DIE DOEL HEILIG DIE MIDDELE...

Suid-Afrika is tans midde in die sogenaamde Tweede Revolusie-proses, waartydens sosialisme in die land gevestig word om beheer oor die samelewing te verkry. Die lewensverhaal van die Amerikaner, Saul Alinsky, gee ons vandag perspektief op die wyse waarop sosialisme gevestig en gebruik word om die samelewing te verander. EMIL DE VILLIERS van die ANB gooi in hierdie artikel die kollig op Alinsky se denke en idees.

In die Afrikaanse taal bestaan die spreekwoord "Die doel heilig die middele" wat gewoonlik aangewend word om 'n slegte daad goed te praat. In ander gevalle egter was die "goeie doel" op valse wyse bygebring om die daad te verskoon. Ons ken mos die kommuniste en hul maats en hoe hul met die waarheid omgaan. Waarheid is vir hulle net iets wat gebruik moet word sover dit hulle doel ondersteun en leuens sover jy nie daarmee uitgevang kan word nie.

’n Man genaamd Saul Alinsky is in 1909 in Chicago (VSA) gebore. Sy naam en van gee natuurlik dadelik vir ons 'n gedagte oor sy afkoms. Hy was inderdaad die seun van Russiese Jode. Alhoewel Alinsky nooit by die Kommunistiese Party aangesluit het nie, het hy sentraal gestaan in die ontwikkeling en vestiging van hulle infiltrasietegniek in die Westerse samelewing.

Leon Despres, 'n lid van die Kommunistiese Party in Chicago en 'n kollegeklasmaat van Alinsky, het eenkeer gesê: "Ek dink nie hy (Alinsky) het ooit gedink dat hy by die Kommunistiese Party aangesluit het nie, maar emosioneel het hy dit baie sterk ondersteun."

Die kommentator en politieke ontleder, John Perazzo, het redelik onlangs 'n diepte artikel oor Alinsky se invloed in Amerika se ontwikkeling in die 20ste eeu gepubliseer. Skrywer deel graag hier in kort wat hy oor dié man geskryf het.

Alhoewel Alinsky 'n liberalis was, was sy nalatenskap meer metodies as ideologies. Hy het 'n baie spesifieke stel reëls ontwikkel wat gewone mense kan volg en taktieke wat hul kan uitvoer om openbare mag te bekom. Alinsky het kriminologie bestudeer aan die Universiteit van Chicago. In hierdie tydperk van sy lewe het hy ook bevriend geraak het met die mafiabaas Al Capone en sy mense. Ryan Lizza, senior redakteur van The New Republic, bied 'n blik op Alinsky se persoonlikheid: "Sjarmant en self-geabsorbeer het Alinsky vir baie jare sy vriende getrakteer met kleurvolle stories uit sy bende dae, sommiges waarskynlik uit sy duim gesuig... Hy was onheilspellend, uitgesproke en narcisties, altyd die middelpunt van die aandag ten spyte van sy akademiese voorkoms en dik brilglase. "

Volgens Lizza was Alinsky diep beïnvloed deur een van die groot sosiale denkrigtings van sy tyd, wat ontwikkel is deur sy professore in Chicago. Die strekking van hierdie filosofie was dat die toestand van die stedelike armes nie oorerflik was nie, maar slegs die omgewingstoestande as oorsaak het. Hierdie idee was Alinski se basis vir die ontwikkeling van sy eie denkraamwerk. Dis natuurlik vandag ook ’n bekende argument in Suid-Afrika as die massas se onvermoë om hulself op te hef ter sprake kom. Sy uitgangspunt was in aansluiting met die van John LLewis, die groot arbeidsleier en stigter van die CIO. Alinsky het gereken dat dieselfde robuuste en dikvellige taktiek wat deur vakbonde gebruik word, toegepas kan word op die verhouding tussen burgers en openbare amptenare.

Na voltooiing van sy nagraadse werk in kriminologie het Alinsky verder gewerk aan wat vandag as die ‘Alinsky-konsepte van massaorganisasie vir mag’ bekend staan. In die laat 1930's het hy 'n reputasie opgebou as 'n meester-organiseerder van die armes toe hy die werkers van die"Back of the Yards"-gebied in Chicago, 'n industriële en residensiële etniese buurt aan die suidwestelike kant van die stad, tot ’n politieke drukgroep georganiseer het.

In Chicago stig hy die Industrial Areas Foundation (IAF). Daardeur het hy met sy personeel gemeenskape georganiseer, nie net in Chicago nie maar regdeur die VSA. Dit is tot vandag 'n aktiewe organisasie met takke tot in Kanada, Duitsland en Engeland.

Teen die laat 1960s het Alinsky teenstand gekry van die "Black Power" beweging, wat hom uit die Afro-Amerikaanse buurte gedryf het. Hy het vroeër dié gemeenskappe ook probeer bearbei, maar het daarna sy fokus verskuif na die middelklas. Daarvoor het hy die "Citizens Action Program (CAP)" in 1970 gestig. Volgens Stanley Kurtz in sy boek, Radical in Chief, was Alinsky se oortuiging dat 'n grootskaalse sosialistiese transformasie 'n alliansie tussen die sukkelende middelklas en armes vereis. Die doel is om genoeg openbare ontevredenheid, morele verwarring en regstreekse chaos te bewerkstellig om die sosiale omwenteling wat Marx, Engels en Lenin voorspel het, te laat ontvlam.

Met ander woorde, sy doelwit was 'n revolusie. Alinsky se revolusie word egter nie gekenmerk deur dramatiese, oordrewe, oornag-verandering van sosiale instellings nie. Soos Richard Poe dit stel, het Alinsky revolusie as 'n stadige en geduldige proses beskou. Die vangplek is om bestaande instellings soos kerke, vakbonde en politieke partye te infiltreer. Hy het die organiseerders en hul navolgers aangeraai om subtiel invloed oor die besluitnemende geledere van hierdie instellings te verkry en dan veranderinge deur middel van daardie platform in te bring.

Dit was presies die tegniek van ‘infiltrasie’ wat deur Lenin en Stalin voorgestaan is. Alinsky het verkondig dat een van die hoofoorsake vir die omstandighede wat mense sou sleg maak, die ontnemende druk van 'n materialistiese samelewing is. Sy oplossing daarvoor is sosialisme. Hy is in die media en deur openbare meningsvormers voorgehou as die ‘edele radikaal’ en as 'n sosiale hervormer wat menseregte ver bo eiendomsreg stel. Universele en gratis openbare onderwys was een van Saul Alinsky se sterk agendas. Hy het ook idees geformuleer oor arbeidsake, soos dat "volle indiensneming vir ekonomiese sekuriteit" ononderhandelbaar moet wees regdeur die arbeidsmark.

Terselfdertyd wou hy hê dat mense onder sy invloed oral in die arbeidsmark betrokke moes wees om konserwatiewes te beveg. Sy volgelinge moes altyd in magsposisies ingewerk word om die denkrigting te bevorder. Verdienste was nooit ’n vereiste nie, maar mag en invloed sou uiteindelik aan hulle die beheer gee. In 1946 skryf hy die boek Reveille for Radicals waarin hy die beginsels en tegnieke van sy "gemeenskap organisering" (Andersins bekend as opstokery vir revolusie) uiteensit. Die werk is 25 jaar later uitgebrei met sy boek Rules for Radicals.

In Suid-Afrika moet ons vandag besef dat hierdie man se bose idees en werk 'n aansienlike invloed gehad het op die werking van alle sosiale veranderings en bewegings vir sogenaamde "sosiale regverdigheid" die afgelope dekades in ons land. In die lig van ons Christelik-Nasionalistiese beginselbasis is dit maklik om die beginsels wat Saul Alinsky leer te verwerp. Ons moet egter besef dat 'n groot deel van ons Afrikanervolk nie meer beginsels as oorweging gebruik nie, maar eerder die selfgesentreerde humanistiese beleid van "wat werk vir my"? Die gevaar lê juis hierin dat ons volk hul laat mislei deur te glo aan die "logika" van die moderne wêreld se sosiale waardestelsel wat sentreer om “menseregte”.

(Met dank aan die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) – www.anbsa.co.za)