Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mens, jy is meer werd as jou geld. Jou waarde is nie te meet in terme van geld en goed nie. Met geld alleen is jy nie 'n sent werd nie...
DIE BESTAAN VAN AFRIKAANS (2)
Hoe demografie en assimilasie die voortbestaan van 'n taal beïnvloed
Dr JC Steyn
In die eerste aflewering van waarom sommige tale groei en ander tot niet gaan (DIE BESTAAN VAN AFRIKAANS (1) het ons gepraat oor die twee soorte prosesse wat 'n rol speel in alle gevalle van taalgroei en agteruitgang, en ons bespreek dit nou onder demografiese prosesse en assimilasie.
Demografiese prosesse
Demografiese prosesse is prosesse wat die grootte, samestelling en verspreiding van bevolkings verander.
Die geskiedenis van Iers illustreer twee demografiese prosesse. Die eerste is die styging in die geboortesyfer en/of daling in die sterftesyfer wat die getal sprekers van die talle natuurlik mettertyd meer laat word, of anders'n daling van die geboortesyfer en/of styging van die sterftesyfer wat die aantal sprekers minder kan laat word. Die bevolkingsaanwas kan dus groei of krimp. Daar kan 'n bevolkingsontploffing kom of die bevolking kan om die een of ander rede kwyn.
Die tweede demografiese proses is 'n bevolkingsverskuiwing of migrasie. Die Iere het weggetrek omdat daar 'n sogenaamde stoot- en trek-faktor was.
Die stoot-faktor was die haglike ekonomiese toestand: "All we want, is to get out of Ireland... we must be better off anywhere else than here," het die woordvoerder van 'n groep emigrante gesê. Die trek-faktor was die aantreklike vooruitsigte in die "nuwe wêreld." Hierdie nuwe wêreld was ook die aantrekkingskrag vir miljoene ander immigrante uit alle dele van Europa.
Volksverhuisings het 'n rol gespeel in die geskiedenis van seker alle tale. Die Idianetale het deur migrasie in Amerika gekom; die sprekers van feitlik al die huidige Europese tale is die nageslag van mense wat van êrens uit die ooste die gebied binnegtrek het; alle Suid-Afrikaanse tale is eintlik migrantetale omdat die voorouers van die sprekers daarvan oorspronklik uit ander dele van Europa of Afrika gekom het.
Daar is verskillende soorte migrasies. Die volksverhuising van die Magjare uit Midde-Rusland na die huidige Hongarye beskou die demograaf Ralph Thomlinson as 'n voorbeeld van 'n inval. Die hele bevolking het uit hulle eie land weggetrek na 'n ander. Ander bekende invalle is dié van die Gote en Vandale in die Romeinse Ryk.
Die onderwerping van die Indiese beskawings deur die Ariërs uit Oos-Europa tussen 2000 en 1500 vC is bekend as verowering. Die veroweraars vestig hulle in die verowerde land, trou met die verowerdes en laat 'n nuwe bevolking ontstaan. Soms verdring die migrante die oorspronklike bevolking. So het die blankes die Indiane in Noord-Amerika weswaarts laat trek.
Slawerny het 'n ander soort "migrasie" tot gevolg. Tussen 1550 en 1850 het verskeie Europese moondhede tussen 10 en 20 miljoen swartes as slawe na die Westelike Halfrond weggevoer.
Ten slotte is daar kolonisering. 'n Groep mense gaan woon onder toesig van die moederland in 'n nuwe land. Die moederland bestuur die kolonie asof dit deel van sy eie land is, of baie dikwels as 'n wingewes wat hy ter wille van sy eie ekonomiese belange kan uitbuit. Die inheemse bevolking mag nie sy eie sake bestuur nie,
Migrasie skep altyd die moontlikheid vir taalgroei of taalagteruitgang, maar daar is ander faktore wat bepaal of daardie moontlikheid werklikheid word. Die taal van die migrante kan die taal word van die land wat hulle binnegeval, verower of gekoloniseer het. Engels het die taal van 'n deel van Noord-Amerika en Ierland geword. Die migrantetaal kan ook verdwyn terwyl die inheemse of oorspronklike taal bly bestaan: die Germaanse invallers in die Romeinse Ryk (soos die Gote en Vandale) het hul tale prysgegee en die tale van die verowerdes aangeneem.
Assimilasie
Laat ons weer kyk na die voorbeeld van die Iere en ander Europieërs wat na die VSA geïmmigreer het.
Sommige immigrante het as kinders nog hul moedertaal geleer maar dit later in hulle lewe verleer. Dié wat getrou het met vroue of mans wat reeds Engels was, het Engels makliker aangeneem as dié wat nog met taalgenote getrou het.Groot groepe immigrante het binne twee of drie geslagte met die Amerikaanse bevolking "geassimileer" geraak.
Assimilasie is die term wat verskillende wetenskappe gebruik, maar alle gebruike hou verband met die Latynse werkwoord waarvan die woord afgelei is, nl assimilare, wat "om gelyk te maak" beteken.
Thomlinson onderskei drie stappe in die assimilasie van immigrante. Die eerste is opneming in die ekonomie van die land, die tweede is biologiese samegroeiing deur ondertrouery en die derde is kulturele en sosiale assimilasie.
Wanneer iemand die norme en waardes van die nuwe gemeenskap in so 'n mate aanvaar dat hy feitlik nes die ander lede daarvan optree, kan 'n mens sê dat hy geassimileer is. Immigrante wat nog met die taal sukkel, is nie volledig geassimileer nie.
Die assimilasie proses kan só verloop dat 'n enkeling of groep in die samelewing van die nuwe land opgaan sonder om die kultuur enigsins te verander.
Die kulture van die verskillende groepe kan ook met mekaar saamsmelt en 'n nuwe kultuur vorm wat elemente van albei het, maar ook van albei verskil.
NJ Rhoodie en CF Swart sê daar is ook 'n derde moontlikheid, nl "kulturele pluralisme, wat nie die verdwyning nie van een van die twee kulture impliseer, maar (inhou) dat hulle langs mekaar bestaan en ontwikkel."
Hierdie drie moontlikhede bestaan ook vir tale waarvan die sprekers in dieselfde gebied met mekaar in aanraking kom. Die tale kan vermeng raak sodat 'n nuwe taal ontstaan, die een taalgemeenskap kan die taal van die ander aanneem, of daar kan 'n min of meer stabiele twee- of meertalige situasie (die ekwivalent van 'kulturele pluralisme' ) ontstaan. Laat ons kortliks na elk van dié drie moontlikhede kyk:
Taalvermenging
In 'n taalkontaksituasie gebruik dieselfde mense verskillende tale – hulle is tweetalig (of meertalig) en praat die ander taal in sommige opsigte soos hul eie taal. So kan 'n Duitssprekende Engels 'soos Duits' praat as hy sê: "He comes tomorrow home" omdat 'n mens dié woordvolgorde in Duits gebruik: "Er kommt Morgen Nach Hause." So 'n taalgebruiker pas die norme van sy moedertaal op die ander taal toe, of anders gesê, die norme van sy moedertaalsisteem versteur die norme van sy tweede taal. Sulke taalversteurings kan alle aspekte van die taal raak: 'n mens kan woorde uit die moedertaal in die tweede taal gebruik, sekere klanke uitspreek soos klanke in jou moedertaal of die sintaktiese patrone van jou moedertaal in die tweede taal gebruik.
Ook die omgekeerde van die versteuring van die tweede taal kan plaasvind: taalgebruikers kan die norme van die tweede taal in hul moedertaal toepas. In die omgang sê baie Afrikaanstaliges dat iemand sy tale "mix" as hy baie uit Engels oorneem. Noorse immigrante in die VSA gebruik dieselfde uitdrukking: "Han mixer" – 'hy mix/meng'.
In 'n taalkontaksituasie is daar altyd versteurings in sowel die moedertaal as die tweede taal.
Taalversteurings kan in so 'n groot mate en by soveel sprekers voorkom dat die karakter van een of albei tale kan verander. Die tale smelt saam of konvergeer. So 'n taal, wat die produk van vermenging is, is Tsonga. Dit het ontstaan uit 'n vermenging van Zoeloe met die inheemse Tsonga- en Tembetale van Mosambiek.
EB van Wyk beskryf die geskiedenis as volg: "Gedurende die bewind van Shaka het 'n Zoeloe-generaal, Soshangana, na Mosambiek uitgewyk, waar hy die plaaslike Bantoes onderwerp en by sy gevolg geïnkorporeer het. Die oorspronklike Mosambiekse tale was waarskynlik verwant aan die Shona-tale van Rhodesië, maar as gevolg van die invloed van Zoeloe het 'n nuwe taalgroep ontstaan wat nòg Nguni nòg Shona is, hoewel dit 'n duidelike brug tussen dié twee taalgroepe vorm. Soshangana se mense is in Suid-Afrika ook bekend as die Sjangaans, 'n naam waarvan die herkoms duidelik is. 'n Deel van die stam het later as gevolg van interne struwelinge weggebreek en weswaarts uitgewyk, waar hulle hul in Noord-Transvaal en die Oos-Transvaalse Laeveld gaan vestig het."
Uriel Weinreich noem vier kriteria wat mens kan help bepaal of daar 'n nuwe taal uit die kontak tussen twee tale ontstaan het of nie. Die eerste kriterium is die mate van verskil. Die twee tale wat in aanraking met mekaar kom, moet taamlik baie van mekaar en ook van die nuwe taal verskil voor ons kan sê dis regtig 'n nuwe taal. Verder moet die nuwe taal taamlik stabiele vorme hê, die sprekers moet dit vir 'n hele paar funksies kan gebruik en hulle moet dit self ook as 'n taal beskou.
'n Taal kan derhalwe op twee maniere 'sterf': mense kan ophou om dit te praat, of dit kan so verander vanweë versteurings deur 'n ander taal dat dit in een of ander stadium ophou om "dieselfde taal" te wees as voorheen.
Ons kyk in die volgende aflewering na verskeie vorme van taalverplasing.