DIT NET OOR SPINASIE!

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Daar was dié aand vir die gesin ‘n gekookte ete op die tafel en almal het aan die heerlike disse weggelê, ook klein Jannie, maar aan die skeppie spinasie in sy bord het hy nie geraak nie.  Sy ma merk dit op en sê:  “ Eet jou spinasie, Jannie!”.

“Ag ma, dis sleg; ek wil dit nie hê nie.”

“So?  Wag maar,  die Here gaan jou nog straf oor jy so maak.”

Daardie nag word Jannie se ma wakker van swaar weer en die weerlig wat aanhoudend blits. Sy raak bekommerd oor Jannie en gaan na sy kamer toe, maar hy is nie in sy bedjie nie.  Toe sien sy lig in die kombuis en tref hom in die spens aan met ‘n groot bak spinasie en ‘n lepel in die hand.  Elke keer as daar ‘n  blits slaan en die weer dreun, dan druk hy ‘n lepelvol in sy mond en kou met mening, onderwyl hy kreun: “Al hierdie groot lawaai, en dit net oor ‘n ou bietjie spinasie!”