Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Talle mense gebruik God se genade as 'n noodwiel in plaas daarvan dat dit hulle stuurwiel is waarmee elke dag bestuur word. Geen wonder soveel 'voertuie' het die pad verlaat nie!
SIN VAN DIE LEWE
Ds A.E. van den Berg
“Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker12:13).
Baie mense glo dat die wêreld op selfvernietiging afstuur. Let op die toenemende natuurrampe, pessiektes, hongersnode, ens. So ook die geskiedenis – beskawings het gekom en gegaan. Dit maak van die moderne mens 'n onsekere mens. Hy leef in 'n wêreld wat lengte, maar nie diepte het nie. Ten spyte van die verligting wat kennis en tegnologie bring, bly die duisternis en onsekerheid toeneem.
Enkele jare gelede is 'n inboorlingstam in die hart van die Amasone ontdek wat nooit met die beskawing in kontak was nie. Benewens 'n filmspan wat hulle vanuit 'n helikopter gaan afneem het, het die Brasiliaanse owerheid verdere kontak met hulle verbied om hul eiesoortigheid te bewaar. 'n Kameraman het vertel dat van die inboorlinge selfs spiese na die helikopter gegooi het.
Wat 'n kontras – 'n stuk wêreld wat te midde van die beskawing in die tyd stilstaan. Een groep mense gooi nog spiese terwyl 'n ander groep die buitenste ruimte verken! Alhoewel die afstand tussen die kamera-span en die inboorlinge net buite die bereik van die spiese was, was die kulturele afstand tussen hulle duisende jare verwyderd!
Wie was die beste daaraan toe? Die ruimte-tegnoloë of die inboorlinge? George Bernard Shaw skryf dat verstandige mense hul by die wêreld aanpas. Onverstandiges probeer die wêreld by hulle te laat aanpas. Die Brasiliaanse inboorlinge het hulle by die wêreld van hul omgewing aangepas.
Die moderne mens is 'n soeker en vra gedurig vrae. Wie is ek? Waar pas ek in? Is ek veronderstel om iewers in te pas? Wat is my doel? Ons bevind ons op 'n onseker planeet met geologiese plate wat gedurig verskuif. Daarom is daar aardbewings, gety-golwe en aardverwarming wat 'n veiligheidsrisiko skep. Watter werklike sekerheid is daar op hierdie wankelrige planeet van ons? Die mensdom weet dat as hy nie reg te werk gaan, hy homself gaan vernietig. Daarom sing Boney M “Don’t kill the World” ja, die mensdom is ernstig besorg oor omgewingsbesoedeling. Dit laat by baie mense 'n gevoel van sinloosheid en verlorenheid ontstaan.
Dis egter nie 'n nuwe probleem nie. Ongeveer 3000 jaar gelede het Salomo ook gesukkel om die betekenis van die lewe te vind. Hy het aardse drome nagejaag. En telkens as dit hom genot verskaf het, was dit van korte duur en was by weer terug waar hy begin het. Genot was nie die doel van die lewe nie. “Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan” (Pred.1:3,4).
Salomo was gefrustreerd. Die somtotaal van sy drome en prestasies het hom koud gelaat en nie sy lewe verander, soos hy gehoop het nie: “En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek vir geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid.... Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het.... en kyk, dit was alles tevergeefs en ʼn gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie” (Pred.2:10,11).
Salomo kon sy krom wêreld nie reguit buig nie. “Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie” (Pred.1:15). Iets het ontbreek. Die feit dat hy die kennis gehad het om te weet hoe dinge moet wees, maar niks daaraan kon doen nie, het hom hewig ontstel. “Want by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder smart” (Pred.1:18)
Ek wonder wat Salomo van ons lewe sou sê? Daar is meer tegnologiese ontdekkings die afgelope 60 jaar as in die voorafgaande 5,000 jaar gemaak. Die mensdom het oneindig meer vermag as wat Salomo ooit van kon droom. Die tragedie is dat ons geensins gelukkiger is nie. En ons grootste vrees? Om dit wat ons besit, te verloor. Die wêreld skyn te krom te wees om iets daaraan te kan doen. Hoe verskriklik om in so 'n onsekere wêreld te leef wat jy eendag net so gaan verlaat! 'n Sinlose bestaan!
God het Salomo die regte pad geleer deur hom eers die verkeerde pad te laat ervaar. Ons leer mos uit ons foute. God wys Salomo op 'n baie groot waarheid wat elke gelowige moet insien om 'n sinvolle bestaan te kan voer – Salomo moes leer om tussen God se verlossingsgeskiedenis en die mens se geskiedenis te onderskei; twee hemelsbreë verskille wat ons moet insien om sinvol te leef. Let op die mens se geskiedenis – dis 'n tablo van prestasies en foute. Beskawings het hulself vernietig deur God te tart. In die verlossingsgeskiedenis, soos die Bybel dit duidelik uitspel, laat God ons na versoening deur die kruisdood van Jesus kyk.
Toe Salomo die troon by sy vader erf, het hy God om wysheid gevra en dit sowel as groot rykdom verkry. Dit het hom die mag, wysheid en geld besorg om al sy aardse drome te verwesenlik. Dit was alles tydelike genot, maar niks betekenisvol nie. “Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en ʼn gejaag na wind” (Pred.2:17).
God het dit alles toegelaat om Salomo die grootste les wat 'n mens op aarde kan leer, te leer: 'n Lewe sonder God is betekenisloos, al het jy al die geld, roem en mag!
Met ons verstand kan ons ontsaglik baie kennis verkry, selfs van die heelal. Nogtans weet ons dat daar 'n oneindig groot bron van onontdekte kennis is; iets wat van die voortyd af altyd bestaan het. Ons is nie die skepper daarvan nie. Die ganse heelal is aan hierdie bron van kennis onderworpe, 'n kennis wat ons net van God kan ontvang.
Daarom is die indirekte vraag van Salomo aan God ook ons vraag: “Waar pas ek in?” Ek weet dat daar 'n ewige dimensie aan my lewe is en dat lewe nooit gaan ophou nie. Ek gaan egter nie soos 'n dier sterf en alles is verby nie! Ek gaan van 'n wankelbare planeet na God se ewige woning verhuis.
Daarom kan geen aardse prestasie die verlange na die ewige dinge in my siel vervang nie. Daarom het die lewe slegs sin as ons nie op wêreldse dinge hoop nie, maar op God se verlossingsgeskiedenis en die reddingsboei wat Hy in Jesus na ons uitgooi, vasgryp. “Ek het gekom dat julle lewe en oorvloed kan hê” (Joh.10:10).
In Jesus nooi God ons om die ewigheid saam met Hom deur te bring. Daarom kan die wêreld maar vergaan. In Jesus vergaan ons nie saam nie. God is met gelowiges, al keer die wêreld om jou om. Jeremia se wêreld het met die ballingskap behoorlik omgekeer! Hy was op moedverloor se vlakte toe die Here met hom gepraat het:
“Die woord van die Here het dan tot my gekom en gesê: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig... Toe het ek gesê: Ag, Here, Here, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk. Maar die Here het vir my gesê: Moenie sê: Ek is jonk nie. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red...” (Jer.1:4-8).
Toe God hom op sy godgegewe taak wys, het Jeremia se vrees vir dit wat mense kan doen, onmiddellik verdwyn. Mense-geskiedenis is niks; verlossingsgeskiedenis is al wat tel. Wie dit insien, vind sin in die lewe.
Salomo skryf: “Toe ek my hart daarop gerig het om wysheid te leer ken en om te aanskou die dinge wat op die aarde gedoen word....het ek gesien al die werk van God, dat die mens die werk wat gedoen word onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog niks uit te vind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan...” (Pred.8:16,17).
Op aarde maak dinge nie altyd sin nie. Die ewigheid daarenteen sal vol betekenis wees. Dit wat op die aarde krom en skeef is, sal daar reguit wees. Dit wat op aarde ontbreek, sal daar in volheid voorsien wees. Daarom hoor ons Salomo in die laaste hoofstuk van Prediker baie anders as in die eerste een praat en die grootste wysheid meedeel: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense”.
Los derhalwe die ou aarde en al sy probleme. Moenie dit jou probleme maak nie. Die verlossingsgeskiedenis leer ons om eerder na 'n nuwe Jerusalem waar alles reguit gaan wees te beur. Sorg dat jy deur jou bekering daar gaan wees om dit te aanskou. Jesus het deur sy lyding vir jou die pad baie moontlik gemaak.