Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel leer dat die mens se kernprobleem die sonde is. Die sondeval het gelei tot menslike rebellie teen God. Daarby is Satan se lewensdoel om die mens te verlei tot sonde; hy sal dus daarop uit wees om jou in sy mag te kry deur jou ongehoorsaam aan God te maak. Maar al is jyself swak sal die almagtige God jou ook in hierdie nuwe jaar bewaar in Jesus Christus want Hy is ewig.
IS JY BANG VIR 2026?
Ds A.E. van den Berg
“Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? .... want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het..... Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:31-33).
Die jaar 2025 was ʼn moeilike jaar met baie vertwyfelings en onsekerhede wat gelowiges opnuut laat besef het dat die wêreld einde se kant toe staan en Jesus se wederkoms naby is. Wat die toekoms vir ons in 2026 inhou, weet ons nie. Al wat ons weet, is dat hierdie jaar teen 60 sekondes per minuut gaan plaasvind, ongeag wat mense doen. En dit maak mense bang vir die toekoms. En jy?
Elke jaar het twee handvatsels –een is vrees en die ander vertroue in God. Jy kies aan watter een jy 2026 gaan optel. In die gelese gedeelte (Bergrede)gee Jesus raad - tel 2026 aan die handvatsel van vertroue op. Die Bergrede is ʼn wonderlike Bybelgedeelte en ʼn handleiding vir gelowiges wat van 2026 ʼn goeie jaar wil maak. Jesus vra van gelowiges om nie oor die toekoms bekommerd te wees nie. Kommer lê ʼn mens lam en kan selfs lewens eis.
Ons weet nie wat 2026 vir ons gaan inhou nie; net God alleen. Die onsekerheid mag gelowiges egter nooit beangs maak nie. Die toekoms is God se terrein. Ons moet daaruit bly! Daarom sê Jesus dat elke dag genoeg aan sy eie kwaad het. Bepaal jou by die hede. As jou siel gered is, het jy geen rede om die toekoms te vrees nie. Moenie God wantrou en met jou lewe ʼn streep deur Ps.23:1 trek nie. Ongelowiges glo nie dat die Here nie hul Herder is nie; gevolglik gaan dinge hulle ontbreek.
Ons mag egter nie onverskillig met ons lewens omgaan nie. Ons is immers verantwoordelike mense en moet ook vir die toekoms beplan. Jesus waarsku egter in die gelese gedeelte teen spoke opjaag en die bobbejaan agter die berg te gaan haal. Mense praat asof God nie in beheer is nie!
Jakobus praat hard met mense wat leef asof God geen bepalende faktor in hul toekoms is nie:
“Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak —julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen” (Jak.4:13-15).
Moenie jou oor die toekoms bekommer nie. Kommer is ʼn nare ding. Dis soos ʼn wiegstoel wat jou iets gee om te doen, maar jou nêrens bring nie.Om alles te bekroon, neem kommer nie môre se sorge weg nie; dit dreineer vandag se krag.
Daar is min dinge wat ʼn mens psigies so uitput as kommer. Kommer laat meer plooie op ʼn mens se die hart as op sy gesig. Daarom is daar min vreugdes so groot soos kommerloosheid. Jesus is in beheer van die toekoms. Hou op om jou daaroor te bekommer.
“Soet is die slaap van die arbeider ...” (Pred.5:11).
Om kommervry te wees, moet ons op ons pos in die koninkryk van God wees. Wat beteken dit? Dat ons ons beste vir die saak van die Here sal gee.
“Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” (Ps.90:12).
Wie so leef maak skatte in die hemel bymekaar. Paulus skryf:
“En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol.3:23).
Ons moet in 2026 geloofslogika beoefen deur die beste van vandag te maak en more in God se hande te laat, selfs daardie dinge wat vir jou bykans onmoontlik gaan lyk. Abraham is ʼn goeie voorbeeld. God het hom gevra om sy seun te gaan offer. Dan lees ons:
“Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal ..... na die plek wat God hom aangewys het” (Gen.23:3).
Was Abraham oor die toekoms bekommerd? Hoe gaan hy ooit ʼn nageslag hê? Nee, hy was nie oor die toekoms bekommerd nie want hy het geglo dat dit in God se hande was en dat Hy sou voorsien soos wat dan ook gebeur het.
Paulus skryf:
” En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Rom.8:28).
Jesus sê:
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:33).
Wat word bygevoeg? Die dinge waaroor ons vir die toekoms bekommerd is!
God is ʼn versorgende Vader:
“Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie” (Mt.6:25,26).
Die toekoms (2026) is in God se hande. Heidene se pogings om gelowiges se lewens te ontwrig sal op God se bestemde tyd misluk. Luister na Ps.11:
“As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders.Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën....Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien” (:3-7).
Die toekoms is so helder soos God se beloftes. Hy laat vaar nooit die werke van sy hande nie. Hy sê vir Josua wat Israel na Kanaän moet lei en nie weet wat die toekoms gaan inhou nie:
“Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Jos.1:9).
Al weet ons nie wat 2026 vir ons inhou nie, weet ons in Wie se hande dit is – in God se hande en in niemand anders s’n nie. Moenie huiwer om ʼn onbekende jaar aan ʼn bekende God toe te vertrou nie. Maak van hierdie jaar ʼn rustige leefruimte in jou lewe en nie ʼn pakkamer vol kommer en vrees nie.
Ek sluit met Ps.91 af:
“HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ’n skild en pantser.Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie.Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien”.