NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart – Jeremia 24:7

GEESTE EN GEDAANTES (1)

Lees reeks by Geeste en Gedaantes

Holmer Johanssen

DODERIT

Dit was koud en al drie van ons het om die vuur gekruip, met die bene in die slaapsakke, die hande uitgestrek na die behaaglike warmte van die kampvuur. Ons was op ‘n jagtoer, die stukke wildsvleis het aan ‘n boom naby die tent gehang. Ons het moeg gevoel en maar min gesels, totdat Joubert met die volgende storie voor die dag gekom het:

Dit was in die noorde van Transvaal waar die wêreld so vlak is dat jy drie dae ver kan sien. Ek het net terug gekom uit Rhodesië en my motor die spore gegee. Dit was ‘n donker nag en die ligte van die motor het ‘n wit vlak uit die duisternis gesny. Die wêreld was maar verlate. Al teken van beskawing wat jy in die donker kon sien, was die drade van ‘n skrale telefoonverbinding en op enkele kruispaaie ‘n rigtingaanwyser. Julle weet self, dis aangenaam om in die nag te ry as die pad jou met sy draaie kan wakker hou. Maar hierdie pad was so reguit dat ek af en toe amper aan die slaap geraak het. Drie keer het ek ‘n dowwe slag onder my wiele gehoor en besef dat ‘n onversigtige haas ‘n vroegtydige dood gesterf het omdat hy nie uit die strale van my ligte kon kom nie.

Ek het net by ‘n kruispad gekom toe ek in die skynsel van die ligte ‘n man sien staan. Aan sy jas en sy hoed en aan sy houding kon ek sien dat dit ‘n blanke was.

 

Nou hou ek nie daarvan om in die nag my motor te stop vir ‘n vreemde man nie want julle en ek weet van genoeg gevalle waar so ‘n passasier hom anders as dankbaar betoon het en die polisie die volgende dag jou lyk aan die kant van die pad vind terwyl man en motor weg is. Maar ek het nie nagedink nie en voordat ek dit self geweet het, het ek die motor gestop en die man het ingeklim. Sy gesig kon ek nie sien nie en hy het nie gepraat nie, behalwe dat hy ‘baie dankie’ gesê het. Na vyf minute het ek ‘n sigaret opgesteek en by die lig van die vuurhoutjie het ek hom een aangebied. Maar hy het bedank en gesê dat hy nie rook nie. In daardie paar oomblikke kon ek flou sy gesig onderskei. Dit was bleek en die oë was groot en donker. Sy stem was sag, hy het stil gesit en ons het omtrent niks gesê nie. Na ‘n kwartier het dit vir my te stil geword en het ek hom gevra of hy die wêreld hier rond goed ken. Hy sê ja, hy ken dit baie goed en toe was hy weer stil.

Ek weet nie hoe lank ons stilgebly het nie maar opeens het hy begin gesels en ek was verbaas oor sy storie en oor die sagte, onversteurbare wyse waarop hy dit vertel het. Hy het agteroor geleun in die sitplek en sy hande, wat blank en maer was, het op sy kniee gerus. ‘n Oomblik het dit deur my geflits dat ek selde sulke blanke hande gesien het, maar toe het hy begin vertel sag soos in ‘n fluistering:

“Jy het daardie boom aan die linkerkant van die pad gesien, net voordat jy my opgelaai het ne? (Ek het dit gesien). Daardie boom was die begin van ‘n baie groot plaas wat nou onderverdeel is en aan verskillende mense behoort. Maar die ou plaas was so groot dat ons sekerlik nog wel ‘n halfuur daardeur sal ry voordat ons by die einde kom. ‘n Mens kry dit vlak voordat jy uitdraai op die pad Pretoria toe. Aan hierdie plaas is ‘n storie verbonde wat ek vir jou sal vertel want anders sal jy aan die slaap raak en dit sal ongelukkig wees as jy daardeur seer sou kry. Want jy is ‘n man met ‘n goeie hart anders sou jy my mos nie opgelaai het nie.”

Ek het nie geweet wat om te sê nie. Ek het maar geknik en hy het verder vertel.

“Dit is omtrent vyftig jaar gelede dat hierdie plaas aan ‘n seker Pretorius behoort het. Hy was skatryk en het net een dogter gehad. Sy vrou is vroeg dood en hy het nie weer getrou nie. Daardie dogter was ‘n mooi meisie en ook sonder haar vader se rykdom sou daar baie kêrels gewees het wat na haar sou vry. Maar sy was ‘n eienaardige soort meisiekind. Sy het die aansoeke van seker tien ryk en aantrklike seuns uit die distrik van die hand gewys, tot groot verdriet van haar vader, wat dit nie kon verstaan nie.

”Op ‘n dag het daar twee jongkêrels te perd by hulle gekom. Hulle was broers en hulle het van ver gekom. Hul perde was maer en hul klere was nie van die beste meer nie want dit was oral geskeur. Maar hul gesigte het getoon dat hulle van ‘n deeglike soort was en by Pretorius het hulle, na die gewoonte van al ons boermense, ‘n gasvrye onthaal gekry. En wat meer is, hy het hulle aangebied om by hom op die plaas te kom werk. Dit het hulle natuurlik aangeneem want hulle behalwe hul klere en hul perde niks gehad nie. By Pretorius het hulle meer as twee jaar gebly. Hulle het hard gewerk en die ou boer was baie tevrede met hulle, want hy het in daardie dae geld soos water verdien. Ook die dogter, Anna, was nie ongevoelig vir hulle aanwesigheid nie en die drie jongmense het meer as een keer saam te perd uitgery, grappe gemaak en wild geskiet. Anna kon perdry soos min jongkêrels en ‘n beter skut as sy sou jy moeilik kon kry. En jy weet wat dit beteken het in die dae toe elke man ‘n meester te perd en met sy roer was.

“Van die twee kêrels was Pieter die oudste en die beste en vinnigste skut. Hy het die naam gehad dat hy op tagtig tree ‘n assegaai wat na hom gegooi word, middeldeur kon skiet. Die jonger broer, Eben, het weer perd kon ry soos hulle dit nog nooit gesien het nie. Hulle het altyd gesê dat Eben toordery met die perde gebruik want die oudste en afgeleefdste goed kon hy soos ‘n stormwind oor die velde laat jaag. Verder het hy ‘n lang mes gehad warmee hy wonderlik goed kon gooi. Dit was reeds op die eerste dag dat hulle by Pretorius was, dat hy blyke gegee het dat hy die kuns van gooi goed verstaan. Pretorius wou ‘n bees slag en op sy perd wou hy die bees skiet. Maar voordat hy sy roer van die skouer kon haal, het Eben sy mes uit sy saalsak getrek en gesê: ‘Doel’, en daar was net ‘n flits in die sonskyn. Toe hulle weer kyk, was die bees op sy knieë en die mes was tot aan die hef tussen sy nek en skouer. Die gooi-afstand was omdrent dertig tree en Pretorius het sy oë nie kon glo nie. Maar Eben het gelag en sy perd laat spring en ander snaakse goed gedoen. Want Pretorius se dogter Anna het met bewondering in haar oë na hom gestaan en kyk.

“Soos ek gesê het, die broers het meer as twee jaar by Pretorius gebly en hulle sou sekerlik nog langer gebly het, as daar nie dinge gebeur het nie. Maar laat ek voortgaan met my storie. In die twee jaar dus het hulle Pretorius se vertroue gewen en ‘n plek in Anna se hart verower.

“Dis veral die laaste ding wat moeilikhede opgelewer het teen die einde, want soos jy verstaan, kon maar een haar kry. En dat dit een van hulle twee moes wees, was duidelik, ook vir die kêrels in die omtrek, want hulle het nie meer probeer om na haar te vry nie. Sy het hulle koel ontvang en al haar aandag aan Pieter en Eben gegee. Die vraag was nou wie van die twee broers vir Anna sou kry – en wie dus daarby die groot plaas sou besit. Anna self kon haar keuse nog nie bepaal nie. Sy het glo van albei ewe veel gehou, miskien vir albei ewe veel liefgehad, hoewel die mense gesê het dat sy partykeer stiller was as Pieter met sy lang passe oor die werf geloop het.

“Die broers kon ook nie antwoord gee op daardie vraag nie. Hulle het albei baie van haar gehou, maar hulle het nie daaroor gepraat nie; deels uit respek vir Pretorius, teen wie hulle opgesien het soos teen ‘n man wat beter was as hulle, deels omdat hulle geweet het dat so ‘n beslissing sou beteken dat een van hulle diep teleurgesteld sou wees en elders sou moes plek soek. As ons die gevoel van die broers sou moes ontleed, sou ons miskien kan sê dat Pieter meer van die plaas gehou het, omdat hy teen sononder lank op sy perd kon sit en staar oor die wye vlaktes en dat Eben meer van Anna gehou het, want hy kon baie grappe met haar maak.

“Wat Pretorius betref, hy het miskien meer van Pieter gehou omdat hy ouer was as Eben en so ‘n sterk liefde vir die grond gehad het. Maar Pretorius kon tog ook met ‘n glimlag om sy bebaarde mond toekyk hoe Eben en Anna mekaar pla. ‘ Julle is soos twee kinders bymekaar maar dit laat my hart jonk voel op my oudag’, en dan kon hy vertel hoe hy in sy jongdae soms tagtig myl te perd gegaan het om die dogter van sy drome te sien. Hoe hy soms by daardie geleenthede met vuis en sambok die ander vryers van haar weggeransel het, sodat hy rustig met haar alleen kon wees ‘Maar, ag wat, as jy jonk is, weet jy nie wat jy doen nie en die vrou wat jy kies as jy meer van die lewe weet, is altyd ‘n ander een as die een waarna jy so hard gevry het.’

“Om die waarheid te sê, ek glo dat die vier mense nog nie ernstig aan trou gedink het nie. Anna, Pieter en Eben was nog so jonk en Pretorius was nog in die krag van sy lewe. Hy het nog met skerp oë en harde hande die groot plaas bestuur en dae lank te perd uitgery om te kyk of alles nog in die haak was.

Maar onverwags het daar verandering gekom. Die ou Pretorius het op ‘n dag van so ‘n inspeksie teruggekom, geboë onder hewige hoesaanvalle en met brandende koors in sy oë. Anna het hom in die bed gestop, hom warm melk laat drink en hom verder opgepas. Twee dae daarna het die krisis gekom. Al drie die jongeres het langs die bed gesit en hulle het met stil oë en angs in hul harte toegesien hoe die groot, sterk liggaam deur die koors gebreek word. Hy het deurgekom, maar hy was ‘n ou man en afgeleef toe hy die bed verlaat. Hy het nie meer so lank op sy perd kon sit nie en die inspeksie van die verafgeleë dele aan Pieter en Eben oorgelaat. Elke aand het hulle by hom gekom as hulle nie uit was nie, om hom te vertel hoe sake staan. En ou Pretorius het op sy riempiestoel gesit en luister na hulle verslae en hulle raad gegee. Sy hande was dan gevou oor sy knieë en hulle het gelyk soos verdroogde eikeblare met die swaar are soos nerwe daarop. ‘Gaan maar aan’, het hy dan gesê, ‘ek sien dat julle die werk verstaan. Ek vertrou julle want julle is twee flukse kêrels. Ek is net jammer dat ek nie meer self die werk kan doen nie. Die Here het my swaar gestraf deur so gou my liggaam te breek. Dis swaar vir ‘n man wat geleef het soos ek geleef het om nie meer te kan werk nie en net te luister.’ En dan het hulle hom getroos en gesê dat hy oor ‘n rukkie wel weer perdris sou wees. Maar die oubaas het effens geglimlag en niks gesê nie. Daar binne in hom het hy gevoel hoe die ouderdom elke dag weer ‘n stuk van sy lewe afgevreet het; hoe sy eenkeer so sterk borskas inmekaar gesak was en hoe hy soms moeite gehad het om gereeld te bly asemhaal. Nee hy was soos ‘n ou masjien wat geen olie meer het nie, alles het by hom gekraak en gepiep. Sy hart was die ergste. Waarom daardie vervlakste ding nie rustig sy werk kon doen soos hy dit sewentig jaar lank gewoond was nie? Waarom moes dit partykeer vergeet wat sy plig is en die ander oomblik weer soos ‘n oningebreekte perd te kere gaan? By sulke oomblike was dit vir hom asof daar bloedrooi vlamme voor sy oe dans, asof die lewe uit sy liggaam vloei. Nee, hy kon sy dae tel. En dan was dit dat hy soms kon sug en vra: Wie sal my plaas bestuur as ek nie meer daar is nie? Wie sal vir Anna sorg?

Dit was vrae waarby Anna bloedrooi geword het en waarby die broers nie geweet het wat om te sê nie. Want hulle het geweet dat dit een van hulle sou wees en dat die ander dan sou moes weggaan. Hierdeur het die verhouding tussen die broers effens verander na die siekte van Pretorius. Dis was nie so dat hulle nie meer goeie maats was nie, sekerlik nie. Hulle het soos gewoonlik saam uitgery en gelyk gaan slaap en hul ‘wel te ruste, broer’ het ewe hartlik geklink soos altyd. Maar hulle kon nie meer soos vroeër vol geesdrif die sake van die plaas saam bespreek nie, want was daar die gevoel: sien, dit kan jy wees wat vir Anna gaan kry. En as dit jy is, sal jy die plaas kry en sal ek dit nie kan aansien nie en sal ek moet trap omdat ek van haar hou.

En oor Anna het hulle heeltemal nie meer gepraat nie maar hulle het nie ernstiger as vroeër werk van haar gemaak nie. En so het Anna ook nie aan een van hulle die voorkeur gegee nie.

Een aand toe die broers weers na hulle eie huisie gegaan het nadat hulle by die plaaswoning geëet het, het die ou boer oudergewoonte die Bybel geneem en half sag ‘n paar bladsye gelees. Hy het by Prediker oopgeslaan, gesug en sy grys kop geskud. “Ijdelheid der ijdelheden, het is al ijdel.” Die woorde het in sy kop gebly. Was alles nou vergeefs? Hy het sy eie lewe nagegaan. Hoe hulle geveg het vir die land. Twee van sy broers het geval teen die inboorlinge by die optrek na die noorde deur die verraderlike hinderlae van die onbekende toekoms. Drie van hulle het geval in die oorlog om die vryheid teen die Engelse. Ook sy ou vader het geval vlak voor Majuba. Soos ‘n profeet het hy gelyk toe hy gesê het: ‘Hulle sal teruggegooi word hierdie slag. Maar hulle sal weer kom en die Here in sy liefde beware ons arme volk.’ Dit was al baie jare gelede en nog altyd het die begerige nasie nie terug gekom nie. Maar daar was gerugte van goud in die bodem, meer as wat die wêreld nog van geweet het. Kon hulle so gerus wees? En sy kake het opmekaar geklap en soos staal was die haat in sy oë. Wie se bloed was die offer vir hierdie heerlike land gewees? Vir watter saak het ons vrouens en kinders gesterf en gely? En nou sy eie plaas, die grond waarvoor hy gewerk het. Te gou het sy vrou gesterf, net een dogter het hy van haar gekry. Toe sy dood is het hy al sy aandag aan die kleine kind gegee. ‘n Dogter, maar hy het haar soos ‘n seun opgevoed. Hy moes effens glimlag. Sy was so ‘n pragtige skut en ‘n beter ruiter sou jy vier dae te perd nie kry nie, behalwe miskien hierdie Eben. En Eben was nie sy eie seun nie. ‘n Vrou op die plaas, sy kon dit mos nie alleen bestuur nie? Sy moet liewer trou, ‘n goeie man moet haar neem en die plaas vir haar bestuur. Dan kan sy kinders kry, sy kleinkinders, hy sou weet dat hy nie vergeefs gewerk het nie. “Ijdelheid der ijdelheden, het is al ijdel,” se die Prediker, en plotseling oorval die angs hom. “Anna!” Hy neem haar hand. “Vier en twintig jaar is jy nou, né?” Hy dink terug en sê half teen homself: “Jou moeder was jonger as dit toe sy getrou het.” Iets is daar wat hom aandryf en amper soos ‘n bevel sê hy vir haar: “Jy moet trou, kind, jy weet ek sal nie meer lank lewe nie.”

Sy kniel voor hom neer. “Natuurlik sal u nog lank lewe, vader.” Maar hy skud ongeduldig sy kop. “Nee, ek voel dit al hierso, die olie is uit die lamp, hoe wil dit verder brand?” Dan kyk hy haar ondersoekend in die oë en asof hulle lankal oor die broers gerpaat het, sê hy: “Hulle is twee flukse kêrels, hoekom kies jy nie?”

Maar sy ontwyk sy vraag: “Kom ons gaan slaap,” stel sy voor, “dis al laat.”

Dit was ‘n week later toe Pretorius skielik sieker word en sy lewe op ‘n einde voel. Eben was op ‘n inspeksierit en sou eers die volgende dag terugkom. Anna en Pieter het die ou man na sy groot stoel gedra en hulle het geweet dat dit nou ‘n kwessie van minute sou wees. Pretorius het stadig by sy bewussyn gekom, maar sy gesig was vertrek van die pyn in sy hart. Swygend het die twee toegekyk. Pieter het sy arm om die skouers van Anna geslaan want sy het soos ‘n riet gebewe. Toe die oubaas na hulle kyk en hulle so sien staan, gly daar ‘n glimlag oor sy gesig, asof hy verlig voel “Dus is dit tog hy, né?” fluister hy.

Die grond golf onder hul voete. Pieter laat sy arm van Anna se skouers val. Dit het te skielik gekom; hulle het nou besef dat die lot die teuels in hande sou neem en hulle het willoos bly staan. Maar die ou boer skud sy kop en terwyl die pyn hom striem, ruk hy hom orent. “Nee, nee, so wil ek julle sien. Vader tog, gee my die sekerheid dat daar een sal wees wat vir haar sal sorg.” Hy het soos ‘n Ou Testamentiese figuur gelyk, met wyd uitgestrekte arms en sy grys baard oor sy bors. “Die Here seën julle twee, julle kinders en die ...”

Hulle het hom gevang en in hul arms het hy gesterf nadat sy liggaam ‘n oomblik saamgekrimp het. Toe hy weer op sy stoel lê, was sy gesig rustig, amper tevrede. Maar hulle het mekaar aangekyk met verward-starende oë omdat hulle nie kon besef dat daar ook oor hulle lewe beslis is nie.

Toe Eben ‘n dag later tuiskom, het hulle drie die ou man begrawe. Daarna het daar net een vraag oorgebly, waarop hulle geen antwoord durf gee het nie. Eben het teen hierdie tyd nog niks geweet van die gebeure in die laaste oomblike van Pretorius nie. Ek dink dat nie Anna of Pieter die moed gehad het om dit vir hom te vertel nie. Hy het dit te wete gekom, ‘n week ná die dood, toe hy met sy broer huistoe stap.   “Oor drie maande gaan ek Anna se hand vra,” het Eben kortaf gesê.

In die donker was Pieter se gesig soos ‘n masker. “Jy kan dit nie doen nie,” sê hy sag. “Waarom nie?” vra sy broer. “Omdat sy my vrou gaan word,” antwoord Pieter. Hy kon Eben se gesig nie sien nie maar hy het die spanning kon voel. “Jy moet my goed verstaan,” vervolg hy toe, “Anna en ek was daar by toe die oubaas sterf. Ons het nie geweet wat om te doen nie, ons het net daar gestaan en voordat ons dit goed besef, het hy ons geseën. Daarna was hy dood. Jy was nie tuis nie en ons het nie...”

Soos ‘n tier spring sy jonger broer op hom: “Dis die ding, ek was nie tuis nie, né! Nou het julle vry spel gehad en ek ...”

Pieter gooi hom van hom af. Oor sy gesig het hy die bloed uit ‘n wond op sy voorkop voel druppel. “Jou dier,” hyg hy, “hoe durf jy Anna en my so iets verwyt? Ons het mos self nie geweet wat aangaan nie. Maar ons voel dat ons nie anders kan doen as om te trou nie. Veral sy voel dit as haar plig. Ons wou dit al eerder vir jou vertel het...”

Maar Eben was weg. In die nag het hy soos ‘n skaduwee verdwyn. Hulle het hom nie weer gesien nie.

Agt maande later is Anna en Pieter getroud – stil, asof hulle beskaamd was daaroor. Tog was hulle gelukkig, want hulle het van mekaar gehou. Maar hul geluk was nie van lange duur nie. Hulle was nog geen jaar getroud nie, toe hulle een aand aan hul raam hoor klop. Pieter het na buite gegaan om te kyk wie dit was, maar het niks gesien nie. Toe het hy ‘n end die pad opgeloop om te kyk of hy daar iemand sien. Hy het nog geen twintig tree geloop nie toe daar iets deur die lug suis en ‘n lang mes hom tussen die skouers tref. Sonder om ‘n woord te sê, sak hy inmekaar en sterf. Toe Anna ‘n kwartier later na hom kom soek, was dit nes asof hy of die grond gehurk sit om na iets te soek. So het sy hom gevind. “

Julle verstaan, vervolg Joubert, dat ek taamlik onder die indruk was van die tragiese wending van die verhaal wat my onbekende reisgenoot vir my vertel het, maar ek het hom gevra wat daar nou uiteindelik met Anna gebeur het. Die man het ‘n oomblik stil gesit en ek het hom aangekyk. Hy het nog net so gesit soos toe hy begin het – sy maer hande oor sy knieë, agteroor geleun teen die rug van die sitplek. Maar selfs onder die rand van sy hoed het ek sy oë sien gloei en ek het ‘n snaakse beklemming in my liggaam gevoel. Maar toe hy voortgaan was sy stem sag en gelykmatig soos in die begin.

“Vir EBen het hulle tot vandag toe nog nie gevind nie. Met Anna het dit nie minder tragies afgeloop nie. Dit het gelyk of sy van haar verstand af was. Party aande het sy na buite geloop en hoog en huilend om Pieter geskree asof sy hom nog soek. In die dag was sy skynbaar normaal maar sy het soms soos ‘n malmens te perd oor die velde gery. Dan het die ou mense wat dit van ver af gesien het, voorspel dat dit nog eendag sleg sou afloop want geen perd kon dit hou nie. Hul voorspelling het helaas uitgekom. Een oggend het hulle haar gevind tien tree voor die perd wat sy poot in ‘n erdvarkgat gebreek het. Sy het nie meer geleef nie.”

“’n Onaangename storie,” sê ek in die minuut van stilte wat gevolg het, “nou moet jy nog vertel dat dit hier spook en dan sal ek heel gelukkig voel.” Ek het skaars dit woord uitgespreek of hy ruk orent.

“Dis net wat ek vir jou wou vertel het,” fluister hy en skuif nader na my toe. “Die spook hier hoor. Die mense in die omtrek sê dat die gees van Pieter hier ronddwaal, hy kan geen rus vind nie en waar hy gaan vind hulle kolle bloed, want die wond wat sy broer hom toegedien het, kan nie heel nie. En hulle sê ook dat party nagte as die wind begin opsteek, daar ‘n hoë vrouestem op die vlakte gehoor word. Dis Anna wat huil omdat sy nie vir Pieter kan vind nie.”

Ek kon dit nie help nie maar die hare het agter in my nek penorent gaan staan en ek het onwillekeurig die brandstofpedaal dieper ingetrap. Toe die man langs my sien dat ek ongemaklik voel, lag hy en ek het nie van sy lag gehou nie.

“Nog omtrent ‘n halfmyl van hier,” fluister hy, “dan kry jy die plek waar die huis gestaan het; jy sal nog ‘n stuk van die muur kan sien, die res is al vervalle.”

Ek het niks meer gesê nie, maar ek het die motor laat dans oor die pad.

“Hier is dit,” hoor ek toe langs my en voordat ek kan kyk, is daar ‘n klank soos van ‘n geweerskoot. Die motor swaai skerp na links en ek het amper in die kant van die pad vasgery.

“Dis my voorband,” sug ek en draai die lig aan om my gereedskap te soek.

Op daardie oomblik was dit asof daar ‘n yskoue wind langs my gesig waai en ek het geskree van angs. Want toe ek langs my kyk, was daar niemand by my nie. Op die rugleuning van die sitplek was ‘n donkerrooi bloedkol op skouerhoogte en oor die vlakte het die wind opgesteek en in die wind was daar ‘n hoë klaende geluid soos van ‘n vrou wat huil.

Die kampvuur was amper dood, enkele kole het nog gegloei. Nie een van ons praat ‘n woord nie. Joubert soek na sy vuurhoutjies, want sy pyp het al ‘n halfuur gelede doodgegaan.

“Kom ons gaan slaap,” stel ek voor.

Opsoek na inligting?

  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 916 gaste aanlyn