Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense verskil van mekaar en die Here loop met elkeen 'n unieke pad; ons moet dit leer verstaan en ophou om bemoeisiek te wees. Petrus het hom bemoei met wat Jesus se plan vir Johannes is, maar Jesus het Petrus geantwoord dat dit niks met hom te doen het nie, dat Petrus vir sy eie lewe moet sorg en Hom moet volg. Ons oordeel mekaar so vinnig – klim uit hierdie strik uit en sorg dat jou eie lewe met God daarin in orde is.
VEERPOOT SE VLUG
Dr JP Botha
(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies
In die skadu van die bloekombome op die werf van die ou plaaswoning op Outhomasseloop, staan 'n jong seun, Henkie Basson, met die een hand beskermend oor sy oë terwyl hy met gespanne aandag drie bewegende stippeltjies in die blou lug volg. Soms glimlag hy senuweeagtig wanneer die dynserige afstand dreig om die drie duiwe daarbo voor sy turende oë te laat vervaag.
Agter hom teen die lang muur van sy pa se waenhuis en stoor, waarvandaan die aanhoudende pronkgeluide van die res van sy duiwegemeenskap weerklink, het hy sy goed ingerigte duiwehok gebou. Maar op die oomblik gun Henkie sy duiwehok geen stukkie aandag nie. Die drie duiwe wat so swierig daarbo in die blou ruimte sirkel, is vir hom soos die appel van sy oog; dis sy pronkpaar daardie, die enigste posduifpaar wat hy besit en die derde is 'n jong mannetjie wat deur sy trotse ouers op een van sy proefvlugte vergesel word.
'n Paar maande gelede het Henkie al sy spaargeldjies bymekaar geskraap om die trotse besitter van daardie spogmannetjie te kon word. Veerpoot het ook sommer spoedig sy naam ontvang, aan die twee netjiese vereklossies aan sy bene ontleen. Hy is 'n egte posduif, opreg en vinnig op die vlerk. Henkie koester ook groot verwagtings van die jong mannetjie wat nou alreeds tekens begin toon dat hy maklik die voortreflike eienskappe van sy pa gaan ewenaar.
Hy sien hoe die drietal hoog bokant die bome 'n laaste draai gooi en dan doelbewus met lang, vinnige hale begin terugbeweeg, die jonge in die middel. Hy weet dat hulle aanstons laag oor die dak van die huis gaan sirkel voordat hulle een vir een selfvoldaan op die hok neerstryk.
Sy oë bly genoeglik op die drie naderende gestaltetjies gevestig. Meteens verstar sy blik en 'n oomblik hang sy mond benoud oop voordat hy vinnig sy twee voorvingers in sy mond plaas en 'n langgerekte, deurdringende fluit die lug instuur. Dog Veerpoot, die mannetjie, het nog voor Henkie die gevaar gewaar. 'n Blouvalk het skielik van êrens uit die bloute verskyn en val met geslote vlerke duiselingwekkend op die drie wit duiwe af. Henkie hou sy asem in spanning op en fluit weer met alle mag want dit skyn asof die duiwe van die naderende onheil heeltemal onbewus bly. Toe dit vir hom lyk asof die blou gevaarte nou enige oomblik op sy prooi gaan neerskiet, sluit hy moedeloos sy oë en sien in sy gedagte reeds die lug gevul met wit donsies wat stadig neerfladder.
Maar toe hy weer kyk, trap hy opgewonde van blydskap rond! Die duiwe het op die laaste oomblik hul wilde vaart met 'n blitsvinnige sywaartse swenk gestuit en die valk het soos 'n klip vlak voor hulle verbygeval. Dog nou het die groot kragmeting begin. Die wyfie en haar seun het paniekerig weer opwaarts geskiet en seil nou soos twee wit pyltjies weer nader. Toe die valk 'n paar oomblikke later 'n aantal meters laer af in die lug tot stilstand kom, gewaar hy alleen die fladderende gestalte van die groot duifmannetjie wat, asof hy skoon van stryk af is, besig is om in die lug rond te maal.
Die valk skiet verwoed omhoog maar die kragtige vlerke van die duif het meteens vinnig in beweging gekom en teen sy hoogste spoed gly hy voor sy aanvaller uit.
Henkie se oë glinster van trots met vrees gemeng. Uit die hoekie van sy oog sien hy die ander twee duiwe hygend op die duiwehok neerflap, maar sy aandag bly daarbo in die lug vasgenael. Skielik bestorm hy die leer wat langs die waenhuis lê en plaas dit regop teen die muur. Hy klouter soos 'n kat teen die sporte op en 'n paar oomblikke daarna dans hy opgewonde op die platdak rond! Dit skyn vir hom asof die ellendige valk stadig maar seker sy spogduif inhaal. Hulle is al so vér weg dat hy sy oë moet inspan om die verloop van die wilde wedren te volg.
Kyk... daar het Veerpoot skielik onverwags met gespande vlerke soos 'n vallende klip vlakvoor die gesperde snawel van sy aanswiepende vyand na benede geskiet en die volgende oomblik kom hy soos 'n windswael op sy spoor terug! Toe die valk daarin slaag om sy fluitende vaart te stuit is hy reeds ver agter. Hy sit egter onmiddellik die meedoënlose agtervolging voort... Nader en nader kom die duif, reguit in Henkie se rigting aangevlieg. Hy hou met ingehoue asem die gevaarlike wedren dop. Dit skyn asof die roofvoël nou nie meer op sy prooi inhaal nie en dis duidelik dat die duifmannetjie besig is om die laaste afstand met verdubbelde vaart af te lê. Nog 'n paar oomblikke van ademlose spanning volg, waarna die duif met die valk slegs 'n paar meter agter hom behendig na benede duik en met 'n wye swaai langs Henkie op die dak te lande kom, terwyl die bloeddorstige roofvoël met wydgespande vlerke krassend die hoogte inskiet. Die seun het haastig op die duif toegestrompel en hom in sy hande geneem waarna hy liefderik die bewende liggaam streel.
Toe hy na die leer toe stap om af te klim, sien hy sy pa onder staan. Hy klouter haastig met die duif in die een hand na benede.
"En toe, kêrel, wat staan jy daar bo my dak so lendelam en trap? Jou ma het al tweemaal geroep om te kom eet, maar dit lyk my as dit vakansie is het julle ook nie eens meer ore nie. Wat gaan met die duif aan; het die valk hom gejaag?" gaan sy pa in een asem voort.
Aan tafel vertel hy met opgewonde handgebaar die besonderhede van die pasafgelope avontuur en sy moeder luister geïnteresseerd, maar sy pa meen dat sy liefhebbery net 'n onnodige uitgawe en 'n nuttelose tydverdryf is.
"Waarom doen jy nie liewers nuttige houtwerk daar by my skaafbank as om heeldag met jou spul duiwe te lol nie?"
"Ag Pa, die houtwerk is mooi, maar dis nie vir my lekker nie want die hout is dood en jy kan daarmee maak net wat jy wil, maar ek hou van die lewendige diere, van die duiwe omdat hulle kan vlieg en pronk..."
"Ag ja, ou man," laat sy ma hoor, "jy was nooit juis 'n liefhebber van troeteldiere nie. Die kind aard na my; laat hom maar die plesier hê..."
"Og wat," sê sy pa, "nou toe dan. Maar ek wonder of jou neef Piet nie straks vir hou kinderagtige spel sal lag as hulle môre hier op pad Bloemfontein toe aankom nie."
"Pa, ek dink Piet hou self duiwe in Bloemfontein aan want verlede keer toe hy geskryf het dat hulle kom kuier, het hy my 'n hele klomp dinge gevra hoe ek my duiwe behandel, watter kos ek hulle gee en so aan."
"Nou toe nou, dit ook nog..."
En Piet was ook werklik net so 'n geesdriftige duiweboer soos sy neef Henkie, want die volgende middag nadat hy en sy ouers opgedaag het, was die twee gou-gou by die duiwehok aan die gesels.
"Wat sou dan van die seuns geword het?" wou Piet se pa naderhand weet.
"Swaer, ek dink hulle is natuurlik daar buite by Henkie se spul duiwe. Die kêrel wil mos mal word oor die goed."
"Ag-nee, maar dan is Piet seker in sy noppies want hy is net so 'n ywerige duiweboer."
Hulle stap by die agterdeur uit na die twee seuns toe. Henkie beduie vir sy neef hoe rats Veerpoot sy duik uitgevoer het om aan die grypende kloue van die blouvalk te ontkom en die twee mans luister geamuseerd. Henkie se vader bespeur die opgewonde tinteling in sy seun se oë en 'n skielike gedagte kom by hom op. Na 'n rukkie sê hy: "Boet, as daardie duif van jou regtig so baie beteken, moet hy mos ook kan doen wat hulle voor afgerig word, om berigte oor lang afstande te vervoer soos in oorlogstyd. Ek wonder of ons hom nie kan toets nie. Hoe sal dit wees as Piet hom saamneem Bloemfontein toe en dan daar los sodat hy hiernatoe moet terugvlieg?"
Henkie voel dat die eer van sy spogduif op die spel is maar voel darem nog nie baie geneë om die uithoudingsvermoë van die dier so onnodig op die proef te stel nie; dog sy pa vervolg: "As hy weer hier uitkom gee ek jou honderd rand; hoeveel duiwe kan jy daarmee koop?"
Die seun se oë glinster.
"Minstens een goeie, pa. As hy net nie iets oorkom nie sal die vlug vir Veerpoot sommer kinderspeletjies wees."
"Ag ja Henkie, ek is seker hy sal dit selfs van Kaapstad af lag-lag maak," moedig sy neef hom aan.
Die volgende môre het Piet en sy ouers weer na hul tuiste vertrek en in 'n klein koutjie het Veerpoot, die kranige duifmannetjie, eensaam in die hoekie van die motor heen en weer sit en wieg terwyl die voertuig kilometer na kilometer oor die gelykpad brom.
Henkie het met weemoed van sy beste duifmannetjie afskeid geneem. Sê nou maar dis laaste sien, het dit deur sy gedagtes geflits, maar aan Veerpoot het hy gefluister: "Totsiens, ou maat, oor 'n dag of twee is jy mos weer terug hier in jou hok en die honderd rand in my sak..."
Die afspraak was dat Piet hom die volgende middag na hul aankoms goed moes voer en dan vir sy gevleuelde reis moes loslaat.
Die middag vroeg het daar 'n dynserige wolkebank rondom die horison gelê toe Piet nog met die posduif doenig was. Sy pa kom juis van buite af in.
"Dit lyk vir my of ons vanmiddag gaan reën kry. Dis maar goed dat ons besluit het om gister al te kom, anders kon ons maklik vandag miskien in slegte weer beland het."
Piet is besig om 'n klein papiertjie aan Veerpoot se been vas te maak. Daarna neem hy die duif na buite en pa en ma kom saam uit om te sien hoe die voël sy lugreis aanvaar. 'n Oomblik trap hy rusteloos op die oop handpalm van die seun rond en wip dan met harde vlerkgeklap die lug in. Bokant die huis begin hy vinnig hoër te sirkel totdat hy uiteindelik hoog in die lug 'n paar maal rustig op een hoogte bly draai. Skielik skiet die wit stippeltjie dan blitsvinnig doelbewus in die noord-oostelike rigting voort en verdwyn gou uit die gesig.
"Wêreld, Pa," laat Piet opgetoë hoor, "hy's vinnig, né? Die meeste duiwe draai baie langer voordat hulle die regte koers inslaan!"
"En wanneer dink jy kan hy daar wees?"
"Ag, as alles goed gaan is hy nog voor sononder daar. Ou Henkie het dié slag sommer maklik honderd rand verdien. Ek wens Pa wil met my so 'n weddenskap maak!"
'n Harde skaterlag begroet sy woorde terwyl die seun na sy eie duiwehokke aanstap om sy troeteldiere te gaan versorg.
Kilometer na kilometer gly Veerpoot hoog oor die Vrystaatse vlaktes heen. Sy vinnige maar reëlmatige vlerkgeklap word telkens afgewissel deur 'n klein pouse waarin hy na benede daal voordat hy weer onverpoosd op dieselfde hoogte voortsnel, voort na sy doelbewuste eindbestemming waar sy wyfie en die jong duif op hom wag en ook sy jeugdige baas wat angstig die tik van die ure tel...
Vér onder Veerpoot kronkel die spoorlyn en weerskante toe strek groen mielielande oor die bulte heen. Orals op die horison verskyn die wit krulle van stadig-opmekaarpakkende wolkbanke. Die duif moet hom nou kragtiger inspan om vinnig genoeg oor die weg te kom. Aanvanklik klim hy 'n entjie hoër die lug in ten einde buite bereik van die warrelende stof te kom en beur moedig teen die sterkerwordende lugstroom voort. Uiteindelik voel hy dat sy kragte tevergeefs op hierdie manier verspil word en vasberade duik hy met gespande vlerke sirkelvormig na benede totdat hy rakelings oor die boomtoppe heen weer vorentoe beweeg. Twee dowwe vliesies is beskermend oor die groot ronde oë gespan, sodat die stofdeeltjies skadeloos verbywarrel.
Die wolkestapels het intussen die lug bedek en enkele groot druppels begin geniepsig deur die vaart van die wind gedryf, van voor te slaan. Maar nog beur Veerpoot voort...
Meteens skeur die blitse krakend deur die lug, onmiddellik deur die rollende donder gevolg en toe bars die storm fel en hewig los.
Die moedige duifmannetjie besef dat die elemente sterker as sy vasberadenheid is en swenk grondwaarts. Verbouereerd wip hy tussen die takke van 'n kareeboompie in om skuiling teen die pietsende reënvlae te probeer vind. Die wind ruk aan die takke van die boompie en die moeë duifmannetjie klou krampagtig aan die tak waarop hy te lande gekom het, vas en wieg onrustig mee terwyl die storm onafgebroke woed.
Naderhand begin die wind bedaar maar dit reën nog sterk, een stryk deur. Veerpoot koes so goed as waartoe hy in staat is onder die beskermende lower weg en wag geduldig voort.
Die reën het uiteindelik sagter geword en naderhand opgehou. Nou is dit asof die duifmannetjie skielik besef dat hy geen oomblik langer meer kan vertoef nie want die son het reeds laag gesink. Hy wip versigtig tussen die takke van die kareeboom uit en vlieg laag oor 'n sorghumlandjie heen. Hy voel dat hy eers 'n bietjie kos sal moet bemagtig om sy leë krop te vul want die buitengewone inspanning en die koue van die reën het 'n brandende hongergevoel laat ontstaan.
Op 'n kaaltetjie in die land, vlak by 'n lae strooisie sak hy neer en vind spoedig heelwat koringkorreltjies waaraan hy smaaklik wegpik. Uit die lae opening van die pondok loer 'n jong nuuskierig na die pragtige groot wit duif wat hier so skielik op sy werf verskyn het.
Maar hierdie duif is mos heelwat groter as die wilde tortels wat heeldag in sy koring pla, dink hy. Hy is amper soos 'n jong patrys en sy vleis sal seker ook baie lekker by 'n potjie suurpap smaak... Hierdie laaste gedagte laat die ou jong versigtig op hande en voete by die deurtjie uitkruip tot aan die agterkant van die hut waar hy naarstiglik na 'n gooiding soek...
Net toe Veerpoot sy vere regskud om weer te laat spat, gons daar 'n klip met 'n aaklike woergeluid rakelings oor hom heen en slaan krakend teen die koringstamme vas. In sy beangste vaart duik die duif swenkend om die hut en vlieg so hittete die verslete hoedjie van die verbaasde ou man se kop af, wat handeswaaiend met 'n gehoei en 'n gehaits die vinnige vlugteling agternastaar totdat hy in volle vaart oor die hoogste koringtoppe verdwyn!
Aanhoudend spoed die uitgeruste duif nou oor die heuwels voort. Sy linkeroog meet die stand van die son teen die westerhorison en sy vinnige vlerkslae klief die wind met 'n eentonige sisgeluid op sy lang pad na die noorde.
Na enkele ure, toe die son pas agter die hoogste rant weggeduik het, gly die Vaalrivier se breë kronkels onder hom verby en sak hy vir die laaste keer grondwaarts om 'n paar oomblikke lank sy tam vlerke 'n bietjie skiet te gee voordat hy vasberade weer die skemer op sy laaste skof insirkel.
Henkie Basson sit met sy ouers saam aan tafel, besig om die aandete te geniet. Kort-kort dwaal die seun se oë onrustig na die venster wat in die rigting van die agterplaas wys. Oom Gert Basson merk die onrustige senuweeagtigheid. Hy voel glad nie spyt dat hy so 'n eienaardige weddenskap aangegaan het nie, al sou hy dit ook moes verloor. Om die waarheid te sê sal hy seker net so teleurgesteld as sy seun voel indien die duif nie weer opdaag nie. Hy het nooit kon dink dat die onskuldige liefhebbery van sy seun nog soveel aangename opwinding kon veroorsaak nie.
"En hoe laat verwag hy vir Veerpoot terug?" laat volg hy.
Die seun sluk swaar aan 'n broodkors maar kyk sy pa moedig in die oë.
"Hy moes al teen sononder hier gewees het, Pa. As hy net nie dalk teëspoed gekry het nie want ek het die heel middag onweer aan die suidekant gewaar..."
"Ja, moontlik het dit in Bloemfontein begin reën en het Piet besluit om hom nie vandag te laat vlieg nie," reken sy ma.
Maar Henkie sit opeens aandagtig en luister; buite is daar skielik duidelik die geluid van klappende vlerke in die donker hoorbaar. Hy spring van die tafel af op dat die stoel hard agter hom omtuimel en kies haastig die deur, terwyl oom Gert rustig opstaan en na die slaapkamer stap.
'n Oomblik later storm Henkie weer met 'n vreugdekreet na binne en plaas die moeë duif wat doodstil na sy asem sit en hyg, op die tafel neer onderwyl hy begin om versigtig die papiertjie aan sy been los te maak. Hy vou dit oop, maar die inkletters is bykans onleesbaar; dis duidelik dat die duif met water in aanraking was. Met moeite ontsyfer hy darem: "halftwaalf gelos... veilig aankom... onweer..."
"Sien Pa! Hy was in 'n storm; dis daarom dat hy so laat is! En toe my ou Veerpoot, is my ou duifie baie moeg? Ek wens jy kon my alles vertel wat jy van vanmiddag af moes deurmaak..." Hy streel hom liefkosend oor die kop en stap dan na buite om sy kampioen te gaan versorg.
Toe Henkie Basson na 'n rukkie weer terugkeer, lê daar twee vyftigrandnote langs sy bord.