KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

EEN MAORIE IN DIE SPAN...

In 1971 is die eerste veelvolkige atletiekbyeenkoms in Kaapstad onder blyke van groot openbare belangstelling aangebied. Omdat dit 'n politieke waagstuk was, was baie mense onseker en selfs ontevrede oor hierdie gewaagde sosiale eksperiment.

Ivor Potgieter, die bekende atletiekafrigter, was een van die voorstanders van hierdie konsep, hoewel hy en andere deur heelwat mense gekritiseer is. Die aand vóór die groot byeenkoms bevind Gert Potgieter en Fanie du plessis hulle by Hannes Botha in sy woonstel waar verskeie internasionale gaste onthaal is. Ná die onthaal besluit Fanie om Ivor 'n streep te trek deur hom af te dreig, omdat hy so sterk ten gunste van die sogenaamde "oop" sport was. Hierdie plan van Fanie het toe vir Gert die ingewing laat kry om 'n polisievriend by die nabygeleë polisiestasie op Fanie se spoor te sit sodra hy met sy dreigement besig raak.

Toe Fanie deurkom na Ivor, skakel Gert van 'n ander telefoon af en ontbied die polisievriend met die opdrag om Fanie in hegtenis te kom neem. Intussen is Fanie in druk gesprek met Ivor:

Fanie: "Is dit Ivor Potgieter wat praat?

Ivor: "Ja, wie praat?"

Fanie: "Dit maak nie saak wie praat nie, jou volksverraaier! Jy is besig om ons Afrikanertradisies uit te verkoop met jou integrasiesport. Ek waarsku jou, as môre se atletiekbyeenkoms nie afgelas word nie gaan jy met jou lewe boet! Van jou soort gaan ons 'n voorbeeld maak."

Ivor, hewig ontsteld: "Besef jy dat jy my met moord dreig – dis mos sport en nie oorlog nie!"

Fanie: "Jy gaan met jou lewe boet, jou verraaier!"

Danksy Gert se tydsberekening verskyn die polisieman op daardie oomblik met 'n wolfhond by hom in die oop woonsteldeur-opening.

Polisieman: "Meneer, jy is in arres! Jou afdreigoproep aan mnr Potgieter is deur die speurders opgeneem. Steek jou hande uit!" Toe die boeie om Fanie se polse klem het die groot man hom asvaal geskrik.

Fanie: "Dit was net 'n grappie, meneer!"

Polisieman: "Meneer, 'n ander man se lewe is nie 'n grappie nie. Kom saam met my!"

Toe Fanie die trappe buite die deur onder polisiebegeleiding bereik, bars Gert en die ander uit van die lag. Dit was 'n treffer van 'n poets maar Ivor wat ná al die doodsangs die hele petale per telefoon aangehoor het, het dit seker die meeste van almal geniet...

Nou ja, een maorie in die span het toe die Afrikanervolk se val meegebring! En Fanie was toe reg...