DIE WIEL

PG du Plessis

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die wiel draai.

Onderdorp-kinders groei op met 'n drag griewe oor skaam-wees, ou-klere-dra, en die herinnering aan baie meerderwaardige blikke op hul verleë lewe. Hulle streef en kom bo. Hulle bly en ry blink, en hulle wys wat hulle altyd gesweer het toe hulle die binne-bitter van ek-sal-jou-wys gedra het.

Intussen gaan gesienemanskinders ten gronde, suip plase uit, bring fortuine deur, vermors erfgeld, skend familie-eer.

Nie altyd almal nie, maar altyd sommige.

Tot die dood weer sy hand oor die sand kom vee om die spulletjie gelyk te maak vir die volgende geslag se kasteeltjies.

So dink ek die dag toe ek by Van Niekerk se hek indraai.

Dis winter in die Noordoos-Vrystaat en die mielielande is gestroop van gesigeinder tot gesigseinder. Ek draai in tussen die swaar pilare waaraan die ysterhek, ten duurste ontwerp en vervaardig deur 'n Griek in Pretoria, swaai.

Die bome langs die laning wat oploop na die boerepaleis is een geslag oud. Want die wiel het gedraai: Van Niekerk het uit die onderdorp gekom tot die herehuis. En sy aankoms het hy met boompies bevestig. Eengeslag-boompies – ouer bome is andermansbome, eie bome is jammerlik jong.

Daar's 'n geskiedenis aan die Van Niekerk wat deesdae orals voorsitter is, en waar hy dit nie is nie, is hy ten minste direkteur. Die man wat nou sy plase laat bestuur deur B.Sc.'s, onderhandel oor groot stroper-aankope, en sy spogdiere op landbouskoue laat pryk, het in matriek nog met skoene geloop wat hy toe al self 'n vierde keer versool het.

Ek weet van die versoling, want ek het by hul huisie aangekom toe hy die onwillige oorleer, teen alle sin en wil in, weer wou vasnaai. Hy het nie goeie seilgare gehad nie, die stukkie byewas waarmee hy die winkellyntjies probeer stryk het, was kleiner as my pinkienael – en dan stryk hy nie sonder dat hy bloedstrepe oor jou vinger trek nie.

By ons huis was seilgare en byewas. Ek het gaan haal. Ook sommer 'n paar van Pa se ou skoene by Ma afgebedel. Hy't die seilgare en byewas aanvaar, die skoene geweier én my in die oë gekyk. Sy oë was eers verleë en toe bitter: "Ek sal nie arm wees nie."

Toe ons ander loop leer, het hy motors reggemaak, 'n garage begin, grond gehuur, geboer. Met 'n verbetenheid en 'n noukeurigheid wat hom op 28 al vermoënd gehad het.

In dié koers het hy van sy tyd afgeknyp en na Ria begin vry. Sy was van kleintyd af deurmekaar met sy neef Hannes.

Dié neef had dit bietjie beter. Nie ryk nie, maar darem 'n plasie naby die dorp en 'n mooi opstal. 'n Bietjie teruggeboer, maar darem die grondjie behou. Aangename vent. Soos Van Niekerk gewerk en gestreef het, het Hannes gekuier. Te veel rondgekuier na Ria se smaak, en sy vat toe maar uiteindelik vir Van Niekerk.

Dalk was Hannes vir Ria lief, want tot trou het hy toe nooit gekom nie, en so met Van Niekerk se werkery het hy baie op die plaas gaan omsien. Net so dat die mense wonder, maar nie met oortuiging skinder nie.

Dié wintersdag, toe ek tussen al die boere-Mercedesse stilhou, sien ek die lewe het aangestap: Van Niekerk se enigste dogter het toe al 'n dogter. Van Niekerk is oupa.

Die hele buurt kom haal hul vreetjies van die braai-os, en ek sien Hannes loop ook daar rond met 'n allemintige wit baard.

Met die groetery laat haal Van Niekerk die kleinkind om te spog. Sy's mooi en netjies soos sy beste diere. En al bekkig.

Hoe die pratery oor die oupa-skap gekom het, weet ek nie maar toe Van Niekerk haar vra wie's haar oupa, spring sy kort om en gaan haal vir Hannes.

"Hier's my oupa," sê sy.

Sommer kinderpraatjies, maar Van Niekerk se oë raak stil. Hy stap agter die huis om.

Ria moes toe al baie beskinder gewees het, want sy trek  my eenkant toe en sy sê dit is nie so nie. Die kind dink maar oupas het wit baarde, en Van Niekerk is baie van die huis af weg.

Ek stap na die skure toe en kry Van Niekerk daar. Hy kyk voor hom en hy sê met die oë waarmee hy van die skoensole af omgekyk het: "Ek het arm gebly."

"Ria is nie so nie," sê ek en ek glo dit. Hy ook.

"Sy sê ek het alles, maar ek moet nog leer leef..." sê hy.

Nou anderdag toe ek daar aanry, sien ek die hek hang skeef en ek vra by die huis of Van Niekerk daar is.

"Nee," sê die dogter. "Pa en Ma is al weer seetoe met die kind. Pa wil haar glo nog ses keer vat voor sy skooltoe gaan."

Hy doen niks half nie. Vir sy voorsitterskappe het hy bedank.

Dis sy wiel, laat hy hom draai, dag ek. So kry hy dalk 'n skoensool uit sy oë.