Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wonder ons soms waarom ons as 'n volk van die Here, nie rustig en in vrede kan saamleef nie, waarom ons voortdurend rusie met mekaar soek, mekaar verraai, verneder en vernietig? Daar is net een grondslag waar dit verkeerd geloop het: Jesus het die wetgeleerde op sy vraag wat die "groot gebod in die wet is" só geantwoord: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede wat gelyk hieraan staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Ons verskeurde ou volkie weet nie meer wat naasteliefde beteken nie. En as ons die tweede gebod nie eers kan onderhou nie moet ons onsself nie bluf en dink dat ons God so liefhet as wat Hy ons beveel nie. En dan wil ons nog aanspraak maak op die voorregte van 'n volk van God!
JESUS HET UIT DIE DOOD OPGESTAAN
Ds A.E. van den Berg
“En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof 1(1 Kor.15:14).
Ek is seker dat nie een van ons Jesus se opstanding uit die dood bevraagteken nie. Ons bely Sondae dat sy opstanding uit die dode ʼn onbetwisbare geloofsfeit en ʼn kernwaarheid van die Christendom is. Met dié belydenis hoop gelowiges nie dat Jesus uit die dood opgestaan het nie, hulle glo en weet dit van harte.
Ongelukkig glo almal dit nie. Selfs op kerklike terrein is daar talle ontspoorde teoloë wat nie glo aan ʼn fisiese opstanding van Jesus uit die dood nie en leer hulle hul studente dat die opstanding eerder vergeestelik en baie anders verstaan moet word as wat die Bybel sê. Dis skokkende dwaalleer!
Desondanks tree die betrokke kerkverbande nie daarteen op nie terwyl sulke dosente tugwaardig is. Tug word nie net op ergerlike lewenswandel toegepas nie maar ook op dwaalleer. Dit word leertug genoem. Leertug wil verhoed dat die onkruid van dwaalleer in gesonde beddings beland en wortel skiet. Indien ʼn kerk dit nie doen nie, is dit nie suiwer nie en behoort ʼn lidmaat sonder enige gewetenswroeging daardie kerk te verlaat soos wat ek in 1987 gedoen het.
Wat glo ons in die AP Kerk oor Jesus se opstanding? Dat dit wat die Bybel daaroor leer, die volkome waarheid is. Alhoewel die Bybel nie ʼn geskiedenisboek is nie, klink die gebeure van die opstanding soos ʼn geskiedenisfeit omdat Jesus se opstanding in die geskiedenis ingebed is.
In 1 Kor.15 lees ons van ses van Jesus se verskynings aan mense na sy opstanding. Daarbenewens is die Evangelies helder en duidelik oor hierdie heilsfeit – Jesus het werklik opgestaan!
Vir ons in die AP Kerk is die opstanding van Jesus ʼn heilsfeit wat vas en seker staan. Ons bely dit nie omdat ons hoop dat dit wel gebeur het nie, maar omdat ons dit vir ʼn feit weet. Dis ʼn gebeure wat ons ganse geloofslewe beïnvloed. Daarsonder sou ons geloof soos die melkweg sonder ʼn ster wees!
Jesus se opstanding het vir gelowiges oneindige betekenis. 1 Kor.15 leer dat daar ʼn direkte verband tussen Jesus se opstanding en ons geloof is. Indien Jesus nie opgestaan het nie, was Hy maar net soos enige ander groot figuur in die geskiedenis. Hy sou miskien ʼn held wees maar net soos al die ander groot figure wat gesterf het, sou sy invloed nou verby wees.
Niemand verwag iets van ʼn dooie mens nie. Nee, ons vereer nie ʼn dooie Jesus nie maar ʼn lewende Jesus wat aan die regterhand van God is. Paulus sê: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof“.
Hier staan letterlik geskrywe dat ons geloof leeg sou wees. Net so min as wat sout uit ʼn leë soutpot geskud kan word of water uit ʼn droë put opgetrek kan word, net so nutteloos sou ons geloof sonder die belydenis van Jesus se opstanding wees. Dan kan ons maar net so wel in Maria, Boeddha of Alla of een van die ander afgode glo. Dit sou geen verskil gemaak het nie!
“... en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes” (:17). As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, sou ons verlossing soos ʼn huis wat halfpad gebou is, onvoltooid wees. Nee, Jesus het nie halfpad gebou nie maar met sy opstanding het Hy dit wat Hy begin het, voltooi.
Toe Hy uit die dood opgestaan het, was dit God se ja op dit wat op Golgota gebeur het. Die Golgota-gebeure was nie iets wat uit God se hande geneem en deur mense verongeluk is nie. Jesus se lyding en dood was van die begin af deel van God se verlossingsplan en is deur die opstanding bevestig.
Dinge sou nie anders gebeur het nie. Jesus moes sterf om versoening vir ons sondes te bewerk. En as beloning het God Hom laat opstaan. Omdat dit gebeur het, is ons geloof nie leeg soos dié van afgodsdienaars wie se gode almal dood is nie. Nee, ons glo aan ʼn lewende Jesus wat ons van sonde en ʼn ewige dood verlos het en dank Hom daarvoor.
In 1 Kor.15:20 gebruik Paulus ʼn treffende voorbeeld: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het”. Let op die woord eersteling.
Eersteling is ʼn bekende OT begrip: “Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrengs oes, moet julle die eerstelinggerf van julle oes na die priester bring” (Lev.23:10).
Die eerste gerf het die hele oes verteenwoordig. As die priester dit geseën het, was dit ʼn waarborg dat die hele oes geseënd sou wees. Deur die eerste gerf aan God te offer, is die hele oes simbolies aan Hom geoffer.
Paulus sê dat Jesus, wat uit die dood opgewek is, die eerste gerf is en vir gelowiges wonderlike betekenis het. Met sy opstanding waarborg Jesus dat ons ook eendag uit die dood sal opstaan. Dis seker een van die gerusstellendste geloofsfeite denkbaar. Die dood is nie die einde van my nie! Ek sal weer opstaan. Jesus se opstanding is die waarborg!
Mense praat nie graag oor die dood nie. Dit word allerweë as die mens se grootste vyand beskou. Die mense van Korinte het ook so daaroor gevoel.. Nogtans praat Paulus met hulle daaroor – op die regte manier. Hy maak dit nie los van Jesus se opstanding nie. En dis presies hoe gelowiges oor die dood moet praat; Jesus se opstanding behoort ter sprake te kom. Wie dit uitlaat, is in der waarheid bitter bang vir die dood!
Gewapen met die sekerheid dat Jesus uit die dood opgestaan en daarmee die dood oorwin het, kom Paulus as’t ware uitdagend voor die dood staan: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? (:55).Wat sê Paulus nou eintlik? “Omdat Jesus uit die dood opgestaan het, kan jy my nie vernietig nie!”
Jesus se opstanding verseker gelowiges van ʼn ewige geluksalige toekoms by God. In hierdie lig verstaan ons Joh.14 duideliker: “ Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh.14:1-3).
Ons sien ook iets van die belofte van ʼn opstanding in die natuur wanneer dorre plante en gras weer groen word. Dit wat dood was, kry weer lewe. Kom ons dank God opnuut vir die betekenis van Jesus se opstanding uit die dood vir ons lewens. Kom ons sê vanoggend uit dankbaarheid vir Jesus se opstanding en sy belofte van ʼn lewe saam met Hom, vir die dood: “Whê, jy kan my nie vernietig nie!”