WEES BLY JY'T NIE GESPEEL!

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (5)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

In Skotland se wedstryd teen Engeland in 1938 het die Skotte ‘n roemryke oorwinning van 21-16 op die Engelse heiligdom, Twickenham, behaal.  Die Skotse held van die dag was Wilson Shaw wat die span aangevoer het en boonop twee skitterende drieë gedruk het waarin die Engelse verdedigers  op streep agter hom bly lê het.  Hy was ongetwyfeld die man van die wedstryd en is na die eindfluitjie skouerhoog deur sy spanmaats van die veld gedra.

Na die wedstryd het Shaw gaan stort en aantrek, en toe hy die teekamer binnestap, het hy langs ‘n ou Engelse omie gaan sit.   Hy het gedink hy sal maar die oom se dag maak en met hom ‘n geselsie aanknoop.

“By golly, it was really hot out there today,” begin hy met die ou oom gesels.

Waarop die oubaas antwoord:  “Yes, but aren’t you lucky you weren’t playing!”