Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, help my asseblief om nie 'n praatsieke ou mens te wees nie; en behoed my van die noodlottige gewoonte om oor elke onderwerp by elke geleentheid iets kwyt te raak in plaas daarvan om na ander te luister.
GOD HET ONS NIE VERGEET NIE
Elkeen van ons het al op een of ander stadium iets belangriks vergeet. Miskien ʼn verjaarsdag, huweliksherdenking of wat ook. Ons het dit vergeet. Een ding durf ons nooit vergeet nie; ons afhanklikheid van God. Dit het met ernstige gevolge met Israel in die tyd van Jeremia gebeur. Afhanklikheid van God is soos die naelstring van ʼn ongebore baba aan sy moeder. Jesus sê in sy eerste saligspreking: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mt.5:3). Vergeet alles, maar net nie jou afhanklikheid van God nie.
God het vir Jeremia ʼn onaangename opdrag gegee – hy moes God se oordeel oor sy eie volk gaan aankondig. En dis nie so maklik nie! Dis makliker om oordeel oor vyande aan te kondig, maar om dit oor jou eie volk aan te kondig, is ʼn perd van ʼn ander kleur! Daarom was Jeremia aanvanklik onwillig en het ʼn verskoning uitgedink: hy was heeltemal te jonk vir so ʼn gewigtige taak. God het egter beloof om met hom te wees – geen verskoning nie!
Waarom is Israel gestraf? Weens hul sondige vergeetagtigheid. “Hulle het nie eers gedink om te vra nie: ‘Waar is die Here wat ons veilig uit Egipte gebring het en ons deur die woestyn gelei het?’” (:6).Hoe kon Israel aan geestelike geheueverlies ly as sy so ʼn uitsonderlike geskiedenis van God se troue sorg gehad het?
Geen volk op aarde kon méér van God se betrokkenheid in hul geskiedenis getuig as Israel nie. En hulle vergeet Hom! Israel was soos ʼn bruid wat haar trourok vergeet het. Dis dan juis haar kosbaarste besitting op so ʼn dag! Israel het vir God soos ʼn bruid sonder haar trourok op haar troue gelyk.
Jeremia moes in opdrag van God Israel se geheue vir haar verfris en aan die woestyndae herinner waarin God hul bygestaan en op wonderlike wyse die Beloofde Land in besit laat neem het. Hulle kon dit mos nie vergeet nie! Dis dan eeue lank geesdriftig aan hulle kinders en nageslag oorvertel. Hoe nou?!
Die klag is dat hulle dit nie meer oorvertel het nie. Die verhale van God se sorg is met stories van ʼn nuwe wêreld met Baal en afgode vervang. Israel het in ʼn rustige, welvarende omgewing haar verlede bewustelik in die verlede gelos. Dis mos menslik om te vergeet, nie waar nie? Ja, dit is. Maar as jy die Here vergeet, vervang jy Hom met iets anders.
Niemand leef in ʼn aanbiddingslugleegte nie. As hy nie God aanbid nie, aanbid hy iets anders. Dan word geestelike vergeetagtigheid ʼn ernstige saak wat mense in die hel kan laat beland! Israel het sleg geruil – God vir waardelose gode: “Soos 'n voëlverskrikker in 'n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie” (Jer.10:5).
Jeremia kon nie begryp dat Israel vir God, wat hulle deur die eeue gedra het, vir stom gode kon verruil nie. Heidense volke verruil dan nie eens hulle gode vir ander gode nie! In hoofstuk 2 spreek God sy teleurstelling daarmee uit: “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie” (:13). Israel het haar kosbare genade in die wind geslaan!
Jer.2 neem die vorm van ʼn geregtelike klag aan. Die getroue God kla die ontroue Israel aan en spreek oordeel uit – hulle gaan vir lank swaar gestraf word. God se liefde vir Israel het egter nie daarmee opgehou nie. Sy oordeel staan nooit teenoor sy liefde nie maar vorm deel daarvan. God kon in sy liefde Israel nie net laat begaan nie. Hulle het sy straf verdien omdat hulle sy liefde vertrap het.
Met hierdie straf het God net een doel gehad – Israel moes van haar vergeetagtigheid genees word en in berou na Hom terugkeer. Sy was in die varkhok van die heidendom en het al te lekker in die modder van goddeloosheid gerol. Sy moes daaruit opstaan en na haar hemelse vader terugkeer dat Hy haar kon skoon was.
God bly nie vir ewig vir sy kinders kwaad nie: “...want 'n oomblik is daar in sy toorn, 'n lewe in sy goedgunstigheid....” (Ps.30:6). Hy is net vir ʼn wyle kwaad, maar lewenslank goed. Israel het die Here vergeet deur Hom buite rekening te laat. Die jare wat hulle God onthou het, het dit goed met hulle gegaan. Toe hulle Hom buite rekening laat, het dit al hoe slegter gegaan. En dis ʼn waarskuwing aan alle volke wat God eens geëer en toe bewustelik uitgesluit het!
Kyk maar na ons eie volk. Die ooreenkoms tussen ons volksgeskiedenis en dié van oud-Israel stem baie ooreen. Toe ons God geëer en verheerlik het, was die land voorspoedig. Ons het ʼn lae misdaadsyfer en hoë ekonomiese groei gehad. Daar was wet en orde; alles seëninge uit God se hand. “Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is....” (Ps.33:12).
Suid-Afrika het soos Israel geestelik ineen getuimel. Vrees, wanhoop, korrupsie en kerkmisleiding is aan die orde van die dag; die gevolg van geestelike geheueverlies. Ons staan ook soos ʼn bruid sonder haar trourok voor ʼn kansel.
Vir die ou Grieke was die onthou van die verlede ʼn baie belangrike deel van hul praktiese wysheid. Hoe meer lesse jy uit die verlede kon onthou, hoe beter het dit met jou gegaan. Dis ook vir gelowiges waar. Gelowiges moet egter nie IN die verlede leef nie maar UIT die verlede.
God se sorgsame bemoeienis met ons moet ons des te meer afhanklik van Hom maak. Moenie vergeet dat Hy ons met ʼn doel aan die suidpunt van Afrika geplant het nie. Sulke herinneringe moenie bloot serebrale oefeninge wees nie, maar in ons lewens verweef wees en met ʼn doel laat leef.
Israel het twee ballingskappe beleef. Hulle het God vergeet; God het hulle egter nie vergeet nie en na baie jare na hul land laat terugkeer. Dit kan ook met die ons volk gebeur. Ons is nie geografies in ballingskap nie maar sedert 1994 ideologies wel. Ons is nie op ʼn slagveld oorwin nie, maar deur ʼn getygolf van politieke en kerkverraad teen die rotse van onverskilligheid verpletter.
Skep egter moed, God het ons nie vergeet nie. Ons moet egter net aanhou bid dat Hy kragtig sal ingryp en ons nag in dag verander. Ons moet God bid dat Hy leiers sal stuur wat ons ideologiese land weer na ʼn geografiese land sal laat terugkeer – hierdie keer ‘n land met ‘n volk wat God nie sal vergeet nie. Mag God ons van ons sondige vergeetagtigheid genees en laat onthou om Hom te onthou!