WATERBOBBEJAAN (13)

Ben Venter 

Lees reeks byWaterbobbejaan

“Toe maak gou,” sê Piet vir Willem en Koos. Hy sit op sy perd en wag.

“Ons wil na die waterval gaan kyk,” sê Koos. “As jy bang is, sal ek en Willem met die geweer gaan kyk. Miskien is Waterbobbejaan daar. Jy kan vir ons wag en die perde oppas.”

Piet voel gruwelik beledig. As jy ‘n reggeaarde Boer wil verneder, moet jy vir hom sê hy moet die perde vashou, terwyl ander die vegwerk gaan doen. Net die lafaards en verraaiers het dit gedoen.

Dis vir Piet ‘n moeilike keuse. Hy het uitdruklik opdrag gekry om van Waterbobbejaan se boerplek weg te bly. Maar hy is ook nuuskierig en hy wil nie lafhartig voor sy kleiner broers wees nie. Hy kan hulle ook nie met die geweer alleen laat nie. As oudste moet hy hulle beskerm.

“Goed, kom ons gaan.”

Dle perde is mak en hulle haak hulle aan jong boompies vas. Hulle sal mos nou-nou terug wees.

Na ‘n paar minute staan hulle bo-op die krans en kyk af na die waterval. Hy staan soos ‘n boog weg van hulle af en word al breër na onder.

Toe hulle genoeg gesien het, kyk hulle na die opstal.

“Kyk hoe klein lyk Pa-hulle,” sê Willem.

“Skiet ‘n skoot in die lug af, dan kyk ons of hulle ons hoor,” doen Koos aan die hand.

“Hulle sal ons nie hoor nie. die waterval raas te hard. Boonop kan ons ook nie patrone mors nie. En as Pa-hulle ons gewaar, sal ons vanaand riemspring,” keer Piet.

“Hier is Waterbobbejaan se paadjie af na sy grot. Dis nie so baie steil nie. As mens jou skoene uittrek, kan jy hier af,” sê Koos. Hier is geen spore van hom nie.”

“Glad nie, ons gaan terug.” Piet begin terugloop. Willem en Koos en die honde kom agterna.

Naby die voetpad steek Piet in sy spore vas.

“Waar is ons perde?”

Hulle is sprakeloos, want daar is geen perd in sig nie. Hulle hardloop vinnig nader. Meteens steek die honde vas en begin al in die rondte te ruik.

By die voetpad sien hulle die perde het losgeruk en is weg. Hulle het vinnig weggespring, want vir die eerste paar dosyn treë is die spore diep in die los grond getrap. Toe sien hulle bloedspatsels en groot luiperdspore.

Die honde hardloop in sirkels en tjank aanhoudend.

“Ons het darem nog ons kos,” probeer Koos troos. Hulle het van haastigheid vergeet om hulle knapsakke agter te laat.

“Ons sal die perde nie weer kry nie, en dis vanaand donkermaan; ons sal nie ons weg na die huis vind nie,” sê Piet. “Ons moet ‘n ander plan maak.”

“As die luiperd die perde nie vang nie, sal hy terugkom,” meen Willem. “Ons moet liewer padgee hier, hoe gouer hoe beter.”

Piet staan ‘n rukkie lank en dink. “Ons kan die nag nie in die opelug deurbring nie. Ons het ook niks om vuur mee te maak nie. Kom ons gaan slaap in Waterbobbejaan se leë grot. Dan het ons ‘n dak bokant ons kop en ons is van agter beskerm. Van voor kan ek ons met die geweer verdedig. Of is julle bang?”

“Hoe leeg ís daardie grot?” wil Koos weet.

“Ek is seker daarvan hy is weg,” antwoord Piet.

Toe ouboet so sê is die ander baie sekerder van hulleself.

Hulle loop stadig terug na die waterval.

Piet haal die geweer se veiligheidsknip af en trek sy skoene uit.

Dis net vyf meter af na die klipplaat voor die grot.

“Kom stadig agter my aan. Ek sal die geweer langs my heup hou as ek onder is en as daar iets uit die grot kom, skiet ek hom in sy pens met die dum-dum. Dit sal ‘n tonnel deur hom maak. Kyk dat die honde nie gly nie.’’

Die paadjie is al op kliplae langs. Daar is geen los klippe of glyerige grond nie. Daar is ‘n breë klipplaat voor die grot. Hy is kurkdroog, want die water val ‘n paar voet anderkant die plaat af.

Piet staan vir die ander en wag. Hy staan gereed met die geweer.

Die kolf is teen sy heup. Hy kyk na die grot se opening se kant, maar dis om ‘n hoek regs van hom.

Koos is seker daarvan dat Waterbobbejaan nie daar is nie. Hy skreeu net agter Piet so hard as hy kan: “Waterbobbejaan, as jy ‘n man is, kom dan daar uit!”

Piet skrik so groot dat hy die sneller druk – die slagpen maak klik! en niks gebeur nie. Hy ruk die slot oop en druk die volgende patroon in die loop. Nou is hulle dum-dum daarmee heen.

“Saa!” sê Willem vir die honde wat agter hom is. Hulle stap by die seuns verby en draf in die grot in.

As daar ooit drie mense was wat die volgende paar sekondes so stil soos Lot se vrou gestaan het, dan was dit daardie drie.

Die honde kom uit die grot uit en staan vir hulle basies en kyk.

“Dankie, Vader,” sug Piet. Hy was in die voorste linie.

Hulle stap in die grot in.

Dis halfskemer in die grot. Die grot stink nie en al wat hulle sien, is ‘n paar lemoenskille, stamvrugte se pitte, suurklapperdoppe en ‘n hoë hoop droë gras. “Dis Waterbobbejaan se slaapplek,” sê Koos.

Hulle haal hul knapsakke af en sit dit neer.

“Ons moet gou eet voordat dit donker is. Dan sal ek met die oorgehaalde geweer in die ingang gaan sit en vir hom wag as hy kom.”

“My kos is al op,” sê Willem.

‘’Soek in my sak vir jou iets.’’

Willem krap in die knapsak rond. Hy haal iets uit en kyk ongelowig daarna.

‘’Piet, hier is vuurhoutjies in jou knapsak!’’  

‘’WAT!’’

‘’Kom kyk self!’’

Al drie kyk daarna en praat niks nie.

‘’Dis net soos ons ma is,’’ sê Koos halfbewoë.

‘’Gou-gou; ons moet gaan hout haal voordat dit donker is.’’

‘’Regs van die grot is ‘n skeur wat vol opdrifsels en houtstompe is,’’ sê Koos.

‘’Hoe weet jy dit?’’

‘’Ek het oor jou skouer gekyk toe die honde in die grot ingegaan het.’’

‘’Gaan haal gou soveel as wat julle kan kry. Ek sal by die voetpaadjie gaan wag staan.’’

‘n Kwartier later brand in die ingang van die grot ‘n yslike vuur.

‘’Ek voel nou vir die eerste keer veilig,’’ erken Piet. ‘’Ek het my maar net dapper gehou. As Waterbobbejaan nou kom, sal hy die vuur sien wat die grot se hele ingang versper. ‘n Bobbejaan is altyd bang vir vuur. Hy sal nie inkom nie. en as hy inkom oor die vuur, skiet ek hom.’’

Die honde lê langs hulle basies en kry af en toe ‘n stukkie seningrige biltong.

Koos kry in sy knapsak ‘n stuk vet beesbiltong. Dis ‘n dik stuk garingbiltong en is nog nie heeltemal droog nie. Hulle sny dit op in dun, rooi skyfies en braai dit met lang, skerp stokke in die vuur.

‘’Ek is bekommerd oor Pa en Ma,’’ sê Willem. Hulle gaan baie bekommerd wees as ons nie opdaag nie. En as die perde tot op die plaas hardloop en hulle sien dit, gaan hulle die hele nag deur soek.’’

‘’Ja, dit is so, maar aan die anderkant: Pa weet dat ek ‘n goeie geweer het.’’

‘’Ons moet môre opstaan net as dit lig word en ‘n groot vuur op die rantjie bokant die waterval maak. Hulle sal die rook sien. Ons moet kort-kort nat blare op die vuur gooi.’’

Almal stem met Koos saam. Nie een wil in die donker uit die grot gaan om buite vuur te maak nie.

Die seuns het lank laas so ‘n lekker kampvuur gehad.

Die spanning is verby en hulle skerts tot laat in die nag.

Die ingang van die grot is amper drie meter hoog en sowat ses meter breed. Na agter word die dak van die grot geleidelik laer. Waar die agterste muur is, is die grot omtrent twee meter hoog. Daar is ‘n breë skeur wat horisontaal loop tussen die agterste muur en die dak. Die skeur is ongeveer een meter hoog. Die seuns het dit gesien en hulle nie daaraan gesteur nie.

Maar daardie skeur verleen toegang na ‘n baie groter en dieper grot. Dis Waterbobbejaan se slaapkamer. Die seuns kampeer in sy sitkamer.

Twee groot oë loer oor die lys van die agterste muur.

Waterbobbejaan kyk uitdrukkingloos na alles wat hier voor hom gebeur.