Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die resep vir 'n suksesvolle huwelik is presies dieselfde as vir 'n goeie motor: bly by dieselfde model...
GOD SELF SAL ONS LEIERS KIES
Ons weet in Suid-Afrika wat verowering, veronregting, verdrukking en verarming is. Hier is nie van die veroweraar se mense by die armblankes nie. Dis die verowerdes en verdruktes wat gedrywe word tot die geledere van die armblankes.
Die vryheidsdrang in die mens kom uit God, dit is deel van die beeld van God waarna die mens geskape is. Maar by wyse van kastyding laat die Here toe dat hul vryheid hulle ontneem word, en dat daar armoede en verdrukking kom.
Maar dan kom die vryheidsdrang tot ontwaking. God plant die vryheidsdrang in elke mens se siel, maar dis deur verdrukking wat die vryheidsdrang wakker word en tot aksie kom.
In Rigters 6 lees ons van die nodige kastyding wat die Here toelaat sodat Israel deur die Midianiete verower word. En dit bly nie net by verowering nie. Daar kom verdrukking. Die Israeliete se besittings word met geweld geneem. Selfs hul oeste word deur die Midianiete geneem. Dit lei tot armoede. Die Midianiete het Israel verdruk en vervolg tot armoede en ellende, en toe roep hulle tot God en toe kom die ontwaking. Toe staan Israel bymekaar en kom die vryheidsoorlog.
In Suid-Afrika
Net so is dit in Suid-Afrika. Die Afrikaners is die verowerdes. As ons land uit die Wêreldoorlog gebly het, as die owerheid uit die oorlog gebly het, dan was daar voorspoed in Suid-Afrika. Dan was daar groot pryse vir die boere se goedere, meer fabrieke, baie werk en volop geld. In dié voorspoed sou die Boerenasie tevrede wees en die vryheidsdrang gesmoor word ! Maar nou is dit anders. Die Boerenasie is die verowerdes en hulle is teen hul sin in die Wêreldoorlog gesleep. Duisende van die Afrikanervolk is een vir een in die oorlog gesleep en teen hul sin in uniforms gedruk, en honderde van ons volk is sonder verhoor in tronke en kampe gestop. Toe kom daar onrus en ontevredenheid onder die Afrikaners. Dan kom die vryheidsdrang tot ontwaking. Deur verdrukkung word die vryheidsdrang 'n vryheidsstryd! So ook by Israel wat deur die Midianiete verdruk word. Die onreg en verdrukking lei tot stryd.
So kom daar rebelle op aarde.
Moses was een van Farao se getroue onderdane, maar onreg en verdrukking dryf hom tot rebellie. So is dit met Josua, Gideon, Samuel, Daniel. Onreg en verdrukking dryf die beste manne tot rebellie.
In die verdrukking neem hulle die toevlug tot God. Die volk roep tot God. God plant die vryheidsdrang. God bring die vryheid tot ontwaking. En wanneer die verdruktes in opregtheid roep, dan hoor God. Dan bring God verlossing. Dis stryd.
Dan kies God die leier in die vryheidstryd. Moses, Josua, Otniel, Ehud, Samgar, Debora, Barak, Jefta, Gideon, Samuel, Saul, Dawid was almal leiers deur God gekies en hulle was almal rebellieleiers.
Korag, Datan en Abiram was ook rebellieleiers, maar God het hulle nie gekies nie. Hulle het ondergegaan.
Absalom was ook ’n rebellieleier, maar God het hom nie gekies nie. Hy het in skande ondergegaan.
Die vryheidstryd is ’n saak van die Here. God soek en kies die vryheidsleiers en God seën hulle.
Volg die vryheidsleier wat God vrees. Volg die vryheidsleier met Bybel, kerk en gebed.
En die rebellieleiers wat van God geroep is, is geen vloekers, rowers of moordenaars nie. Hulle is vryheidshelde. Hulle kry ereplekke in die geskiedenis. Hul name word deur God geplant in die hart van die gelowige volk.
En die Here is met die leier wat Hy kies. So staan dit in die teks : “Die Here is met jou, dapper held.”
Watter verskil tussen Bileam en Gideon ! Vir Bileam sê die Here : Ek self het uitgegaan as ’n teeparty, omdat hierdie pad van my afwyk (Num. 22:32).
Vir Gideon sê die engel : “Die Here is met jou, dapper held”.
So hoor God die gebede van die volk in verdrukking en kies die leier. Hy bemoedig die leier.
En dit beteken oorwinning. As God met ons is, wie sal teen ons wees?
Dawid sê later : Met my God spring ek oor ’n muur ; met my God breek ek deur ’n bende.
God bemoedig Gideon om te rebelleer.
God beloof om met hom te wees. God inspireer die volk om by hom te staan. Sy aanhang word groter. Hy het eerlang 30,000 man wat hom volg.
So gaan dit met ’n vryheidsleier wat God kies. Hy is ’n man van die Bybel, kerk en gebed. Die gelowige volk sluit by hom aan. Hulle gaan van oorwinning tot oorwinning.
’n Volk moet ’n vryheidsdrang hê. ’n Volk moet leiers hê. Ons moet leiers hê, in die politieke lewe, vir die kerk, vir die skool ens.
Kies die leier met kerk, Bybel en gebed. Dan gaan ons van oorwinning tot oorwinning!