ADINA SE BRIEWE (11)

 Dr JP Botha

Lees reeks by Adina se briewe

Hy kom na Jerusalem

Die inhoud van Adina se jongste brief aan haar vader, het hom in 'n groot mate geskok.  Hy het nie aan die waarheid van die gebeurtenisse wat sy oor Jesus geskrywe het, getwyfel nie, maar dat sy dogter openlik aan hom bely dat sy glo dat Jesus God self is, het hom laat besef dat sy vorige pogings om haar tot ander insigte te bring, gefaal het en dat dit nie sal help om maar weer aan haar die noodsaaklikheid van die handhawing van die Mosaïese wette voor te hou nie.  Daarom het hy besluit om maar 'n ruk lank geduldig te bly wag en nie haar briewe te antwoord nie, in afwagting dat daar moontlik in Jerusalem dinge sal plaasvind wat sal bewys dat hy en die Sanhedrin volkome reg is in hul oordeel oor die Nasarener wat so aanbid word.

Adina het hartseer gevoel oor haar pa se stilswye, maar sy het nie moed opgegee nie en weer aan hom geskryf:

Aan my liewe Pa na wie ek verlang,

Die kameelkaravaan van Alexandrië af het verlede week weer geen tyding van u saamgebring nie.  Ek was 'n ruk lank bekommerd dat u dalk siek is en nie vir my kon skrywe nie, maar pelgrims daarvandaan het aan oom Simon gesê dat hulle u by die universiteit gesien het en dat dit baie goed met u gaan.

Hier by ons staan Jerusalem op die vooraand van groot gebeurtenisse.  Ek weet dit, maar ek weet nie wat presies gaan plaasvind nie.  Jesus het met sy dissipels hierheen gekom om die paasfeesvierings by te woon.  Die strate en die paaie is vol mense en almal praat van Hom.

Hy het met sy reis hier na Jerusalem saam met sy dissipels al langs die grens tussen Judea en Samaria langs gekom.  Toe hulle naby 'n klein dorpie kom, hoor hulle 'n harde geroep wat oor en oor herhaal word.  Daar het tien melaatses op 'n afstand gestaan en skree:  "Jesus, Here, ag ontferm U tog oor ons!  Wees ons tog genadig!"

Jesus het hulle nader geroep en net gesê:  "Gaan na die priesters toe dat hulle julle kan sien."

Pappa, toe daardie tien siek manne daar wegstap, het hulle agtergekom dat hulle sommer so in die loop besig was om gesond te word.  Nege van hulle het bly aanstap, maar een het omgedraai en voor Jesus se voete kom neerval om dankie te sê.  Hy is 'n Samaritaan, 'n vreemdeling, wat God loof en prys oor sy genesing, terwyl die ander nege manne maar aanstap asof daar niks gebeur het nie.

Vanaf Jerigo was Jesus en sy dissipels nie meer alleen op die pad nie.  Die mense het ontdek dat hulle in aantog was en oral vandaan by hulle aangesluit.  Hulle het al met die Dooie See-vallei langs gekom en die dorpie Betanië ses dae voor die aanbreek van die fees bereik.  Daar het hulle by hul liewe vriende, Martha, Maria en Lasarus tuisgegaan.  Martha hulle het vooraf geweet dat Jesus hulle sou kom en het 'n feesmaal voorberei, ter ere van hulle beste Vriend.

Toe almal aan tafel was, het Maria opgestaan en 'n halfliter fles met baie duur nardusolie gaan haal.  Sy het dit oor Jesus se voete uitgegiet en met haar hare opgedroog.  Hieroor was Judas Iskariot vreeslik ontsteld.  Hy het gesê die olie is driehonderd pennings werd en Maria moes dit nie so vermors het nie.  Sy moes dit vir hom gegee het om te verkoop, sodat hy die geld aan die armes kon gee.

Pappa, dis darem jammer dat so 'n man een van Jesus se dissipels moet wees.  Jesus het hom aangestel om hulle geldsake te beheer, maar hy is oneerlik en neem gereeld van die geld wat hulle inkry vir homself.  Jesus het vir hom gesê die armes sal altyd daar wees om te versorg, maar Hy sal nie altyd by hulle wees nie.  Maria het dit gedoen met die oog op sy begrafnis.

Pappa, toe ek dit hoor, kon ek dit nie verstaan nie en ek begryp dit nou nog nie.  Waarom praat Jesus van sy begrafnis?  Hy sal mos nie toelaat dat hulle wat Hom so haat, Hom om die lewe bring nie?

Oom Simon het verlede week met 'n paar priesters en skrifgeleerdes gepraat wat vir hom gesê het hulle slyp hulle tande vir Jesus, as Hy met die paasfees Jerusalem toe kom.  Hy moenie dink Hy ken die skrifte beter as hulle nie, want wie het Hom dit ooit geleer.  Hulle wil sommer daardie Lasarus wat Hy weer lewendig gemaak het, ook bykom, want dit is deur hom wat almal nou skielik agter Jesus aanloop en dink Hy is wat wonders.

Miskien glo Pappa nie dat sulke praatjies uit die monde van ons geëerde volksleiers kom nie.  Ek bid dat hulle tog nie sal probeer om Jesus leed aan te doen nie.  Ek weet dat Hy die heilige Seun van die almagtige God is en dat Hy hier na die aarde gekom het om te kom red wat vir die hemel vir altyd verlore sou gewees het.  Al die mense wat van ander plekke af besig is om die stad binne te kom, praat aanmekaar van Hom as ons Koning.

Ek wil u nog vertel watter glorieryke intog Hy in die stad gehad het.  Die dag na die maaltyd in Betanië het Hy en sy dissipels die laaste paar kilometer na Jerusalem begin aflê.  Toe hulle by Betfage aan die Olyfberg kom, stuur Jesus twee dissipels die dorpie in om vir Hom 'n donkie te gaan haal wat daar êrens vasgemaak gestaan het.  Die eienaar van die donkie het hom vrywillig vir Jesus se gebruik afgestaan.  Hy het op hierdie rydier se rug die stad binnegery.

'n Groot aantal mense het langs die pad gestaan en al jubelende saamgestap.  Hulle het van hul klere oor die pad gestrooi en boomtakkies afgepluk en die pad daarmee nog verder versier.

Toe Jesus by die afdraande van die Olyfberg kom, het die groot skare uit volle bors 'n loflied aangehef en die Here begin loof en prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het.  Hulle lied het oor die stad weergalm:

"Geseënd is die Koning
wat kom in die Naam van die Here!
Vrede in die hemel
en eer aan God in die hoogste hemele!"

Langs die pad het 'n paar altyd teenwoordige Fariseërs gestaan, wat niks gehou het van die skare se lofprysing nie.  Hulle skree toe vir Jesus:  "Maak stil jou volgelinge!"  Jesus antwoord:  "As hulle stilbly, sal die klippe begin uitroep."

Die dissipel Johannes het vir ons vertel dat toe hulle die stad binnegaan, Jesus baie bewoë geword het.  Hy het vir hulle gesê dat Jerusalem nog heeltemal verwoes gaan word deur 'n vyand.  Al sy inwoners gaan omgebring word en die stad sal met die grond gelyk gemaak word, want hy het nie die betekenis van die tyd toe God gekom het om hom te red, besef nie.  Johannes sê God gaan Jerusalem straf omdat hy sy Seun verwerp het.

Jesus het direk na die tempel toe gegaan.  Daar het in die voorhof van die heidene baie onheilige dinge gebeur.  Dit het meer gelyk na 'n groot besigheidsentrum, as na die huis van die Here, waar sy Woord verkondig word.  Daar is lustig handel gedryf in die koop en verkoop van offerdiere.  Die lawaai en gekibbel oor pryse het by tye die gebulk en geblêr van die beeste en skape oorheers.

Jesus het vir Hom 'n sweep gemaak en tussen hulle ingespring.  Hy het hulle geldtafels omgegooi en almal, mense en vee, daar uitgedryf, onderwyl Hy uitroep:  "My Vader se huis moet 'n huis van gebed wees, maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak!"

Dit het alles verlede week op die palmsondag gebeur.  Jesus het die middag met sy dissipels na Betanië teruggegaan en die nag daar geslaap.  Oom Simon het die volgende dag 'n wa vol vrugte en groente na Betanië geneem, omdat hy bekommerd was dat hulle dalk nie genoeg kos gehad het om te eet nie, want ons het gehoor dat Jesus die volgende oggend op pad na die stad 'n vyeboom wat niks gedra het nie, vervloek het.  Die boom het onmiddellik verdroog.

Dit het Maandagoggend gebeur.  Jesus het na die tempel gegaan en die heeldag deur met die volk, wat Hom daar gesien en om Hom saamgedrom het, gepraat oor die koninkryk van God.  Die Fariseërs en skrifgeleerdes, wat maar altyd daar in die omgewing doenig is, het dit met groot argwaan gadegeslaan.  Op Dinsdagmôre het die priester- en familiehoofde daar in die tempel na Hom toe gekom, waar Hy besig was om met 'n aantal mense te praat.  Hulle vra toe vir Jesus, met watter gesag is Hy besig om die mense te leer.  Maar Jesus het vir hulle 'n weervraag gestel:  Is die doop van Johannes uit God, of deur mense ingegee?  Hulle was te bang om Hom te antwoord en daarom het Jesus ook geweier om hulle vraag te antwoord.

Daardie môre het ek en Salóme na die tempel gegaan om ook te gaan hoor hoe Jesus oor die koninkryk van God praat.  Daar loop ons toe vir Maria Magdalena raak.  Dit was 'n blye ontmoeting!  Sy het die vorige dag vanaf Galilea aangekom en by Betanië geslaap.  Johanna, die vrou van Gusa, wat altyd saam met haar vir Jesus en sy dissipels help versorg het, was by haar, en ook Maria, die vrou van Kleopas van Emmaus.

Ons het hierdie drie vroue laat die middag toe ons huis toe gaan, met ons saamgeneem, want hulle was feitlik sonder heenkome.  Tant Hanna het hulle met oop arms ontvang.  Ons wil hê hulle.moet hier tuisgaan so lank as wat Jesus in Jerusalem is.

Hy het voortgegaan om die mense meer van die koninkryk van God te leer, deur aan hulle betekenisvolle gelykenisse te vertel.  Ek het in een van my vorige briewe 'n hele paar daarvan vir Pappa vertel.

Die Fariseërs het intussen ook 'n poging aangewend om te kyk of Jesus nie iets teen die Romeinse keiser wil sê nie.  Hulle kom daar by Hom in die tempel en vra of dit reg is om belasting aan Rome te betaal.  Hy het toe vir hulle gewys dat die keiser se kop op elke geldstuk verskyn en dat hulle aan hom moet betaal wat hulle aan hom verskuldig is, maar dan moet hulle ook aan God betaal wat hulle aan Hom verskuldig is.

Hulle wou tog so graag vir Jesus in 'n woordestryd vastrek om te wys hoe slim hulle is, maar Hy het hulle keer op keer die mond gesnoer.  Hulle het selfs vir Hom gevra wat die groot gebod in die wet is.  Dink hulle dan Jesus ken nie die wet nie?  Hy het vir hulle gesê hulle moet God liefhê met hul hele hart, hul hele siel en hul hele verstand.  Hulle moet hulle naaste net so liefhê soos hulleself.

Een van hulle het dit Dinsdagnag gewaag om vir Jesus te gaan opsoek.  Sy naam is Nikodemus.  Hy was bang om in die dag te gaan en wou hê dat die ander Fariseërs nie moes weet van sy besoek aan Jesus nie.  Hy wou meer van die ewige lewe weet.  Jesus het vir hom gesê dat as 'n mens nie weergebore word nie, sal jy die koninkryk van God nie sien nie.  Nikodemus het dit nie begryp nie en toe het Jesus vir hom gesê dat God die wêreld só lief het dat Hy sy enigste Seun gee, sodat almal wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Pappa, ek weet nie of Nikodemus dit verstaan het nie.  Die ander Fariseërs verstaan dit gladnie en glo dit ook nie, want hulle haat Jesus al so verskriklik dat hulle Hom net wil doodmaak.

Hulle het die Woensdagoggend in versterkte geledere daar by Jesus in die tempel aangekom, waar Hy besig was om die mense van die ewige dinge te leer.  Toe hulle weer met Hom begin redeneer, het Hy hulle huigelaars en blinde dwase genoem, wat die buitekant van die beker en die skottel skoonmaak, terwyl dit aan die binnekant vol hebsug en roof is.  Hulle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk, maar binneïn vol doodsbeendere en gruwelikhede is.  Jesus sê hulle lyk vir die mense vroom, maar van binne is hulle vol huigelary en minagting van die wet.

Pappa, die skrifgeleerdes en Fariseërs het natuurlik gladnie daarvan gehou om so die naakte waarheid oor hulleself te hoor nie.  Maria Magdalena het daar naby gestaan toe Jesus so met hulle en die mense gepraat het.  Sy sê hulle het almal uit die tempel gestap, in die rigting van die paleis van Kajafas, die hoëpriester.  Daarna het sy gehoor dat al die lede van die Sanhedrin daar bymekaar gekom het om te besluit wat hulle met Jesus gaan doen, want hulle kon dit nie meer langer verdra dat feitlik die hele volk agter Hom aangaan en Hom as 'n groot profeet vereer nie.

Pappa, toe het daar iets wonderliks gebeur.  'n Heerlike voorreg het die huis van oom Simon te beurt geval.  Daardie Woensdagmiddag het die twee dissipels, Petrus en Johannes, kom aanklop en gesê dat Jesus hulle na die huis van Simon wat naby die Skaappoort woon, gestuur het om te sê dat hulle graag die paasfees in die bovertrek van oom Simon se groot huis wil vier.  Dit was vir oom Simon en tant Hanna en vir ons  -  ook vir die vroue wat hier tuis  is  -  wonderlike nuus.  Ons almal het onmiddellik met voorbereiding vir hierdie groot herinneringsfees oor die uittog uit Egipte, begin.  Ons het die paaslammers en ongesuurde brode en die bitter sous vir Jesus-hulle in die bovertrek gereed gemaak en ook vir oom Simon se huisgesin en die vroue in die groot woonkamer van die huis.

Dit het alles gister plaasgevind.  Dit was Donderdag.  Teen sononder het Jesus met sy dissipels gekom en in die bovertrek hulle plekke ingeneem.  Die ander het in die woonkamer dieselfde gedoen.

"n Rukkie later, toe ons almal met die viering besig was, het die dissipel Judas Iskariot met die trap afgestap gekom en sonder 'n woord by ons verbygegaan en by die deur uitgestap.  Hy het nie weer teruggekom nie.  Later het die dissipel Johannes vir ons vertel dat Jesus vir hulle gesê het dat een van hulle Hom gaan verraai.  Almal was daaroor baie ontsteld en Johannes het saggies vir Jesus gevra wie dit is.  Jesus het vir hom gesê dit is die een wat saam met Hom sy brood in die skottel insteek.  Judas het dit gedoen.  Toe sê Jesus vir hom, wat hy van plan is om te doen, moet hy nou gaan doen; hy moenie langer wag nie.

Ek weet nie wat dit beteken dat hy Jesus gaan verraai en hoe hy dit gaan doen nie.  Ook verstaan ek ook nie waarom Jesus, wat tog alles weet, so'n man gekies het om een van sy dissipels te wees nie.

Ek wonder of daar nie nog 'n dissipel ontrou aan Jesus gaan word nie.  Hy het glo vir Petrus vroeg vanaand gesê dat hy Hom vannag driemaal gaan verloën voordat die haan sal kraai.  Petrus was verbaas en het dit natuurlik ten sterkste ontken.

Johannes vertel dat Jesus vroeër vanmiddag 'n skottel met water geneem het en die dissipels se voete gewas het.  Petrus wou dit nie toelaat nie.  Toe sê Jesus vir hom dat hy dan geen deel aan Hom het nie.  Daarna wou Petrus hê Jesus moes sommer sy hande en gesig ook was!

Ek skrywe hierdie dingetjies vir Pappa, sodat u kan sien hoe nederig Jesus is.  Hy is so anders as die hovaardige skrifgeleerdes en Fariseërs wat so neersien op die gewone mense.  Johannes sê Hy het gister spesiaal net vir sy dissipels gebid en vir sy Vader gevra om tog na hulle om te sien en hulle veilig te bewaar in hierdie vyandige wêreld, omdat Hy nie meer langer by hulle gaan bly nie.

Johannes het ook vir ons vertel dat toe hulle klaar die pasga geëet het, het Jesus 'n wonderlike ding gedoen.  Hy het na die maaltyd van die brood geneem, dit gebreek en vir elkeen 'n stukkie gegee om te eet.  Hy het gesê dat dit sy liggaam is wat vir hulle gebreek word.  Toe neem Hy die drinkbeker en laat elkeen net 'n slukkie van die wyn daarin drink.  Hy het gesê dis sy bloed wat vir baie gestort word tot vergifnis van sondes.

Johannes sê hy dink hy verstaan wat Jesus met hierdie nagmaal-instelling bedoel het, maar hy is nog nie seker nie.  Ek kan ook nie vir Pappa vra nie, want ek weet u glo gladnie in Jesus nie.  Ek voel vanaand so onrustig, want waarom praat Hy van sy liggaam wat gebreek word en sy bloed wat gestort word?  Hy het vir sy dissipels gesê dat Hy nog net 'n klein tydjie by hulle sal wees.  As dit beteken dat Hy net iewers heengaan, sal Hy mos weer terugkeer om by ons te wees, maar Hy het so dikwels al met sy dissipels van sy dood gepraat, dat ek van gisteraand af baie onrustig is.

Hy het met sy dissipels die fees daar in die bovertrek met die sing van 'n lofsang afgesluit, en voordat hulle die huis verlaat het, vir oom Simon en ons ander bedank vir ons aandeel aan die feesverrigtinge.  Daarna het Hy met sy dissipels in die rigting van die Olyfberg gegaan.

Pappa, dis al of iets of iemand vir my sê dat daar vannag of môre nog iets onheilspellends gaan gebeur.  Mag dit tog nie so wees nie!

 

Van u dogter  Adina.