GEBRUIK TOORWATER!

KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Gehoor van ou Gamat wat elke Vrydag na werk 'n lekker groot, sappige stuk beesvleis gebraai het? Sy bure was egter geswore Katolieke en glo nie toegelaat om op Vrydae rooivleis te eet nie maar die heerlike reuk van Gamat se braaivleis het die lewe vir hulle baie moeilik gemaak. Uit moedeloosheid het hulle naderhand hul priester gaan vra om Gamat om te haal om ook hulle geloof aan te neem synde hom te stop om Vrydae te braai.

Gamat het hom laat ompraat en is toe met groot seremonie in die kerk gedoop. Toe die priester hom met water besprinkel het sy woorde groot indruk op Gamat gemaak: "Jy is as Protestant gebore, jy het opgegroei as 'n Protestant, maar nou is jy 'n Katoliek – welkom, welkom!"

Die bure was vreeslik bly oor die probleem nou op 'n einde is maar toe dit Vrydagaand word, hang die lug weer swaar van die heerlike braaivleisreuk. Dadelik skakel hulle die priester wat hom haas om by Gamat uit te kom. Net toe die priester Gamat se agterplaas betree, sien hy hoe Gamat 'n bottel water oor die vleis sprinkel met dié woorde: "Djy is as 'n bees gebore, djy het opgegroei as 'n bees, maar nou is djy 'n snoek – welcome, welcome!"