CHRISTENE SE OPGEWONDENHEID

Stephanus Hennig

Die doel van my skrywe is om die Christen wat nog in ons dag 'n brandende begeerte ondervind om God te dien, te help om die strategie van die vyand, van al die kinders van God, te ken.

Die aanval wat die vyand op die kinders van God uitvoer, is om die verstand te beheer, want as die mens se verstand beheer word, word die hele mens beheer. As ek dit in dié terme kan aanvoer, wil ek dit waag om te sê, dat die groot geveg van die duiwel, om die mens van God afvallig te maak, sielkundig van aard is.

Daarmee bedoel ek dat die aanval van die duiwel, op die skepsel van God, eerder op die gees as op die vlees gemik is.

Die werklike geveg is in die geesteryk - Efé.6:11,12.

Die vlees word dus net as 'n afsetmiddel gebruik om die werklike doel van afvalligheid in die gees te bewerk.

Omdat die vyand 'n grondige kennis van die skepsels van God besit, is al sy aanvalle dan ook doelbewus gerig op die natuurlike samestelling van die mens. En omdat die verstand van die mens die primêre faktor is in alle keuses wat die mens ook al mag maak, poog die vyand om die verstand oor te neem of te verduister, sodat alle keuses van die mens ooreenkomstig sy wil gedoen kan word.

Vandag erken 'n sekere groep (Illuminati) openlik dat hulle die bevolkingsgroepe van die wêreld deur hulle verstand rig en beheer. Die onmiddellike vraag by elke ernstig denkende Christen sal wees: "Hoe doen hulle dit?"

Daar is duisende Christene wat 'n belydenis van bekering het, maar tog slawe geword het van hierdie geweldige maalstroom van morele afvalligheid, wat dreig om alles in sy pad mee te sleur.

Hierdie Christene, weens 'n gebrek aan kennis, hou vas aan 'n hoop wat geen hoop is nie, maar 'n valse hoop. En botweg weier die meeste van hulle om hulle morele afvalligheid te erken wanneer jy hulle daaroor waarsku.

Tog is die Skrif baie duidelik wat sê: "Baie sal probeer om in te gaan in die koninkryk van God, maar weinig sal in staat wees." Net die oorblyfsel sal gered word.

Mat 20:16; 22:16; Luk 13:24

Maar graag, my broeders, pleit ek by God vir die behoud van sy kinders sodat nie net 'n paar nie, maar baie gered mag word. O!, mag sy genade in ons tyd nog meer oorvloedig word sodat baie van sy kinders gered en verlos mag word van die strik van die duiwel.

Hoe neem die vyand besit van die mens se verstand?

Die werkers van die ongeregtigheid wat wel die wêreld wil inneem en poog om die mensdom deur die verstand te onderwerp – om hulle verstand te verduister sodat dit vervaag, is in ons tyd druk besig hiermee, en het grotendeels geslaag omdat dit tyd geword het vir die UUR van die DUISTERNIS wat oor die hele wêreld kom.

Ware verstand is om God te ken en die NATURE wat Hy aan al sy skepsels gegee het en sy WETTE wat die HEELAL beheer en ooreenkomstig hiermee te leef.

Hoe gaan die vyand dus te werk om hierdie verstand wat ons van God het te verduister en dan oor te neem, en só die wêreld, volgens hulle voorneme, te rig of te beheer?

Die antwoord is eintlik baie eenvoudig. Hulle doen dit deur opgewondenheid te bewerk. Wêreldse opgewondenheid maak die mens afvallig van God, maar die geestelike opgewondenheid trek die mens nader aan sy Skepper.

Daar is baie middele tot opgewondenheid in die wêreld. Dit moet ook so wees om die onversadigbare drange van die mens tevrede te stel.

Omdat 'n samelewing wat deur selfsug gerig en beheer word so 'n ontoereikende magdom van verskillende drange en begeertes openbaar, is al hierdie dinge deur die vyand in die wereld gebring om die mens afvallig te maak.

Omdat baie kerkleiers besef het dat, weens die opgewondenheid in die wereld, die jongmense geen begeerte meer het om kerk toe te kom nie, as gevolg van 'n gebrek aan opgewondenheid in die kerk, het hulle baie wêreldse metodes in die kerk ingebring om sodoende opgewondenheid te bewerk.

Ek is nie gekant teen nuwe metodes om die gees van Christene te laat herleef in die kerk nie maar nooit sal ons die gees kan laat herleef tot WARE DIENSBAARHEID teenoor onse Skepper deur wêreldse metodes nie.

Dit is die Gees wat lewend maak. Maar dit wat die vlees opgewonde maak, kan nie ook die gees opgewonde maak nie, want hulle is vyande van mekaar en hulle begeertes en neigings verskil soos lig en duisternis van mekaar – Gal.5:16,17.

Die mens is 'n slaaf van, en onderwerp hom aan dit wat hom ooreenkomstig sy hart opgewonde maak. Aan die hoogste opgewondenheid sal die mens homself oorgee as dit pas by sy begeertes en neigings. Niks kan die mens opgewonde maak wat die hart nie aanvaar het as 'n middel tot bevrediging van sy begeertes nie.

Dit wil sê, as 'n mens se hart geneig is tot selfsugtigheid en sy sterkste begeerte byvoorbeeld na rykdom is, sal enigiets wat aanleiding tot hierdie doel gee, hom opgewonde maak.

Maar die geestelike mens, wie se hart altyd neig na liefdadigheid, kan net deur geestelike dinge opgewonde gemaak word. Dit is egter alleen die geestelike dinge wat die mens ten volle kan tevrede stel.

Die tydelike dinge kan net gedeeltelike genot verskaf omdat dit self verganklik is. En net soos dit self sal vergaan, so sal ook die tydelike vrede daarin vergaan, om in uiterste en ewige ellende en smarte te eindig vir die een wat homself nie daarvan wil bekeer nie.

Hierdie opgewondenheid in die wêreld word hoofsaaklik bewerk deur:

1. Musiek; 2. Boeke; 3. Rolprente; 4. Seks; 5. Wetenskaplike en tegniese uitvindings en ontwikkeling, tegnologie 6. Sport, 7. Geld. Hierdie is natuurlik net die hoofmiddele tot opgewondenheid in die wêreld. En al hierdie dinge vind ons vandag binne-in die huise van meeste Christene, en natuurlik in elke sondaar se huis; en dit deur die T.V., die Internet, rekenaars en selfone.

Nie alleen verskaf dit wêreldse opgewondenheid in die huis nie, maar in werklikheid vernietig dit die totale morele krag wat die mens van God ontvang het. Al waartoe hiérdie oorsee en in ons land bygedra het, was 'n algehele aftakeling van morele begrip en standaarde.

Diegene wat ten gunste van die tegnologie praat, praat teen hulle eie beterwete, want van die sogenaamde voordele van die internet, is daar weinig, indien enige, te bespeur onder die samelewing.

Maar wat baie duidelik is, is die toenemende stroom van immorele standaarde, onder die jeug veral, en ook oor die algemeen. In elk geval het die moraal van die wêreld so vêr gedaal dat die standaard wat hulle vandag as 'n morele standaard beskou, geen moraliteit besit nie.

Die totale aanslag van die vyand is dus op die verstand van die mens, wat dan 'n vernietiging van die huwelik, gesin, en samelewing tot gevolg het. Dit is die natuurlike liefde wat uitgesterf het - 2 Tim. 3:1-5.

Mense leef vandag verby mekaar as gevolg van die gejaagdheid van die lewe. Niks kan die mens haastig maak wat hom nie eers opgewonde maak nie. Dus is die gejaagdheid 'n bewys van die opgewondenheid wat heers in die wêreld.

Terwyl ons dan hierdie dinge weet, my dierbare broers en susters, moet ons, ons volkome daarvan afskei en geen gemeenskap hou met die werke van die duisternis nie. Want as u deel in hierdie wêreldse opgewondenheid, het u gemeenskap daarmee en word u 'n vyand van God; omdat u daartoe bydra dat ander u voorbeeld sal volg en nie deur u lewe bemoedig sal word om God te dien nie.

"Laat die wat vuil is nog vuiler word, maar die wat heilig is nog meer heilig word." -- Opb. 22:11; Dan. 12:10.

Is u besig om volgens Mat. 24:45-51 u medediensknegte te voed, of maak u hulle afvallig deur u lewe? Die afvalligheid van die mense vandag is tipies dié van die volke van die land Kanaän in die dae van die uittog van Israel uit Egipte - Gen. 15:14; 1 Thes. 2:16 ens.

Die sonde was so oorheersend in daardie tyd onder die volke van Kanaän, dat dit deurgedring het tot die jongste geslag. Vandaar die rede dat God Israel beveel het om oud en jonk onder hulle met die banvloek te tref. Hierdie gebeure bewys die liefde van God.

Om dus nugter van verstand te wees soos die Bybel ons beveel, moet ons noodwendig al hierdie dinge vermy, en geen gemeenskap daarmee hou nie. Ons moet onsself deeglik van die wêreld onderskei; deur weg te doen met al hierdie dinge wat daarop ingestel is om die mens totaal van God afvallig te maak. Want om van God afvallig te word is om jou verstand te verloor.

Paulus sê: "Ek slaan nie soos een wat in die wind slaan nie, maar ek onderwerp my liggaam en maak dit diensbaar." - 1 Kor. 9:24-27.

Ons moet geen gemeenskap met die dinge van die wêreld hou nie - 2 Kor. 6:14-18.

Die vyand poog altyd om die verstand van die mens te verduister - Joh.12:40; Rom.1:21; 2 Kor.4:3, 6,14; Efé.4:17,18; 5:8; Kol.1:13; 1 Pet.2:9;

Tekste waar lig en duisternis saam voorkom - Luk.1:78,79; Jes.35:5; 42:7; Efé.1:18; 1 Thes.5:5.