AFRIKANERLIED

Nog 'n pragtige volksbesielende poëtiese lied deur H.A. Fagan en Joh Peters waarvan die verwerking deur mev Jandrell gedoen is:

By die ruwe Kaap van storme, waar die oseane bots,
en van oos en wes die golwe worstel om hul bakenrots,
waar die maagdelike velde nog in die skuwe skoonheid bloos;
dit is waar jul wieg gestaan het, stoere Afrikanerkroos,
dit is waar jul wieg gestaan het, stoere Afrikanerkroos.

Werk en stryd was julle erfdeel, wat die vaderland jul gee,
maar waardeur jul arm gespier is en jul hart tot staal gesmee.
So gehard en so getemper, trek hul heen oor berg en vlei,
en herskep tot Edensgaarde Afrika se woesteny,
en herskep tot Edensgaarde Afrika se woesteny.

Elke vyand moes getem word, wat jul opmars wou betwis,
die natuur se wilde kragte, die barbaar se sluwe lis.
En geen mag van vreemde wapen, geen veroow'raar sal jul vrees;
nimmer in 'n slaaf se boeie rus die Afrikanergees,
nimmer in 'n slaag se boeie rus die Afrikanergees.

Voorwaarts dan, getrou en wakker, moedig, kragtig steeds vooruit!
Geen geweld, geen dwinglandswoede sal jul ideale stuit.
Laat jul roep oor berge dawer, oor die vlaktes oor gedra:
Ewig hoog die vryheidsvaandel, stoerekroos van Afrika!
Ewig hoog die vryheidsvaandel, stoerekroos van Afrika.