Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Heilige Gees maak enigiets wat geestelik gebreek is reg: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28). Luister wat sê Jesus van Homself: “Die Gees van die Here is op My… Hy het my gestuur om dié wat verbryseld van hart is, te genees” (Luk.4:18). Jesus neem ’n lewe wat weens sonde gebroke is en maak dit heel.
STORIES VIR ALMAL (1)
Johan Vosloo
Lees reeks by Stories vir almal
Die Ingelse taal
Ek en die Engelse taal moet van geboorte af al van mekaar vervreemd wees. Ek skat dis ‘n genetiese ding. Namate ons land verengels, der mate raak ek dus ‘n groter vreemdeling in Jerusalem.
Ek kan my daarin help, ek verstaan nogal wat gesê en geskryf word, mind you, maar kom dit by myself ordentlik uitdruk in Engels (soos die oumense praat), is ek ‘n bietjie agtergeblewe.
Ek moet sê baie van my medelandgenote wat in hierdie dae so graag Engels praat, klink vir my ook maar agtergeblewe daarin, maar dit hinder hulle kennelik nie. Nou ja, vir my ook nie juis nie.
Fully biligual is ek nie en, soos in Afrikaans, praat ek hoofsaaklik net in teenswoordige tyd of verlede tyd (is en was). Kom dit by goeters soos has had been is ek hopeloos verlore tussen die tydsones van die taal. En wanneer gevra is: Fill in the correct form of the verb, het ek maar ingevul wat ek gedag het reg op die oor val. Alles sinloos.
Ek het natuurlik ‘n paar Engelse frases wat ek gereeld wild en wakker ingooi. Nie te veel van hulle nie, met die gevolg dat ek my soms moet herhaal. Soos TV-kommentators ook maar as hulle pas van a cracker of a match praat, of soos ‘n Naas Botha met sy gedurige end of the day.
Ek, weer, is besonder versot op actually, you know, matter of fact, in comparisson with en deesdae with the wisdom of hindsight.
Omdat ek in die tyd van die Natte op skool was, was ‘n goeie punt in Engels nie op die voorkeurlys nie. ‘n E vir Engels (ek dink dit was dit simbool vir so veertig persent) was as slaagpunt vir matriek aanvaar. En so is jy die Afrikaanse wêreld van toetertyd in met jou E vir Engels en niks meer nie.
En my sportskrywersdae het ek ‘n keer saam met die Engelse rugbyspan (John Pullin s’n) deur Suid-Afrika getoer. Uiteraard moes ek baie met die spelers praat en het talle onderhoude met hulle in hul taal (ten minste so het ek gedag) gevoer. Aan die einde van die toer toe dit groettyd was en presente tussen ons en die toergroep uitgedeel is, het ek ‘n Engelse trui (die witte met die rooi English Rose) ontvang. Pullin se woorde toe hy onder gelag die trui oorhandig het, was: “This is for killing the English language.”
Maar ek wil vertel van my en die Engelse taal aan die einde van my eerste jaar op universiteit. En die knou wat ek opgetel het – en die verdere vervreemding.
‘n Mooi meisie (‘n warm dingetjie van Joh’burg) het my staan en ompraat om Engels as een van my eerstejaarsvakke te neem. Sy het gesê die jong proffie is gaaf en sy sal ook help. ‘n Mens doen mal goed as jy verlief is: jy draf selfs English 1 op varsity!
Met die skriftelike deel van die kursus het dit nie te vrot gegaan nie. Die mooi meisie het haar woord gestand gedoen. Wanneer take oor voorgeskrewe werke ingehandig moes word, het sy haar deeltjie bygedra. En meer: die aandjies saam met die Engelse voorgeskrewe boeke was, matter of fact, with the wisdom of hindsight van die lekkerste hoogtepuntjies in my eerste jaar.
Maar die groot toets aan die einde van die jaar sou die mondelinge eksamen wees, die gevreesde orals van die ou Swart Piet en die ander gawe, jong proffie, wie se naam my genadiglik ontwyk. Orals was as’t ware die tongtippietoets om te sien of jy jou in Engels kan uitdruk.
Vir die orals moes ons ‘n stuk of drie voorgeskrewe boeke lees. Een van die boeke het gehandel oor ‘n jong meisie van die Engelse platteland wat met haar kêrel gaan staan en elope het. Ek dink haar naam was Maggie Tulliver. Dit was ‘n gewone storie en ek het met die hulp van die mooi meisie hoofsaaklik voorberei om te vertel hoe Maggie elope het en waarom. Jy kan maar sê ek het die boek ge-“spot”, soos studente sulke praktyke genoem het.
Daar was ‘n Shakespeare (As you like it) en almal het geweet die proffie vra vir almal om die gedeelte oor die “seven agtes of men” in goeie Engels weer te gee. Met die hulp van die mooi meisie kon ek ‘n skaflike klompie Engelse sinne in my kop opmekaar stapel.
Dan was daar die derde boekie, so ‘n dunnetjie, genaamd Lord of the Flies. Dit was vir my ‘n half simpelrige storie van ‘n klompie skoolseuns wat ‘n vliegtuigongeluk oorleef het en moes sien kom klaar op ‘n eiland. Op die ou einde het die klomp seuns die vetste onder hulle, ene Piggy, vir ‘n valskerm in die takke geoffer. Of so iets sotlik, as ek reg onthou.
Die middag van die orals het die mooi meisie my nog ‘n drukkie vir sterkte gegee voor ek die lokaaltjie binne is waar Swart Piet en daardie ander proffie, wie se naam uit my gedagtes geweer is, vir my sit en wag het.
Ek was voorbereid om ‘n vraag oor Maggie se weglopery te beantwoord. Die moot meisie het vir my ‘n paar lekker frases uit die kop laat leer, soos passionate desire en indestructible love. Ek was ook reg om oor Shakespeare se sewe fases te praat, soos die een waar die seun unwillingly like a snail skool toe kruip.
Selftevrede sit ek nog so en wag om oor Maggie Tulliver (veral oor haar!) en As You like It te gesels, toe kyk daardie jong, gawe proffie my so oor sy bril aan. Ek merk toe dat hy glad nie van my hou nie. Hy tel Lord of the Flies op en blaai daarin.
“Mister Vosloo”, begin hy en hy praat asof hy twee gekookte eiers in sy mond het. “Lord of the Flies is considered by the critics as a social satire. Could you please elaborate on this literary view.”
Daar sit ek met my bek vol Boeretande. Daar kom nie ‘n woord uit my mond uit nie. Social satire? Wat de makranka!
Met my oë soekend, smekend opwaarts gerig na die plafon, kom my antwoord: “Actuale... actually... Sir... as a matter of fact... actualy... demmit!” En ek staan op en stap uit. Einde van Engels.
Nie ses maande daarna nie, trou die gawe proffie, wie se naam my genadiglik ontgaan het, met die mooi meisie, wie se naam ek ook vergeet het.
Dit was ‘n shotgun marriage. ‘n Regte social satire, sê ek nou nog.