Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Spaar jouself teleurstelling deur vroegtydig vrede te maak met die feit dat jou grootste opoffering moontlik die minste dank sal kry – en moenie jou daardeur laat ontmoedig nie; dit was nie die doel van jou taak nie.
DIE VROU IN DIE POLITIEK
AAN STILLE WATERS
Lees reeks by Aan Stille Waters - Langenhoven
"Nasionalisme sal nie standhou as hy van die politiek af buite toe moet vloei nie, maar alleen as hy van buite af in die politiek invloei."
Generaal Smuts het Saterdagaand die studente in die CJV-saal op Stellenbosch toegespreek by geleentheid van die openingsaand van die Unie-Debatsvereniging, en ek in die Landbousaal, in teenwoordigheid van 'n groot kampvuur voor die deur, op uitnodiging van die Vroue-tak van die Nasionale Party. Wat die generaal se ondervinding was weet ek nie; myne was, soos gewoonlik daar, dat ek meer besieling daarvandaan gebring het as wat ek daarheen geneem het. (Hier volg enkele uittreksels uit Langenhoven se toespraak):
Ek het die gehoor toegespreek soos van ouds af die beleefde gebruik was, as "dames en here". Maar die dames is nou nie meer akademies teenwoordig nie; hulle is volle deelnemers aan die verrigtinge: ja, dis juis op hulle uitnodiging wat ek vanaand hier is. Miskien sal die nuwe betrekking 'n geskikte geleentheid verskaf om iets te sê oor die werk van die vrou in die politiek. Ek was een van die teëstemmers van vrouestemreg, nie omdat ek beskou het dat die vrou nie goed genoeg is vir die politiek nie, maar omdat ek beskou het dat die politiek nie goed genoeg is vir haar nie. Noudat sy daarin is moet sy hom maar goed genoeg maak.
Een van die argumente vir die toekenning van die stemreg aan die vrou was ook juis dat sy die politiek sou veredel en vir die geestelike belange van die volk sorg waar die man nog altyd meer vir die stoffelike belange gesorg het. Die goed dat ons die geestelike sy in die oog hou – dis deur die gees wat die wêreld geregeer word. Maar die ander sy is netso noodsaaklik. Ek hoop almal van ons, en die spreker ook, wat dit die minste verdien, is op weg na die hemel. Maar intussen is ons nog hier op aarde en ons moet ons hou aan die voorwaardes wat ingestel is vir ons bestaan hier. Toe die Fariseërs beswaar gemaak het teen Christus omdat Hy dit op Hom geneem het om aan die verlamde te sê: "Jou sonde is vergewe", het Hy hulle gevra wat makliker was, om die man se sonde te vergewe of hom te genees. Die vergiffenis het met sy siel te doen; die genesing met sy liggaam. Ons is almal meeste begaan om vir ander mense se siele te sorg en vir ons eie liggame. En daarom, wanneer ons 'n man alte veel oor idealisme hoor preek, is ons geneig om wantrouig te word.
As jy 'n klomp werkvolk gehuur het vir jou diens en jy kom op die land en jy kry hulle dat hulle daar 'n geestelike geselskap sit en voer, sal jy nie tevrede wees nie. En so sal hulle nie tevrede wees as jy hulle in die aand vir hulle dag se arbeid wil beloon met 'n idealistiese leerrede in plaas van die stoffelike gasie nie. So ook, terwyl ons van die werkkring van die vrou praat, haar hoogste diens is aan die suigeling. Maar voordat sy met sy geestelike opvoeding begin moet sy sorg dat hy liggaamlik melk kry om te drink. En ook later wanneer sy sedelike opvoeding reeds aan die gang is, moet sy nog maar aanhou om vir sy stoffelike kos en klere te sorg. Hoe verdeel ons dan die gebied van die twee pligte?
Weer hoef ons maar na ons hoë Gesag terug te gaan. Dáár vind ons die voorskrif, en dit geld ook as die beste politieke stelreël: "Soek eers die koninkryk van die hemele en die ander dinge sal jou toegevoeg word." Met ander woorde, jou liggaam is daar met sy begeertes en behoeftes, maar laat jou liggaam agter jou siel aangaan en nie jou siel agter jou liggaam aan nie. Die moeder begin met die melk vir die suigeling maar voor dit was daar die geestelike moederliefde vir aansporing tot die liggaamlike versorging.
Die Nasionale Party, waarvan die vroue wat vir ons vanaand hierheen genooi het, nou lede is, het so begin: met die besieling van skone idealisme. Soos generaal Hertzog gisteraand in die Kaap gesê het, ons was ontevrede dat die Afrikaner agtergestel word by die Brit en dat Suid-Afrika agtergestel word by Groot-Brittanje. Ons was ontevrede om voort te gaan in 'n toestand van minderwaardigheid, En daarom, sodra ons aan die bewind gekom het, het ons vir die geestelike gelykwaardigheid van die Afrikanervolk gesorg. Ons het die erkenning van ons taal en die handhawing daarvan in die diens van die Staat bewerkstellig sodat ons nie langer minder sou wees as die Engelsman en die Hollander en die Swarte nie. Ons het ons eie vlag gehys sodat ons nie langer minder sou wees as die Duitser en die Turk nie. Daarmee saamgaande het ons ons soewereine onafhanklikheid erken gekry. Dit is 'n paar dinge as voorbeelde van die uitwerking van die gees waarmee ons Party van die begin af besiel was. Hy het ons ons nasionale hoogmoed gegee waarop elke selfstandige volk geregtig is; hy het ons ons waardigheid leer besef.
So het die Nasionale Party dan sy koninkryk van die hemele gesoek by die besieling van idealisme, en daarop het hy toegekry die materialistiese dinge vir die liggaamlike heil van sy volk.
En hier kom die nuwe politieke krag nou by met die nuwe burgerskap van die vrou. Wat bly daar vir haar om te doen? Ons grootste probleem is nog onopgelos. Wat daarvan as ons ekonomies en maatskaplik en burgerlik oorrompel word deur die swart wolk wat oor die horison van ons toekoms lê? Ons het die nuwe getalle van wit kiesers wat nou op die stemlys bykom baie nodig om die witman se heerskappy te verseker. Oor wat daar anders gaan gebeur in die toekoms hoef ons nie te spekuleer nie; vandag reeds is die politieke meerderheid in die Kaapprovinsie die uitwerking van nie-blanke gewig in die skaal. En hier op Stellenbosch self, die intellektuele middelpunt en uitgangsbron van blanke Suid-Afrika, sal die volgende verkiesing afhang van die stem van die vrou.
Ná hierdie taak bly daar nog 'n taak vir die vrou. En dit is om te waak oor die skoonheid van ons politiek. Laat die vrou, die nuwe burgeres, dit as haar besondere idealistiese taak beskou om materialistiese korrupsie uit ons burgerlike lewe weg te hou. As hier 'n kandidaat kom om met roekelose beloftes van Staatsvoorregte boere-stemme te koop, en spoorwegstemme, en arbeiderstemme, en leraarstemme, sê vir hom: "Jy wil ons verteenwoordig? Jy is die laaste man wat vir daardie diens deug; jy is sonder besef van verantwoordelikheid. Dis 'n belediging vir 'n vrou om haar ondersteuning te vra vir 'n onbeskaamde demagoog."
Maar ten slotte, bly daar die hoogste diens van die vrou, en dit is om tot nasionalisme te besiel by die nasionale politiek verby. Nasionalisme sal nie standhou as hy van die politiek af buite toe moet vloei nie, maar alleen as hy van buite af in die politiek invloei. Dit sal alles niks help om te probeer om van sulke platforms soos hierdie, en van kongresse en pamflette en koerant-artikels en parlementsittings, nasionale propaganda uit te saai om die volk nasionaal te maak nie. Die nasionalisme moet van die volk af kom, uit die daaglikse omgang en uit die huis en uit die hart. As ons daar getrou is om die nasionale brandmerke van ons kudde te bewaar, sodat ons vir mekaar en vir die buitewêreld daaraan kenbaar is, soos 'n Engelsman van 'n Duitser uitgeken word en 'n Duitser van 'n Fransman, sal ons politiek vanself die uitdrukking daarvan wees. Dit was die diens wat die vrou bewys het voordat sy nog op die kieserslys gekom het, daarom is die Nasionale Party in sy oorsprong en in sy groei aan haar besieling te danke. As sy daardie buite-politieke diens bly voorsit sal die volk geen rede hê om dit te betreur dat daar nou binne-politieke krag aan haar toegevoeg is nie.