Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is daar onmin in u gesin, dalk verbitterde familie met verharde harte wat weier om met mekaar te praat, dalk kinders wat sukkel om die reguit pad te stap? Kom ons bid gereeld: "Ons Vader in die hemel, ons pyn is werklik maar U ken dit. Laat ons asseblief u troostende aanraking in ons harte voel. Help ons om die mense wat mekaar en vir ons so seermaak, lief te hê met die liefde waarmee U ons liefhet. Vervul hulle en ons harte met u vergifnis. In Jesus se Naam. AMEN".
DIE BYBEL WAARSKU OOR DOBBEL
Christene in Suid-Afrika: Hoor wat die Bybel oor dobbelpraktyke sê!
Anita Joubert
Die Here het onlangs vir my die opdrag gegee om hierdie boodskap uit te stuur. Ek wou egter eers seker maak dat ek die regte doen, en daarom het ek vir ʼn bevestiging gevra. Meer helder en duidelik as wat Hy dit vir my gegee het, kon ek nie voor vra nie.
Hierdie boodskap is bedoel vir elkeen in hierdie land wat homself ʼn volgeling van die Here Jesus Christus noem, en dink dat daar niks mee verkeerd is om so ʼn bietjie te dobbel of om die Lotto te speel nie. Dit is só – en dit is baie hartseer – dat mense dikwels dinge uit onkunde doen. Die Here sê in Hosea 4:6 dat sy volk te gronde gaan weens ʼn gebrek aan kennis. Dit is die 1953-Afrikaanse Vertaling. Die 1983-Vertaling stel dit so: “My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie.” As ons toegewyd aan die Here lewe, dan lees ons die Bybel en weet en glo wat daarin staan.
Hoor vandag wat die lewende God van dobbel sê: “Maar julle wat die Here verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ʼn tafel dek vir die geluksgodin en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot, Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal buig om geslag te word . . .” Die 1983-Vertaling gebruik die name van die twee afgode, Gad en Meni. In vers 12 sê die Here: “Ek, die Here, gaan julle straf met die dood, julle sal almal inmekaar sak en doodgesteek word, omdat julle nie geluister het toe Ek geroep het nie.”
Gad en Meni is twee Babiloniese afgode wat met geluk en die noodlot geassosieer word. In die Griekse afgodediens is daar ook die geluksgodin met die naam Tyche (Taikéé), en die Romeine se geluksgodin is Fortuna. Al hierdie volke het geglo dat deur hierdie afgode te vereer, dit vir hulle geluk sou bring, en dit is presies wat gedoen word elke keer wanneer aan hierdie dobbelpraktyke meegedoen word – die tafel word gedek om hierdie geluksgode te vereer.
Daar was onlangs op Kyknet ʼn program wat oor plaasmoorde gehandel het. Dit is absoluut skrikwekkend om die wreedheid te sien waarmee die mense vermoor word. Die vermoordes se bloed is die hele huis vol en in sommige gevalle loop dit selfs teen die mure af. Ek het met ontsettende afgryse daarna gesit en kyk en die Here het hierdie teksvers letterlik in my ore laat weerklink. Ons dien ʼn God van liefde en genade, een van sy sewe Name, beteken “Die Here voorsien” (Gen 22:14). Wanneer ʼn volk egter onder sy beskermende hand uitbeweeg en willens en wetens afgode vereer, dan dra hul die gevolge daarvan.
Dr Willie Marais was ʼn bekende prediker in die N.G. Kerk vanaf ongeveer 1950 tot in die laat 1990’s. Hy het verskeie boeke geskryf, onder andere ook ʼn verhaal oor sy eie lewe, met die titel: “ ʼn Man van God gestuur.” Dr Willie vertel daarin dat hy as jong predikant, toe Zimbabwe nog Rhodesië was, koerantuitknipsels gebêre het van al die persone wat die destydse Rhodesian Sweepstakes gewen het. Feitlik elke een van daardie mense het aan ʼn vreemde, onnatuurlike oorsaak gesterf. Hy vertel ook in sy boek, dat hy die predikant was van die gemeente waar John Vorster, tydens sy ampstermyn, ʼn lidmaat was. Hy het hom dus goed geken en toe dr. Willie gehoor het van die Bonus Obligasies wat deur die Regering ingestel sou word, het hy hom gebel en gesmeek om dit nie toe te laat nie. Vorster se antwoord aan hom was: “Jammer Doktor, maar die Kabinet het klaar besluit.” Dr. Willie vertel dat die woord van die Here wat hy daardie dag aan Vorster moes oordra, was soos volg: “God het dan ook klaar oor Suid-Afrika besluit”. Wat ʼn hartseer dag! Ons dra al vir 29 jaar die gevolge daarvan in hierdie land. Hoe lank wil ons nog daarmee aanhou? Vir diegene wat nie weet wat die Bonus Obligasies was nie – dit was ʼn manier waarop die Nasionale Regering landsburgers aangemoedig het om geld in die Regering te belê, deur Bonus Obligasies te koop. Dit het presies soos loterykaartjies gewerk en van tyd tot tyd is daar gelukkige nommers getrek en sogenaamde bonusse is uitbetaal. Duisende ou mense en naïewe landsburgers het hulle beleggings gaan onttrek en daarin belê, want die Regering bedoel dit dan tog só goed...
Vir al die predikers wat oor hierdie dinge tjoepstil gebly het, sê die Here: “Ellende wag vir julle, herders deur wie my skape uit my kudde doodgemaak en verstrooi word. Julle het my skape nie opgepas nie, en daarom gaan Ek julle straf” (Jer. 23:1-4).
Lank gelede was ons vir ʼn klomp jare lidmate van ʼn groot, bekende gemeente in Pretoria. Toe daar in ʼn stadium reëlings getref is vir ʼn kerkbasaar, het die reëlingskomitee besluit om ook deur middel van so ʼn proses van kaartjieverkope met gelukkige nommers, heel interessant saamgestel, ʼn groot klomp geld te probeer insamel. Ek het natuurlik ernstig beswaar gemaak by die Kerkraad, en omdat ekself ʼn Kerkraadslid was, kon hulle my nie sommer net ignoreer nie, en die hele projek is toe geskrap. Die Sondagoggend na die basaar, het een van die predikante, nie die leierpredikant vir wie ons groot respek gehad het nie, ʼn hele preek gepreek oor Spreuke 27:15-16:
“Die gedrup uit ʼn dak wat lek op ʼn reëndag, so is ʼn vrou wat aanhou kyf. Wie haar probeer keer, kan net so wel die wind probeer keer of olie met sy hand probeer vashou.”
Mens kan jou net voorstel watse sinlose preek daaroor gepreek kan word, en niemand in daardie kerkdiens, waar daar bykans ʼn duisend lidmate gesit het, behalwe ons gesin, het geweet waaroor dit gaan nie. Ek was daardie dag so hartseer om te dink dat iemand, aan wie só ʼn kosbare geleentheid gegee is om aan soveel mense geestelike voedsel te gee, dit só misbruik, net omdat hy nie sy sin gekry het nie.
Petrus skryf in 1 Petrus 5:2: “Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op.” In hoofstuk 4:17 sê hy dat die oordeel by die huis van die Here gaan begin.
Ons moet nooit vergeet dat Satan ons as gelowiges dag en nag by God aankla nie (Op. 12:10). In Sagaria 3:1-2 sien ons ook dat Satan vir die hoëpriester Jesua, aangekla het. Paulus skryf in Romeine 8:33 dat Jesus vír ons pleit en die Hebreërskrywer sê dat ons met vrymoedigheid na die genadetroon van God toe gaan, omdat ons ʼn Hoëpriester het wat vir ons intree by God. Die vraag is net: kan ons met vrymoedigheid gaan, as ons willens en wetens aanhou om afgode te dien, en dit nadat die Here Jesus die hoogste prys denkbaar, sy lewe, gegee het om vir ons redding te betaal?
My smeekgebed is dat elke Christen in hierdie land, sal hoor wat die Here sê. Ons het by die punt gekom waar ons die keuse sal moet maak, en ek moet dieselfde vraag vra wat Elia vir die Israeliete by die Karmelberg gevra het: “Hoe lank gaan julle nog hink op twee gedagtes? As julle die Here, die lewende God wil volg, doen dit! As julle egter afgode wil dien en vereer, doen dit!” Maar weet net dat julle die gevolge gaan dra. God is ʼn God van liefde, maar Hy is ook heilig en regverdig. Hy haat sonde en Hy eis onverdeelde trou aan Hom. God het Suid-Afrika besonder lief, en Hy het ʼn baie besondere plan met hierdie land nou in die eindtyd, maar of dit gaan realiseer, is ons keuse. Net soos wat Hy niemand dwing om tot bekering te kom nie en aan elke mens ʼn vrye wil gegee het, net so sal ons moet besluit of ons gaan voortgaan om die dobbelbase in Suid-Afrika verder te verryk.