EK SIEN JOU!

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (51)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die Transvaalse flank Martin Pelser was een van die gehardste manne wat nog ooit vir die Springbokke gespeel het- selfs die legendariese Colin Meads het nie kans gesien om hom in die lynstane "uit te sorteer" nie. Ten spyte van een blinde oog en net een oog wat kan sien, het Martin steeds die hoogste vlak bereik.

Op die Springboktoer van 1960/61 deur Brittanje en Frankryk het Pelser se reputasie as 'n yster met net een oog hom vooruitgeloop toe die manne op pad Frankryk toe was vir die laaste been van die toer. Een van die Franse stutte, Amadee Domenech, het besluit hy sal 'n plan met Pelser maak om hom in die wedstryd te "neutraliseer" deur hom op sy gesonde oog te slaan.

Die toets is in die Colombes-stadion gespeel en van die afskop af was daar geen genade gegee of gevra nie. Sommer vroeg word Piet du Toit in die voorry en terselfdertyd Pelser aan die kant van die skrum bygekom – presies soos Domenech vooraf besluit het. Hy looi toe vir Pelser hard op die oog terwyl hy op Frans sê: "Goeienag, meneer Pelser!"

Wat die Fransman egter nie besef het nie, was dat hy Pelser op sy blinde oog geslaan het. Die harde Bok het dus gesien wie hom so hard gepot het en daarna gesorg dat hy die sondaar aanhoudend en deeglik laat boet!