SLEGTE FOUTJIE

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (17)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Upington speel eendag op Kakamas en die gemoedere het maar hoog geloop.  Die man met die fluitjie was Alex Joubert, wat kort-kort moes hoor hoe een van die toeskouers van Kakamas wat langs die veld gestaan het, aanmerkings maak oor sy blasery.  Hy het die man al ‘n paar vuil kyke gegee, en met ‘n lynstaan laat die man boonop hoor:  “Ja, en dan kyk jy ook nog vir my.”

Een van Upington se slotte, Godfrey Kuun dag toe die toeskouer praat met hom.  “Wag net so bietjie,” sê hy vir sy haker en met dié stap hy na die toekouer, slaat die kêrel met een hou plat en gaan neem weer sy plek in.  Later draf Alex by Godfrey verby en bedank hom ewe dat hy hom by die skeidsregter geskaar het.  Maar ou Godfrey wis niks , en sê net,  “Mister ref, as daai ou my weer beledig, slaan ek hom vrek!”