen sin het in enigiets waarin die Union Jack nie ‘n baie prominente rol speel nie. Gou blyk diepgaande verskille tussen die twee partye oor weglating van simbole wat die Britse verbintenis aandui. 'n Kommissie word aangestel om 'n aanvaarbare vlag voor te lê. Uiteindelik word besluit op die "Eric Walker"-vlag, wat saam met die Union Jack gehys word. Die voorstel word aan die verskeie leiers voorgelê. Die reaksie van die pro-Britte is totaal ongunstig. As hulle gedwing sou word om een te aanvaar dan sal hulle dit alleen doen as so 'n vlag as middel sou dien om Suid Afrika se vaskoppeling, so nie selfs sy blywende onderhorigheid aan Engeland te simboliseer.

Die Britsgesinde koerante trek daarna los en hulle word vurig ondersteun deur die "Sons of England". Volgens hulle sou die "Eric Walker"-vlag slegs 'n vermomde Vierkleur wees. Hulle glo die tyd vir 'n nuwe vlag is nog nie ryp nie. Kol Creswill begin in hierdie tyd ook besware van sy ondersteuners ontvang. Hy vra dus uitstel vir 'n jaar, wat teen dr. Malan se protes in toegestaan word. Die Opposisie sien dit as 'n teken van verswakking en meen dat hy, deur hard genoeg te agiteer, wel die saak op die langebaan kan laat skuif. Die parlementslede was skaars by die huis of die storm oor die vlag sonder die Union Jack bars los. Orals word daar vergaderings gehou. Sale word versier met alle groottes van die Union Jack en "patriotic songs" word gesing. "Flag committees" spring orals op. Die "Sons of England" het ook nie op hulle laat wag nie en konferensies, kongresse en verklarings is aan die orde van die dag. ‘n Petisie is selfs aan die koning gerig en mense op straat is gevra om te teken. Die Afrikaners met Afrikaanse harte het teruggeveg, hoewel minder luidrugtig. Daar is georganiseer. "Ons eie vlag"-komitees is gestig en het gevra om ’n "skoon vlag". Die Union Jack moet nie daarop verskyn nie. Daarna verskyn Tielman Roos op die toneel en maak saam met ander die tweestokvoorstel: Die Kruisvlag (rooi kruis op ’n groen veld) moet altyd saam met die Union Jack gehys word. ’n Nuwe kommissie moes nou opgestel word. Agter die skerms het die Suid-Afrikaanse Party (S.A.P) gewerk om mense te verhinder en te ontmoedig om op die kommissie te dien. Generaal Hertzog het teruggekom van oorsee en was vol moed dat die Engelse faksie met hom saam sou werk as hy die vlagkwessie op die langebaan skuif. Dr. Malan het hierteen geveg so hard as hy kan. Toe Malan dreig om te bedank uit die kabinet, belowe Hertzog egter om die vlagwetsontwerp deur te loods maar vra of die Union Jack as toegewing ook ingesluit kan word. Drie ontwerpe is uiteindelik ingedien deur die vlagkommissie. Twee van hulle het die oranje, wit en blou bane gehad en 'n derde was 'n rooi kruis met wit omlyn op 'n groen agtergrond. Die "Flag committees" het egter met hernude ywer tekere gegaan en geskreeu "..... nothing but the Union Jack!". Van Afrikaanse kant was daar ook nie veel entoesiasme vir die Kruisvlag nie. Die S.A.P. wou 'n vlag hê wat 'n kombinasie van die twee Republiekvlae en die Union Jack moes wees. N. J. van der Merwe sê op 2 Mei 1927 aan 'n groep studente wat hy toespreek die volgende: "So 'n vlag sal verbasend goed verkoop in Basoetoeland. Die meide sal hom almal vir ’n kopdoek wil koop!" Dr. Malan noem dit 'n "ware afgryslikheid wat, as dit aanvaar was, Suid-Afrika stellig die spot van die hele wêreld sou gemaak het".

Generaal Hertzog kom met ‘n nuwe voorstel. Die oranje wit en blou horisontale bane met ‘n skild op die middelste baan wat in vier dele verdeel word waarin die drie vlae en 'n suiderkruis op blou agtergrond vertoon word. Hierdie vlag is die "Skildvlag" of "Kisvlag" genoem. Dit was ook nie goed genoeg nie. Die stryd het nou al drie jaar geduur en Afrikaners het agter gekom dat sommige van hulle leiers skrik en terugdeins, wanneer die Engelse genoeg lawaai maak. Uiteindelik is op die Unievlag besluit soos ons hom vandag ken en kon die wetsontwerp finaal deur die parlement geloods word. Die Unie het hierna twee landsvlae gehad – die nasionale vlag waarvan die gebruik onbeperk is en die Union Jack wat slegs op gespesifiseerde plekke saam met die nasionale vlag moes waai. In 1955, toe adv. JG Strydom eerste minister van Suid-Afrika was, word die wet so verander dat die nasionale vlag die enigste vlag word. Op 31 Mei 1961 word Suid-Afrika 'n Republiek en die Unievlag word net so oorgeneem as die vlag van die Republiek van SuidAfrika. Hierdie vlag het gewaai oor die Republiek tot 1994.

Hoe sal die vlag van 'n toekomstige Afrikanerrepubliek lyk? Sal ons die ou Unie-/Republiekvlag onveranderd gebruik? Daar is natuurlik baie Afrikanernasionaliste wat steeds glo dat daardie vlag "vuil" is. Dit is so gebore om die vyande van Afrikaner-nasionalisme ter wille te wees. Daarom glo baie Afrikanernasionaliste dat ons in die toekoms die geleentheid sal kry om ons vlag "skoon te maak". Dan vergestalt hy ons stryd en ons oorwinning. ’n Goeie voorbeeld is die ANB se eie vlag. Ons moet weer 'n vlag oor ons koppe kan laat waai wat reg sal kan laat geskied aan die woorde van die Vlaglied:

Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:

Wat beteken jou vlag dan Suid Afrika?

Ons weet hy's die seël van ons vryheid en reg:

Vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg.

Die pand van ons erfenis, geslag op geslag,

Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag.

Ons nasie se grondbrief van eiendomsland,

Uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.

Oor ons hoof sal ons hys,

in ons hart sal ons dra,

Die vlag van ons eie Suid Afrika.