Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel maak dikwels melding van kwaadsprekery onder mekaar wat soveel broederlike twis en onmin veroorsaak. Onder kwaadsprekery verstaan ons haatlike beskuldigings, gebore uit kwaadwilligheid, en die lus om mekaar se goeie bedoelings te ondermyn. Ons moet daarteen waak om die goeie wat God in iemand gewerk het met woorde te verdraai.
KERSSANG-OORDENKING
Ds A E van den Berg
“Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart; om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” (Jes.61:1)
Dis oor minder as ‘n maand Kersfees en 'n anderse dag as ander Christelike feesdae omdat dit uitsluitlik van vreugde spreek. Tydens Lydenstyd raak ons bedroef as ons aan Jesus se lyding dink, maar Kersfees is vreugde. Kersfees moet egter in ’n mens se hart wees. Wie dit nie in sy hart het nie, soek tevergeefs daarna in geskenkpapier toegedraai. Kersfees is ’n hartssaak.
Daar is geen Persoon na wie se koms so uitgesien is as na Jesus s’n nie. Die Jode het eeue lank die koms van die Messias verwag omdat dit deur profete voorspel is. Toe Jesus gebore is, het God gesorg dat mense dit weet, maar op ’n plek begin waar dit die minste verwag is – by ’n weiveld en herders.
In Jesus se tyd het herders nie 'n goeie naam gehad nie. Sommige was skurke wat nêrens anders werk kon kry nie. Van hulle het selfs van hul werkgewers se skape verkoop, die geld in hul sak gesteek en die eienaars vertel dat roofdiere die skape gevang het. So is Jode bv. verbied om vleis, wol of melk by herders te koop. Daarbenewens het hulle so ’n reputasie gehad dat hul getuienis nie in die Joodse Raad aanvaar is nie. Hulle was die uitvaagsels van die samelewing met wie jy jou nie opgehou het nie.
Gevolglik het God ’n vreemde ding gedoen toe Hy engele na herders gestuur het om die koms van die Messias aan te kondig. God kon sy engele na die heilige tempelsale gestuur het. Nee, Hy stuur sy engele na die landbousektor waar veragte mense werksaam was om die Kersboodskap te benadruk – Jesus vereenselwig Hom met sondaars.
In Luk.19:10 word die doel van Jesus se koms uitgespel: Hy het gekom, gesoek en gered. Jesus sê by geleentheid dat gesonde mense die dokter nie nodig het nie, maar siekes, en dis presies wat Hy kom doen het: om sondaars van sonde te bevry. Jesus het die lint gesny wat die nuwe pad na die hemel geopen het.
In die gelese gedeelte is Jesus 750 jaar voor sy geboorte aan die woord: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart; om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis”. Dis die Kersboodskap in die OT.
Jesus praat hier van ootmoediges. Dit is mense sonder aansien, die onderlaag van die samelewing – die vaal mannetjies en vroutjies van die lewe. Hierdie onderlaag was dikwels die vloermat van die bolaag en is dikwels op getrap. Hulle kon nie op menselike hulp staatmaak nie; slegs God kon vir hulle uitkoms bring.
Dis hoe dit met die skaapwagters met Jesus se geboorte was. Daarom was dit vir ootmoediges wonderlik toe Jesus tydens sy aardse bediening by tollenaars en sondaars (kerklos mense) geëet het. Hy is deur die kerklui van sy tyd as ’n besondere Rabbi geag. Daarom het hulle niks daarvan gehou dat Hy hom met die onderlaag van die samelewing ophou nie.
Wanneer die engel aan die herders verskyn, praat hy spesifiek met hulle en nie met die kerklui of enige ander Joodse groep nie. “Moenie vrees nie, ek bring vir julle ’n goeie tyding “. God het iets vir veragte mense te sê: “...dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker, wat Christus die Here is”. Daar het redding vir die vodde van die huis van Dawid gekom!
God is lief vir eenvoudige gelowiges. Die Bybel vertel aangrypende verhale van ’n onderlaag wat geestelik uitgestyg en in die kerk leiding geneem het. Die steen wat die bouers verwerp het, word dikwels ’n ware hoeksteen. Die herders van weleer het agter in die ry gestaan en in die vergetelheid van veragting versink. God het hulle agter uit die ry gaan haal en na vore gebring om eerste getuies van Jesus se koms te wees. Wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste!
God gebruik tot vandag toe dikwels mense wat nie geleerdheid, geld, aansien of wat ook al het nie, om kragtige getuies te wees. Koningskinders hoef geen akademiese sertifikate, aansien of stoflike welvaart te hê nie; maar wel een kwalifikasie – hulle harte moet in die bloed van Christus gewas wees sodat hulle vry en nie meer gevangenes van die Satan is nie. Is joune?