ALMAL SE MOEILIKGEIT...

KORSIES VAN PASTEI

Gert was ‘n pliggetroue werker wie se inkomste nooit baie groot was nie, maar uiteindelik het hy met sy spaargeldjies sover gekom om vir hom en sy vrou ‘n goeie tweedehandse motor aan te skaf.  Dit was ‘n Borgward Isabella.  Hy het baie met hierdie goedopgepaste karretjie van hom gespog.  Dit was ligblou van kleur, die buitebande nog goed en die sitplekke was van leer.  Maar daar was nie ‘n radio in nie.

Gert en sy vrou het besluit om weer te begin spaar, want albei wou baie graag ‘n radio in die motor hê. Hulle het weer swaargekry om baie dinge wat lekker is te ontbeer, maar hulle het saam vasgebyt en eindelik kon hulle die radio koop en al wat nog oorgebly het was die installering daarvan.

Saterdag is toe die groot dag.  Gert sê hy weet hoe, al het hy nog nie self ‘n radio ingesit nie.  Hy neem stelling in agter die stuurwiel om mooi te sien waar dié radio waarvoor hy en sy vrou eintlik honger gely het, geïnstalleer moet word.  Sy vrou sit op haar kant om te help besluit oor die regte plek.  Dit was eintlik nie ‘n baie moeilike besluit nie, want albei het gesê dáár waar die hortjies is.

Nou moet Gert net kyk hoe haal ‘n mens die hortjies uit.  Hy het onder ingeloer, maar daar is alles toe.  Hy sal hier van vooraf moet kyk.  Nou wat is dit nou dié?  Toe hy aan die hortjies vroetel, skuif dié so ewe weg, en wat sit daarin wat eintlik ‘n gat moes gewees het ... ‘n pragtige motorradio!