RUGBYRUMOER OP BOISHAAI...

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (42)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die dorp het rugbykoors

Die volgende kostelike skets oor die interskolerugby by Boys High is deur Freddie Kirsten, ‘n wynboer van Wellington wat twee sportmal kinders het, geskryf. Sy eie uitstaande sportprestasies is maar toe hy ‘n enkele keer op skool reserwevlagman vir die eerste span was, skryf hy.

In die Paarl het die akkerbome se blare reeds geval en die stamme is kaal in die bleek sonnetjie.  Die dorp het leeggeloop Namibië toe en weer volgeloop.  Die derde kwartaal het begin en eintlik behoort alles weer normaal te wees.

Toe is ek krapperig.  Waarom weet ek nie.  Ek kan net nie my vinger daarop lê nie, maar hier is ‘n paar manne in die dorp wat my irriteer.  Ons kom normaalweg goed oor die weg, maar hier het so ‘n  halwe knorrigheid oor my kom lê en nou vermy ek kontak met hulle.

Goed, goed, laat ek nou maar erken dat dit iets te make het met die feit dat dit weer interskoletyd is, en dat húlle kinders vir Gim speel en óns s’n vir Boishaai.   My eie seun maak dit ook nie vir my maklik nie.  Volgens hom het ek heelwat tekortkominge. My klere, musiek, fisieke en serebrale beperkings is erg genoeg, maar die feit dat ek nie in Boishaai was nie is vir hom die grootste verleentheid.  Hy reken ek is Grey toe omdat Boishaai my nie wou gehad het nie.

Maar ek sal sterk wees en ruiterlik erken: Ek was nie in Boishaai nie en sal my nie op sleeptou laat neem deur hierdie koorsagtigheid wat elke Juliemaand deur die Paarl trek nie.  Kan jy glo dat daar elke jaar so tussen twintig en 25 000 mense die Saterdag se groot games gaan kyk?  En dit is iets wat al in 1929 begin het!  Sal miskien een of twee gaan kyk.  Dis dit.

Maar ek kom agter dat dit nie net ék is wat krapperig is nie.  Dis nog drie weke voor interskole en reeds is daar ‘n klómp gespanne mense op hierdie dorp.  Die rugbywedstryde wat nou gespeel word, is skielik nie meer belangrik nie.  Wen jou span, hoor jy hulle piek nou net op die regte tyd – voor interskole.  Verloor hulle, is dit nou net die regte ding om hulle terug aarde toe te bring – voor interskole.  Ek dink nie die afrigters weet eens wie hulle deesdae speel nie.

Maar ek bly sterk; ek laat my nie op sleeptou neem nie.  Sal hier en daar saam bespiegel oor spankeuses, maar dis dit.  En tog wil die krapperigheid nie wyk nie.  Trouens, ek raak al hoe krapperiger.

Wat ek ook nie kleinkry nie, is dat almal in die skool nou skielik weet as een van die seuns se neus loop, hy twee keer die nag gehoes het of sy toon gestamp het.  Tog net nie nou nie, sê hulle.  Ons het hom nodig.  Key-speler.  En toe betrap ek myself dat ek Kleinboet se neus begin dophou.  Maar dis dit.  Niks meer nie.  Ek sal hom wel ‘n bietjie uitvra oor hoe die spanne lyk, wat daar by die oefeninge aangaan en hoe die beserings lyk, maar aangesien dit sonder uitsondering met ‘n verveelde sug, geïrriteerde kyk, of my persoonlike gunsteling – die oogrol – begroet word, tel dit nie.

Ek twyfel of een van die betrokke skole in hierdie tye selfs probéér voorgee om skoolwerk te doen. Dis rugby, sing-songs, geesvang en reëlings.  Dalk moet ek ‘n e-pos aan die skoolhoof – óns skoolhoof – stuur en voorstel dat die seuns soggens sommer met rugbyklere reguit veld toe gaan.  Dan het jy meer tyd vir oefen.

Maar wat sal ek nou lol?  Dis dan al die Maandag voor interskole.  Die hele suidekant van die dorp is in wit en blou getooi; die noorde in geel, rooi en groen.  Alles is toegdraai in die skole se kleure; akkerbome, straatligte, verkeersligte, winkelvensters en selfs hier en daar ‘n ongelukkige Nigeriese straatsmous.  Voertuie word ook nie ontsien en elke bestuurder moet kant kies en sy lojaliteit wys, hetsy met vlae, linte of plakkers.  Dis net ék wat sterk sal bly staan.

Toegegee, die kinders geniet elke oomblik en lyk gelukkig en ontspanne, meegesleur deur ‘n groeiende golf van pret, afwagting en wat vir my na gesonde samesyn lyk.  Wat is dit met my dat ek so half beneuk is?  Boonop kry ek dit nie aldag reg om die ouens wat my so irriteer te vermy nie.  Dit is nou al die hoeveelste keer dat ek betrokke geraak het in ‘n gesprek wat soos volg verloop: “Hoe lyk die span?” sal ek vra – nie omdat ek wil weet nie, net om iets te sê.  Antwoord: “Nee wat, jong, vier key-spelers uit.  Een dood, een verlam, een het gangreen en ‘n ander het geïmmigreer.  (Hulle het nooit ligte beserings nie.)  Verder het Slappers – jy moet nou weet dis die coach – en die hoof ‘n merske uitval gehad.  Hy is gefire en die Latynjuffrou rig hulle nou af.  Ek glo nie eers ons sal speel nie.

Die hele dorp is vol Old Boys.  Van oral af het hulle ingevlieg en nou takel hulle mekaar in rugby- en gholfwedstryde.  Sommer ‘n klomp spanne.  G’n genade nie.  As buitestaander ervaar ek dit as ‘n vorm van bendegeweld.  En die saamkuier ná die wedstryde is nog erger.  Dis koshuiskuiers en ‘n prestige-aand, die capping-seremonie en die Groot Brag, etes saam met spanne en die voorstelling van spanne, byeenkomste en te sommer-maar en jaargroep-reünies.  Saalbyeenkomste.

Ek woon alles by.  Net om my van alles te vergewis – ek sal my nie laat meevoer nie!  Dag en nag.  Oral praat gassprekers die mense moed in.  Dit voel my of die hele land hier in die Paarl kom speech.  Politici, sportsterre, sakemanne, dominees, paaldansers en reeksmoordenaars. Almal het ‘n boodskap.  As jy bo 35 is en nog nie met interskole as spreker Paarl toe genooi is nie, moet jy dit aanvaar dat jy dit nie gemaak het nie.

Teen Donderdagaand voel ek my andersins onbreekbare lyf begin my faal.  Vanaand is daar paarties in die golfklub en die koshuis.  Ek bekla my lot by my vriend Willem.  “Pace jouself,  Saterdagaand lê nog wyd,” is sy raad.  Hy’s ‘n ou hand.

Ek bel vir Kleinboet om te hoor hoe dit gaan.  Hy weet nie.  Hy het nog nie die spanne gesien nie en weet nie wanneer hulle weer oefen nie.  Weet ook nie of daar beserings is nie.  Verder kan hy regtig nie nou praat nie.  Hy moet genuine nou gaan.  Ma verstaan nie hoekom ek hom nie gevra het van die wasgoed nie.

Vrydagoggend is saalbyeenkoms.  Boishaai is ‘n see van wit en blou.  Gelukkig het ek vir Willem geluister en my gisteraand gepace.  Vanoggend was ek al om halfvier in die bed; die saalbyeenkoms sal dus speletjies wees.  Agtuur sit ek en Ma.  En dis nie lank nie of ek balanseer met my linkerboud op ‘n dun vensterbank en met my regterhak op Jan Smuts se kop.  Ma is op my skoot;  sy wil sien as Kleinboet op die verhoog kom.  Die mense wat laat kom, gaan regtig sleg sit.

Die saal is nie soos ek saal geken het nie.  ‘n Volledige rockband bestaande uit huidige leerlinge is op die verhoog.  Hulle doen wat rockbands doen;  hulle gee áls.  ‘n Handvol dirigente in hulle speelpakkies vat net af en toe grond.  Duisend gesonde, tot barstens toe trotse jong manne staan fier en sing uit volle bors.  As hulle maar net kan rugby speel soos hulle kan sing, dink ek.  Ek voel my tweede asem inskop.  Pace jouself, dink ek.

Boodskappe van Old Boys van oor die hele wêreld word voorgelees.  Genooide sprekers praat.  Die skoolhoof, oudskoolhoof en onderwysers praat.  Spanne word voorgestel.  Kapteins praat.  Pa’s cap seuns.  Trane loop.  Strydliedere word gesing..  En hulle oor wie dit gaan – die seuns – se gesonde gesigte blink van opwinding.

“Nóú begin interskole,” sê Willem toe ons by die saaldeur uitstap, en ek voel hoe my tweede asem my die tweede keer verlaat.

Vrydagmiddag speel al die spanne behalwe die A- en B-span.  Die wedstryde vind om die beurt op een van die twee skole se velde plaas.  Vanjaar is dit Boishaai se beurt en ná ‘n vinnige hamburger en bier is dit waarheen ons mik.  Dit reën altyd met interskole, maar soos voorheen keer dit niemand nie.  Die hele dorp stroom velde toe.  Met oorjasse, waterskoene, musse en sambrele kom hulle, almal duidelik uit te ken aan die kleure van hulle skool.

In ‘n oogwink verander die sportgronde in ‘n malende massa van kleure, klanke en geure.  Laasgenoemde is ‘n mengesel van wors en hamburgers, Frisco-koffie, slaptjips in ou olie, pannekoek en ‘n bietjie Cadac-gas.  Gooi dit als bymekaar, meng dit met die reuk van 2 000 opgewonde, hormoongedrewe tieners en rond af met die aroma van 600 natgeswete, bemodderde rugbyspelers.  Net ‘n rugbydag kan só ruik.  Tog jammer hulle gebruik nie meer Deep Heat nie.

Die geluide is ook redelik uniek.  By watter ander sportgeleentheid gaan jy hoor ‘n vrou gil: “Maak hom dood, liefie!”?  Dit nou terwyl die een wat moet doodgaan se ma langs haar staan en hulle sonder om asem te haal daarna voortgaan om die skeidsregter se bene te bespreek.

Oor die luidsprekers speel sokkiestamptreffers.  Dit word so nou en dan onderbreek deur die aankondiger wat die eienaar van ‘n wit bakkie soek wat die ingang van die skool versper.  Of:  “Juffrou Claassen na die noodhulptent, asseblief.”  En deur dit alles sing die kinders uit volle bors.

Rondom elke veld staan ondersteuners bankvas, en tussen hulle is drie soorte pa’s uit te ken: Die eerste soort staan langs die veld en slaan alles in stilte gade. Dis so half-en–half die normale soort.  Soms verloor hulle dit heeltemal, maar dis meestal geregverdig.

Die tweede soort loop op en af saam met die spel.  Hulle bly of staan nooit stil nie.  Hulle beledig die ref en rig terselfdertyd af.  Onophoudelik.  Hulle afrigting getuig van ‘n skerp rugbybrein en insig.  Dit klink meestal soos volg: “Hande, hande!” of “die bal, die bal!” of “manne, julle tackle nie!” of “gaan haal hulle!”  Onophoudelik.  Dis hulle vrouens wat histeries gil as Seun aan die bal vat.  Hulle is relatief onskadelik en dra eintlik baie by tot die tipiese skolerugby-atmosfeer.

Die derde soort is die gevaarlikes.  Hy staan alleen agter die doodlyn en slaan alles in stilte gade.  Hy het gewoonlik sélf rugby gespeel en ken die spel.  Hy praat met niemand, lewer geen kommentaar en beweeg selde.  Soos die lewe maar is, kies opgewerkte pa’s en angstige afrigters mos nou juis dié soort om by te gaan ontlaai.  Hoor my lied, hy gaan jou hard slaan sonder om ‘n woord te sê en daarna gaan hy net so bly staan en verder rugby kyk.  Nodeloos om te sê, dra hulle nie geweldig baie by tot die atmosfeer nie.

Elke wedstryd word met ewe veel entoesiasme ondersteun en gespeel.  Halftyd is die spelers só van die modder dat niemand eintlik meer weet wie’s wie nie.  Van twee-uur tot sesuur word vyftien wedstryde gespeel, en snaaks genoeg is al die key-spelers terug.  Slappes en al.

Wanneer die son sy kop agter Paarlberg intrek, bedaar die rumoer effens.  Vuil seuns loop hinkepink met mooi meisies kar toe.  Al wat blink, is die oë en die tande.  Hulle is tevrede.  Hulle het interskole gespeel.  Oral op die velde hou groepies pa’s in groot erns nabetragting.  Meng sal hulle nie – dis ons teen hulle en môre is die eintlike dag...

Maar voor môre is dit nog eers vanaand.  Groot Brag.  Die stadsaal word volgepak met Boishaai Old Boys en pa’s.  Vanaand hou die manne hulle jaargroep-reünies.  Hulle wil ook die eerste span ontmoet.  Van oor die hele wêreld het hulle gekom.  Dis húlle aand en elkeen sal jou gou laat verstaan dat die skool eintlike in sý jare van die grond af gekom het.  Party het vyf jaar gebou aan die skool; ander ses of sewe.

Vanaand is daar nie geleentheidsprekers nie, want niemand kry die geleentheid om te praat nie.  Almal praat gelyk.  Sowat van blye weersiens het ek nog nooit gesien nie. Die manne van die sestigjaar-reünie se tafel is aan die klein kant en hulle raas nie so baie nie.  Die tienjaar-tafel is groot en sy lede praat hard.  Jy word geken en beoordeel aan of jou jaargroep interskole gewen of verloor het.  Niks anders nie.  My mond hang oop.  Die mense ken tagtig jaar se tellings op die punte van hulle vingers en die klad van ‘n verloor sal jy dra tot die dood.

Ek kom saam met die oggendkoerant by die huis.  “Pace jouself,” het Willem gesê toe ek uitstap.

Dis Saterdag.  Dis die groot dag  Ek is vroeg in die Paarl vir ‘n vinnige brunch.  Twaalfuur moet ons op die Faurestraat-stadion sit vir die afskop van die o.15A’s.  Daarna is dit die o.16A’s, dan die tweede span, dan die skouspel voor die hoofwedstryd en stiptelik om vieruur begin die grootste interskole-rugbystryd in die wêreld.  Toe ek twaalfuur my sitplek inneem, is die stadion reeds driekwart vol.

Die hoofpawiljoen word amptelik in twee verdeel, en die twee groepe skoolkinders word geskei deur ‘n groep ouers, onderwysers, Old Boys en eregaste. Die twee groepe meng nie.  Dis oorlog.

Benewens die 2 000 skoolkinders is die res van die mense op die hoofpawiljoen die eerste soort ondersteuners.  Redelik beheers.  Soms.  Rondom die veld is ‘n fietsry- en atletiekbaan.  Altwee is reg rondom volgepak.  Hier kry jy jou tweede soort ondersteuner.  Niemand kan hom hoor nie hy kan nie naby die veld kom nie.  Al hoe jy kan agterkom hy raak opgewonde, is as die gebarste aartjies op sy neus rooier raak .  Die probleem met die derde soort is jy weet nooit waar hy nou is nie.

Oorkant die veld is Die Wal.  Ook hier word alles netjies op die middellyn verdeel, hoewel nie amptelik nie.  Vir ‘n ou in Gimklere sal dit ‘n lawwe idee wees om aan die Boishaaikant te kom staan.  En andersom.  Hier is lewe.  Hier gebéúr dinge.  Dis vergelykbaar met Loftus se oos-pawiljoen en Nuweland se Calste Corner.  Nie vir sensitiewe kykers nie.  Hier gaan my klassifisering van ondersteuners ook vir ‘n bol.  Dis nie ‘n soort dié nie, dis ‘n ander spesie.  Almal is so tussen 19 en 23 en nog nie gewoond aan die vryhede van die grootmenswêreld nie.  So pas uitgevind dat Johnny Walker en Jack Daniëls nie oud-skoolhoofde is nie.  Hulle lyk almal dieselfde: waterskoene, jeans, ou skoolrugbytrui, skooldas en baie hare.  Nuwe hare.  Lelike hare.  Almal wat nie baard kán laat groei nie, laat groei baard.  Snaakse brille.  Vreemde hoede.  Hulle sêgoed en planne laat my ou lyf nuwe grense toets.  Soos die skoolkinders is hulle ‘n onmisbare deel van die gees.

Met die tweedespan-wedstryd is die stadion stampvol 25 000 mense, twee rockbands en 2 000 kinderkele.  Die lawaai en opwinding dring elkeen binne, neem jou oor en jou voete maak vuiste van lekkerkry.  Die manne wat speel weet hulle sal eers weer in ‘n baie groot Super 14-wedstryd moet speel om voor so ‘n groot skare te speel. En die meeste van hulle sal dit nooit so ver maak nie.

Dan is die tweede span klaar.  Iets onheilspellends daal oor die stadion neer.  Dié wat nie rook nie, rook nou en dié wat gewoonlik rook, rook met albei hande. Die trompoppies (Boishaai het nie baie nie), drumlines, duiwe, vuurwerk en ballonne.  En die bands spéél.  En die kinders sing.  En die dirigente gaan mal.

Dan raak dit stil en die twee spanne kom stadig op die veld gestap begelei deur hulle hoofdirigente en pragtige sjampanjenooientjies.  Jy kan ‘n speld hoor val.  Êrens op Die Wal roep ‘n nuwe lid van die ander spesie na sy ma of een of ander verlore liefde.

Die kapteins stel die spelers aan die skoolhoofde voor.  Daar is ‘n Gewyde Stilte.  Die spelers sit hand op die bors en die skoolliedere word gesing.  Rondom my sien ek wit kiewe en nat oë.  Die wekelange spanning en die grootsheid van die geleentheid ontsien niemand nie.  Die skole doen hulle strydkrete, en dan is dit sulke tyd.

Die lawaai van die kinders en intensiteit van die wedstryd is iets uit ‘n ander werklikheid; dis amper asof alles in stadige aksie gebeur: Die aanslae op die sintuie is oorweldigend.  Ek voel of ek die dominee uit die moederkamer uit dophou.

In die hele wêreld is daar nie ‘n suiwerder vorm van rugby as skolerugby nie en dit wat hier voor my afspeel, is die beste voorbeeld daarvan.  Jong, sterk lywe word op die spel geplaas en vir elke duim word verbete geveg.  Hulle speel nie vir hulleself nie; hulle speel vir almal wat al met trots daardie trui gedra het.  Die spanning is ondraaglik.  Dit is toetsrugby dié en lae tellings met ‘n klein punteverskil die norm. Vir niemand in die stadion is verloor ‘n opsie nie.

Dan is dit alles verby.

Weer eens volg die rituele, gevestig in ‘n tradisie van tagtig jaar.  Old Boys dra die spelers, of dit wat van hulle oor is, skouerhoog van die veld.  Wen of verloor, maak nie saak nie; hulle bly almal se helde.  Die kapteins praat met hulle skole, skoolliedere word gesing en krete gekreet.  Maar nou is daar ook iets byna verstommends te sien – en dit is die respek waarmee die onderskeie skole mekaar bejeën en mekaar toelaat om elk sy eie ding te doen.

En dan heel moontlik die mooiste tradisie.  Boishaai se Old Boys ruk in hulle duisende op, kom staan voor die pawiljoen en sing vir die eerste span en die huidige Boishaaiers.  Daarmee bevestig hulle die naelstring wat al die geslagte bind.

Dié Saterdagaand staan ook nie terug vir die voorafgaande sewe aande nie.  Daar word behoorlik feesgevier en getreur in ‘n dorp wat nie gemaak is vir al dié mense nie.  Hoor en sien vergaan tot laatnag.  Oplaas hardloop die Paarl uit Rennies, Panado’s en ys uit.  En in die geharwar leer Willem my nog ‘n les: Jy kan windgat wees of treur tot Maandag toe, maar dán begin jy te worry oor volgende jaar.

Ja, Willem, asof ek my nou só op sleeptou sal laat neem.