WATERBOBBEJAAN (17)

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

Toe die boer met dagbreek koffie voor die es drink, hoor hy opgewonde Bantoestemme.

‘n Paar van hulle wil met geweld by die kombuisdeur in.

“Wat gaan met julle aan? Hoekom staan julle so vroeg op? Is julle siek?” vra hy.

“Die Waterbobbejaan, Oubaas. Ons het sy spoor by die drif gekry.

“Saal op die perde, laat ons ry. Het julle een daar laat staan om die spore op te pas sodat iets anders nie daarop trap nie?”

Die Bantoes staan verstom. Hoe kan iemand so ‘n vraag vra.

“Nog nooit nie Oubaas, hy dra dan ‘n mes!”

Toe lag hulle. Die oubaas is ‘n grapmaker.

In die sagte potklei by die drif is ‘n paar duidelike afdrukke van spore wat soos ‘n mens s’n lyk. Maar hulle is heelwat groter as die van die gewone Bantoe van daardie wêreld s’n.

“Wie sê dis sy spoor?”

“Ons spoor lyk nie so nie, Oubaas. Ons kan sien.”

“Bly stil, en ry op en af en kyk of julle nog spore sien.”

Boer kan sien dat Waterbobbejaan daar deur die spruit geloop en toe anderkant uitgestap het. Maar anderkant die drif verdwyn die spore in die harde veld.

Hy ry terug huis toe.

“Waar is daardie honde?” vra hy vir Sanna.

“Hulle sal kom, Kootjie, wag net bietjie.”

Teen elfuur se kant skreeu Willem: “Pa, hier kom Piet!”

Sakamatlakobata los sy beker dikmelk en draf na buite. In die agterdeur steek hy vas. Piet maak ‘n wye draai op die werf. Die boer sien geen honde op die perdekar nie.

Toe Piet die leisels vasmaak, stap hy stadig nader. Die boer stap tot by die kar en hier voor Piet se voete sit twee rooibruin hondjies regop langs mekaar. Hulle het skerp bekkies, lang neuse en ore. Lang lywe, kort pootjies en lang sekelsterte.

“Dag Pa.”

“Dag Piet.”

“Wat is dit hierdie?”

“Honde, Pa.”

“Is nie!” Hy is verontwaardig. “‘n Hond lyk nie so nie.”

“Hierdie honde lyk so, Pa.”

“Is nie, moet nie met my stry nie.”

“Ja Pa.”

Intussen kom Sanna by die kar aan.

Piet klim af en soen haar. Onder die sitplek haal hy ‘n mandjie uit. Binne-in lê vier klein hondjies en slaap.

Sy tel een versigtig op en en hou hom voor haar aan sy voorpootjies.

“Ag Kootjie, kyk die lieflike, ernstige ou gesiggie! Dis die mooiste hondjie wat ek nog gesien het!”

Toe ontplof hy.

“Hondjie! Hondjie! Dis die harigste likkewaantjie wat ek nog gesien het. Vat die goed van my werf af weg!”

Maar Sakamatlakobata is darem ook nuuskierig. Hy het nog nooit van so ‘n soort hond gehoor nie.

“Waar kry jy die goed?”

“By die meulenaar op die dorp, Pa.”

“Daardie ou Duitser?”

“Ja, Pa”

“Ja,” sug die boer. “Hy het hulle nie in Engeland gaan haal nie, maar in Duitsland! Dis soos ek nou die aand voorspel het. Ek het ‘n voorgevoel gehad. Ouers is altyd reg. En die uil daardie nag ...”

“As die uile huil, Kootjie, dan is dit die dood wat kom, nie honde nie.”

“Hierdie is erger.”

“Kootjie, het jy geen ontsag nie?”

Intussen staan die ander drie op en begin waggelsoek na hulle ma. Hulle huil effentjies.

“Wat is die reun en teef se name?” vra hy aansienlik afgekoel.

“Frits en Grietjie, Pa.”

“Frits en Grietjie! Hoekom noem jy hulle nie Jurie en Poppie en kry klaar met die storie nie?”

Hy draai om en stap huis toe.

Oor sy skouer sê hy: “Gee vir hulle genoeg kos, Sanna.”

Piet tel vir Frits en Grietjie van die kar af. Hulle begin dadelik rondsnuffel met hulle sterte hoog in die lug. Die boer sit in die kombuis, besig om stadig aan sy dikmelk te drink. Hy loer skelmpies oor die onderdeur en kyk wat die honde doen. Dis glad nie gewone brakke nie, dink hy. Hulle hele houding en aandagtigheid maak op hom sommer dadelik ‘n goeie indruk.

Prins lê onder die blinkblaar en beskou die spul ‘n rukkie. Toe staan hy stadig op, skop ‘n bietjie grond weg en stap met mening nader. Piet sien dit en doen niks nie. Frits se vrou en kleintjies is daar en hy sal hulle beskerm tot die dood toe. Prins hou nie daarmee rekening nie. En selfs sonder hulle sal Piet nog sy geld op Frits verwed.

Sakamatlakobata sien wat gaan gebeur en van nuuskierigheid rek hy sy nek al langer. Hy hoop niemand sien sy belangstelling raak nie.

Prins stap reg op Frits af. Hy doen nie die nodige honde-ondersoek nie. Hy stamp hom onderstebo en begin knor.

Sakamatlakobata spring by die agterdeur uit.

“Keer Piet, wat gaan met jou aan! Kan jy nie sien wat gaan gebeur nie?”

“Laat staan hulle, Pa. Ons sal sien.”

Sakamatlakobata steek sy pyp haastig op.

Frits spring soos ‘n rubberballetjie op en gryp vir Prins aan sy snoet. Prins huil van woede en pyn en skud vir Frits af met ‘n geweldige swaai van sy kop. Voor hy iets verder kan doen, hang Frits aan sy regteroor. Prins skud hom weer af, en voordat Frits hom kan regruk, het Prins hom agter sy nek beet. Maar Frits se vel is so los en hy is so beweeglik dat Prins daar staan met ‘n paar hare in sy bek. Hy het letterlik onder Prins soos ‘n gekronkelde veer uitgedraai. Die volgende oomblik hang hy aan Prins se keel.

“Byt hom Frits!” skreeu Sakamatlakobata. “Byt hom, die boelie!”

Prins ruk hom weer los. Frits kom stadig nader met sy stert in die lug en sy rughare regop. Intussen kom Grietjie vinnig nader. Prins draai hom waardig om en stap stadig terug boom toe.

Van toe af is hy en Wagter vriende van die nuwe intrekkers.