Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet daarteen waak om altyd vir die "regte oomblik" te wil wag voordat ons iets aanpak – meesal kom daardie oomblik nooit. Maar jy kan daardie "oomblik" skep deur te doen wat jy moet doen, of te sê wat jy moet sê, wanneer jy weet dit is die regte ding om te doen – so maak jy wel 'n verskil aan die wêreld.
WATERBOBBEJAAN (26)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Die volgende oggend is al wat ‘n werker is, onder die blinkblaar. Elkeen is besig om te meet, te pas, te saag en vas te draad.
Eers word die raamwerk van die vanghok gemaak. Die raamwerk is 1,5m hoog, 1.2m breed en 2.5m lank. Die sye en bo en agter word met dik pale elke 15cm van mekaar af toegemaak.
Daarna gaan hulle die deur maak wat in die lug gestel word. As ‘n roofdier inkom en na die bok loop wat die aas is, val die deur agter hom toe.
Sakamatlakobata-hulle het pas met die werk begin toe kom oom Stoffel Wolf daar aangery.
Hy haak sy perd vas en stap nader.
“Môre, Koos.”
“Môre, Stoffel.”
“Wat se hok maak jy?”
“Ek wil ‘n wolf vang.”
Oom Stoffel Wolf weet nie wat om hiervan te dink nie en hy bly stil. Hy kyk noukeurig na die boer se gesig, maar dit lyk nie of hy spot nie.
“Dis warm nè?”
“Ja.”
“Was die wolf hierso ook?”
“Ja, die nag toe ons in die veld piekniek gehou het. Maar Piet het hom in die kraal voorgesit en gewond.”
“O! En nou wil jy hom vang?”
“Piet, daardie paal wat jy vasdraai is nie haaks nie. Ek leer julle al ‘n paar jaar lank dat as iets nie plom, senter, skwêr, haaks is nie, dan is hy nie reg nie. Willem, jy en Koos moenie daar staan soos apprentjies nie, help vir Abel.”
“Is die hout vas genoeg, Pa?” vra Piet.
“Gee hom nog ‘n paar draaie, maar moenie die laaste draai gee nie,”
“Kan ek jou nie help nie, Koos?”
“Ja, Stoffel. Tel vir my daardie hamer op.”
Oom Stoffel Wolf tel ‘n vierpondhamer op en staan langs Sakamatlakobata. Na ‘n paar minute staan hy nog so.
“Hier’s hy, Koos.”
“Goed. Houvas hom.”
Lateraan word oom Stoffel Wolf moeg.
“Wat moet ek met die hamer maak, Koos?
“Houvas hom.”
“Hoekom?”
“Dan doen jy ook iets.”
Oom Stoffel Wolf gooi die hamer neer en gaan sit op ‘n veldstoeltjie daar naby.
“Jy wil nie eers hê ‘n mens moet jou help nie,” sê hy gekrenk.
“Stoffel, ek is bang ons val oor mekaar se hakskene en dan kry ons niks gedoen nie. Piet, gaan vra vir jou ma koffie vir oom Stoffel. Die arbeider is sy loon werd. En die os wat dors moet jy nie muilband nie. “
“Koos, as jy meen ek is ‘n...”
“Nee, Stoffel, ek meen net jy het ver gery en jy is seker dors.”
“Koffie sal nou lekker smaak.”
Oom Stoffel Wolf drink uit sy kommetjie en bekyk die gewerskaf.
“Hoekom het jy nie al jou bure laat kom sodat ons die wolf kan gaan skiet nie? Kyk hoe baie was daar by my gewees.”
“Jy verstaan my moeilikheid nie, Stoffel. My probleem is nie om julle hier te kry nie, maar om julle van my af weg te hou.”
“Koos, het jy bakleiwyn gedrink?”
“Nee, Stoffel, ek bedoel net dit: daar moenie lawaai wees en ‘n hele kommando as mens so iets soos ‘n wolf wil vang nie. Nee, ek jok. ‘n Wolf hou van baie geselskap.”
“Oom Stoffel bly liewers stil. Maar hy kon dit nog nooit lank regkry nie.
“Wil jy my vertel dat die gedierte wat ons noord van my plaas gaan soek het, daardie selfde nag nog op jou plaas was?”
Sakamatlakobata trek sy skouers op.
“Dan is daardie wolf mos ‘n ou jakkals.”
“Al die wolwe is so.” Oom Stoffel Wolf besluit dat hy nie daar tuis is nie.
Hy groet en ry.
Sakamatlakobata toets die deur ‘n paar keer en sien dat hy seepglad werk.
“Roep al die werkers, Abel, en dan dra julle die hok en sit hom neer naby die groot boekenhoutboom wat anderkant die boord is. Hy kan ‘n paar dae lank daar staan. Onthou die deur moet oop wees as julle hom daar laat.”
Waterbobbejaan het die hele oggend die werksaamheid sit en dophou. Hy kan nie uitmaak wat aangaan nie. maar hy dink daar word iets gedoen wat niks goeds voorspel nie.
Toe hy sien dat die Bantoes die hok na die groot boom dra, voel hy geruster. Hy let fyn op en sien dat almal teruggaan werf toe. Hy sal die ding gaan ondersoek as hy seker gemaak het dat niemand naby die hok kom nie. Twee dae lank spioeneer hy. Toe stap hy een middag soontoe en hou hom naby die hok goed verskuil. Van boom na boom het hy al om die hok geloop en dit van alle kante bekyk. Maar die hok lyk vir hom alkant selfkant, behalwe daardie deur wat in die lug staan. Hy weet nie hoe dit werk nie, maar hy besluit om nooit daar in te gaan nie. So iets hoort nie sommer in die veld tuis nie. Al die goed wat die boer maak en mee werk, word saans in ‘n groot gebou agter die huis gebêre. Waarom maak hy iets en laat dit in die wind en weer staan? Dit wyk af van die boer se gewone manier van optrede.
‘n Paar aande later stap die wolf daar verby. Hy het toevallig op die hok afgekom. Hy het om en om die hok geloop en geweet dat hy nooit daar sal ingaan nie. ‘n Paar jaar gelede het hy honderde kilometers verder noord eendag ‘n luiperd in so ‘n hok gesien. Hy het dit nie vergeet nie.
“Wat gaan Pa in die hok sit?” vra Piet toe hulle ontbyt nuttig.
“Daardie jong bok met die afhoring. Ons maak ‘n tou om sy nek vas en dan maak ons hom aan ‘n paal vas wat ons diep in die hok in die grond ingeslaan het. As die wolf na hom loop om hom te gryp, trap hy op die draad wat die hek agter hom laat toe val.”
“Het Pa dit al voorheen probeer?”
“Ja, toe ons jonk was, het ons dikwels ‘n jong bok op tou geslaan op ‘n sandbank in die Limpoporivier.
“Ons maak hom vas net langs ‘n seekoeigat wat wemel van die krokodille. As een die bok wil gryp, skiet ons hom dood van die wal af.”
“Hou die bokke daarvan, Pa?”
“Nie juis nie, as jy hom saans kamp toe lei, struikel hy oor sy eie pote. Hy wil ook nie eet nie. en as jy hom die tweede dag sandbank toe lei, sak hy inmekaar net sodra hy die paal op die sandbank sien. Dan moet jy hom verder dra. Die bangste van alles is ‘n jong donkie. Ons het eenkeer een op tou geslaan. Hy was nog jonk. Hy het lang klosse hare onder sy pens gehad. Ons moes hom ook paal toe en terug dra. Maar die naarste van alles het gekom toe ons hom die dag loslaat nadat hy sy werk gedoen het. Hy het geweier om van ons af pad te gee. Hy het al agter my aangeloop en my hakskene vel-af getrap. Dis vreeslik as ‘n mens of ‘n ding die hele dag deur al in jou nek asemhaal.”
Die volgende aand net na sononder het die boer en sy seuns die bok in die hok vasgemaak.
Teen dagbreek is hulle met gewere soontoe. Die bok staan in sy hok en wei.
“Ons moet hom ‘n paar dae kans gee; hy sal vroeër of later kom,” sê Sakamatlakobata.
Hulle jaag die bok terug sodat hy water en groenkos kan kry. Vanaand gaan hy weer hok toe.
Elke aand oor die naweek word die bok gestel.