Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In ligter luim: het u al opgemerk dat mense wat nie kinders het nie, presies weet hoe jy joune behoort groot te maak? Maar moenie toelaat dat mense jou vertel dat jy dalk te veel liefde aan jou kinders gee nie. Liefde kan nie gemeet word nie.
ONS NUWE LEIERS SAL WEES...
...manne en vrou wie se harte in die bloed van Jesus gewas is
Mense wat hul as leiers voorgedoen het, het ons of verraai of hakskene gewys toe die poppe begin dans. Ons het ʼn bitter slegte ding oorgekom! Maar laat ons eerlik wees - ons het ʼn belangrike les geleer: Moet op prinse nie vertrou nie! Ons het geglo dat mense - politici en kerkleiers - ons uit die penarie sou red. Toe gebeur die teenoorgestelde. En dit het ons vryheid gekos.
“En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here: hulle het die Baäls gedien en die Here, die God van hulle vaders, verlaat… Maar wanneer hulle dan in groot benoudheid raak, verwek die Here rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers” - Rig. 2:10,15,16
God gebruik soms onwaardige mense as kragtige instrumente in sy diens. Ja, Hy slaan reguit houe met krom stokke, soos in die tyd van die Rigters gebeur het. Ná die dood van Josua het Israel onverskillig teenoor hul verlede geword en geestelik verval. Op daardie stadium was al die mense wat saam met Moses uit Egipte getrek het, feitlik almal dood. Die wonder van God se ingryping, die volksbevryding en die gedagtes aan die grootse belewenis met God in die woestyn, het so goed as verdwyn!
Nadat die Israeliete in Kanaän gevestig geraak en voorspoed leer ken het, het hulle die Here vergeet. En ʼn volk wat die Here vergeet, het min erg aan sy verlede. Dit het met Israel gebeur en daarna ook met baie ander volke, soos ons eie een! ʼn Liefde vir God en liefde vir die volk loop hand aan hand. ʼn Volk wat God eers dien en daarna vergeet, skep ʼn lugleegte wat deur bose dinge gevul word soos met Israel gebeur het: “...en hulle het agter ander gode aangeloop ... en die Here geterg” (:12).
Een ding moet die mens weet – God is heilig en laat Hom nie bespot nie; veral nie met afgode nie! Daarom sê God in Ex.20:5 dat Hy ʼn jaloerse God is. Dit beteken dat Hy sy liefde met niemand deel nie. Soos wat daar in ʼn huwelik geen plek vir ʼn derde persoon is nie, was daar vir Israel geen ander liefde as vir God nie. En as hulle oortree en ontrou geword het, het Hy hulle gestraf deur hulle vir ʼn tyd lank in die hand ʼn vyand oor te gee. Desondanks het Hy hulle nooit afgeskryf en die werk van sy hande laat vaar nie.
Vers 15 begin met maar : “Maar wanneer hulle dan in groot benoudheid raak, verwek die Here rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers”. Die volksvyand word as rowers beskryf; mense wat deur roofsug gedryf is. Plundery is een van die kenmerke van heidene. Wat ʼn omvang neem dit nie in ons eie land aan nie!
Ten spyte van straf, het God altyd in Israel se uur van nood ingegryp en nuwe leiers na vore laat tree. Gevolglik getuig hierdie maar aan die begin van vers 15 van God se ingryping teen ʼn skynbaar hopelose verloop van sake. Ten spyte van Israel se afvalligheid het God haar nie afgeskryf en verlaat nie, maar uit haar midde mense na vore laat kom om sy volk van die heidene te bevry.
Midde-in die somber verhaal van Israel se afvalligheid en verdiende loon, staan die maar van God se genadige bemoeienis met dit wat syne is. Hy kon Israel afgeskryf en tot niet laat gaan het, maar Hy doen dit nie. In sy groot liefde vir sondaars steek Hy sy hand na Israel uit en help sy kind wat geval het. Wat ʼn ongelooflike liefde het God nie vir sondaars nie! Ons sal dit nooit verstaan nie!
God gryp in die lotgevalle van almal wat Hom liefhet in. Ook in dié van volke wat soos die verlore seun tot besinning kom en na sy vader terugkeer. Geen leier is die bloudruk van menslike volmaaktheid nie. Baie van hulle is krom en onvolmaakte sondaars met wie Hy reguit houe slaan.
Kyk maar net hoe krom was baie van sy stokke nie in die tyd van die Rigters nie. Barak het aan die rokpante van ʼn vrou vasgehou. Gideon het in ʼn parskuip weggekruip. Simson kon los vrouens nie weerstaan nie. Jefta se ma was ʼn prostituut - almal krom mense wat na swak mensemateriaal gelyk het.
Die wonder is dat God dit wat skeef en krom is reguit en diensbaar maak. In sy hande word enige uitskotproduk ʼn meesterstuk. God beskik dit dat krom en verdraaide mense bo hulle omstandighede uitstyg en roemryke oorwinnings vir Hom en hul volk behaal.
Niks is vir God onmoontlik nie. Met die staf in Moses se hand het God selfs die see oopgekloof. Later laat Hy selfs water uit ʼn rots vloei en manna in die woestyn val. God het Aaron se dorre kierie laat bot en amandels laat dra. Hy laat selfs die kurkdroë hout van ons dor lewens bot en bloei deur in Christus ons tekortkominge op Hom te neem: “Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem, en ons smarte – dié het Hy gedra...” (Jes.53:4).
Die maar van vers 15 is ʼn baken van hoop; ook vir ons Boerevolk wat swaar onder ʼn heidenregering gebuk gaan. Soos wat God die maar as ʼn ligbaken op Israel se donker pad geplant en verhoed het dat helse magte die oorhand oor sy volk kry, doen Hy dit vandag nog met almal wat Hom eer.
God laat sy kinders nooit in die steek nie. Ten spyte van hul afvalligheid staan Hy by hulle. Wanneer die nag op sy donkerste is, gryp Hy in en maak dit lig. “Maar julle is ʼn uitverkore geslag, ʼn koninklike priesterdom, ʼn heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet.2:9).
Ons volk se toekoms lyk donker. Heidenpolitiek oorstroom al hoe meer ons eens rustige samelewingsterrein. Afgodsdienaars wedywer met mekaar in die afwaartse spiraal van ellende. Daar is onweer in die lug. Doemprofete voorspel lelike dinge vir die toekoms. Soms voel ons soos skape wat deur wolwe op ʼn hoop gejaag word, diere wie se bekke vir die groot slagting kwyl.
Een van die grootste bekommernisse onder volksgenote is dat ons nie leiers het nie. Mense wat hul as leiers voorgedoen het, het ons of verraai of hakskene gewys toe die poppe begin dans. Ons het ʼn bitter slegte ding oorgekom! Maar laat ons eerlik wees - ons het ʼn belangrike les geleer: Moet op prinse nie vertrou nie! Ons het geglo dat mense - politici en kerkleiers - ons uit die penarie sou red. Toe gebeur die teenoorgestelde. En dit het ons vryheid gekos.
Is dit klaar met Kees? Gaan die heidene die laaste lag? Nee, om die eer van God nooit! God sal op sy tyd die werk van sy hande herbevestig en uit hierdie verloopte volk weer volksleiers na vore laat kom wat, soos die rigters van ouds, hierdie volk na God sal teruglei!
Wat kan ons die Here intussen aanbied? Hét ons iets om Hom aan te bied? Niks nie; slegs die dor hout van ons krom en afvallige lewens. Maar in sy hand word sulke uitskotprodukte meesterstukke en met die dor kierie van ons volkslewe kan Hy vir ons ʼn pad in die see van wanhoop oopkloof en ons na vryheid lei.
As die nood op sy hoogste is, gaan God vir ons die nodige leiers stuur - manne en vrou wie se harte in die bloed van Jesus gewas is. God sal hulle met ʼn heilige roeping begeester om hierdie volk aan die suidpunt van Afrika na Hom toe te laat terugkeer en hulle van die heidendom te verlos. En geen mag ter wêreld gaan Hom keer nie!