WEERWRAAK

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (14)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Op ‘n All Blacktoer deur Wallis is Chris Laidlaw gevra om met die mense van ‘n klein Walliese dorpie te gaan gesels.  Daar aangekom,  ontdek hy dat slegs hyself, die plaaslike predikant en die onderwyser Engels kon praat.

Daar is toe ooreengekom dat die onderwyser, ‘n ouerige grimmige man, sou tolk wat Laidlaw aan die inwoners sê.

Toe hy aan die einde sy hartlike dank uitspreek teenoor die mense wat na hom kom luister het, was daar ‘n beroering onder hulle nadat die onderwyser getolk het.  Hulle was heel duidelik diep ongelukkig, en by die klein funksie daarna is Laidlaw heeltemal geïgnoreer.

Toe hy weer in sy motor klim om te vertrek, vertel die predikant hom dat die onderwyser nie sy toesprakie quite accurately getolk het nie.  Dit blyk toe later dat ‘n All Black in 1935 op ‘n rugbytoer dié onderwyser se meisie afgevry het, en hy nou wraak geneem het deur die inwoners namens Laidlaw te vertel watter ongeletterde agterlikes hulle is!