HOE SAL HÝ NOU WEET?

KORSIES OP DIE RYGBYVELD (4)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Toe die legendariese Cliff Morgan die eerste keer as losskakel vir Wallis gekies is, ry hy die oggend van sy eerste toets op die openbare bus na die stadion, die ou Cardiff Arms Park.  Op die bus hoor hy die mense praat oor die nuwe losskakel, sonder om hom te herken as die vlugvoetige speler wat hulle elke naweek op die veld sien.  Hulle bespiegel ondermeer oor sy grootte, ensovoorts.

“Hoe de duiwel gaan hy die mas opkom teen daardie groot spelers?” vra een.  “Hy is ellendig kort – net ‘n stompie!  Ek wed jou hy weeg nie meer as tien stone nie.”

‘n Ander een reken nee,  hy is darem ‘n bietjie swaarder as dit en so raai hulle oor sy gewig.

Skielik draai een van die manne na Cliff en sê:  “Jy staan daar en sê niks.  Wat dink jý weeg Morgan?”

“Twaalf stone,”antwoord Morgan met oortuiging.

“Ag kaf, man!” kap die man terug.

“Ek sê jou dit is so,” hou Morgan vol.

Hierop draai die kêrel na sy maats en sê:  “Glo julle dit?  It’s always the same.  Them who knows bugger all about it do always argue.”