Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie is die mense wat die tekens van die tye, ook van dié tye waarin ons nou leef, duidelik raaksien en akkuraat verstaan? In Mt 16 sê Jesus sommer reguit dat 'n slegte en owerspelige geslag tevergeefs sal soek na tekens maar dat dit nie aan hom gegee sal word nie. Dus gee die HERE self aan mense hierdie insig – aan wie dan? Net aan diegene wie hulle harte op Hom rig, met Hom 'n oop verhouding het – aan hulle sal Hy die wysheid gee om betyds te weet wat om te doen in elke situasie.
IN SAND GESKRYF
Ds A.E. van den Berg
“..... En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh 8:11)..
Wat het Jesus in die sand geskryf? Die Bybel brei nie daarop uit nie. Dis nie belangrik nie. Johannes is die enigste Evangelie-skrywer wat oor hierdie voorval skryf en dis belangrik omdat Jesus mense 'n belangrike les in Christenskap wou leer.
Waarom het die kerklui die vrou na Jesus gebring? Hulle het nie sy toestemming vir 'n vonnis-voltrekking nodig gehad nie, maar self die volmag gehad om haar te stenig. Hulle het nie raad kom soek nie, maar eerder 'n aanklag teen Hom probeer kry, Die kerklui wou hê dat Hy teen die wet van Moses moes praat wat steniging voorgeskryf het en Hom dan aankla.
Dit was nie hul eerste poging nie. Hulle het Jesus telkens probeer uitlok omdat hulle Hom gehaat het. By geleentheid vra hulle Hom wat die grootste gebod in die Wet is. Jesus sien dwarsdeur hulle en skroom nie om hulle geveinsdes, addergeslag en wit gepleisterde grafte te noem nie!
Wat was Jesus se probleem met die kerklui? Hulle het soos engele gepraat, maar soos duiwels opgetree; godsdienstig maar nie godsvrugtig nie. En dan durf hulle 'n sedelose vrou na Hom bring om haar te veroordeel. Dit sou polities-godsdienstig die regte ding wees om te doen. Sy is immers op heterdaad betrap.
As Jesus haar veroordeel het, sou die kerklui tevrede gewees het. Hy doen dit nie en skryf eerder iets in die sand. Ons kan net wonder wat Hy geskryf het? Miskien: “Wie is julle om te praat?” Miskien het sommige van die kerklui self die kat in die donker geknyp! Jesus was alwetend en het dwarsdeur mense gesien: Dawid sê: “ Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend” (Ps.139:1-3).
Jesus gebruik die geleentheid om 'n belangrike waarheid te leer – sonde is eerstens nie 'n oortreding van mens teenoor mens nie maar van die mens teenoor God. Hy skei sonde en die daad. Die daad kon gestraf word, sonde kan vergewe word. Die beste voorbeeld hiervan is die misdadiger wat aan die kruis tot bekering gekom het. Sy daad is gestraf, maar sy sonde vergewe. Jesus haal hom nie van die kruis af nie, maar haal wel sy naam van die boeke van die oordeel af waarvan Openbaring 20 praat. En die les? Misdaad word gestraf; sonde word vergewe!
Jesus kon geskryf het: “Moenie bekommerd wees nie, jy voel alreeds sleg genoeg oor jou oortreding; Ek sal jou maar vergewe”. Dit sou vergifnis goedkoop maak om weer te sondig. Jesus kon miskien iets soos: “Dis alles in orde; niemand kan in elk geval sondeloos leef nie!” geskryf het, Maar Hy het nie. Die verhaal eindig met die woorde: “ Gaan heen en sondig nie meer nie” (:11). Vergifnis eis 'n skoon lewe.
As Jesus haar oortreding sonder enige oproep tot 'n heilige lewe afgeskryf het, dan sou sy kruisdood onnodig gewees het want dan het ons nie genade nodig gehad nie en almal voor die voet vryspraak ontvang en gered word. Nee, ons leef juis deur genade; skuldig, maar deur die bekering vergewe!
Met sy kruisdood het Jesus juis ons onvolmaaktheid met volmaaktheid vervang. Dan verstaan ons sy woorde in Mat.5:48: ” Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is”. Sonde kan 'n gerieflike bos wees om agter te skuil: “Ek is maar so gemaak en so gelaat staan”. Wat dan van die oproep tot heiligmaking as deel van die vrug van die bekering?
Jesus sê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie” (Mat.7:16-18).
Wat leer ons uit Joh 8? Jesus skryf ook ons oortredinge in die sand. As dit op rots was, sou dit vir altyd wees en ons sondeskuld die hoogte inskiet. Maar in sand waai die wind dit toe asof dit nooit daar was nie. Jesus het hierdie vrou se oortreding in sand geskryf sodat dit sou toewaai.
En dis wat vryspraak beteken – Jesus skryf ons sonde, ná opregte berou, in die sand om toegewaai te word. Wind en water maak dit gelyk. So werk dit ook met vergifnis. Die Wet van Moses was op klip-tafels geskryf want dis riglyne vir die lewe. Wie tot bekering kom, ongeag hoe groot sy sonde was, se oortredings word op sand geskryf. Jesus vee dit toe.
Die groot vraag is: Waarop skryf ons mense wat teenoor ons oortree se oortreding neer? Op klip of op die sand? Op sand kan ons dit uitvee. “Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe” (Mat.18:21,22).
Om dit te demonstreer, vertel Jesus aan die einde van die hoofstuk die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser en die onderdaan wie se reuse skuld hy afskryf. Die man loop 'n ander een raak wat hom min geskuld het en dreig: “Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het. En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou medediens-kneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie” (Mat.18:29-35).
Ons sukkel soms om mense se oortredings op sand te skryf en doen dit telkens op klip. Nogtans verwag ons dat Jesus ons oortredinge op sand moet skryf! Nee, ons moet met oortredinge maak soos Jesus ons geleer het nl om diegene wat teenoor ons oortree, se sonde op dieselfde manier te vergewe as wat ons van God verwag om ons s’n te vergewe. Dis immers die ooreenkoms in die Onse Vader. As ons nie kan vergewe nie, moet God ons ook nie vergewe nie!
Wat het toe met die vrou in Joh.8 gebeur? “En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het. En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh.8:9-11). Om te vergewe beteken nie om verkeerde gedrag goed te keur nie, maar om die oortreder tot bekering aan te moedig soos ek glo met die vrou in Joh.8 gebeur het. Daarna het die kerklui druipstert en onthuts huiswaarts gekeer.
Kyk 'n bietjie terug op jou lewenspad. Wat sien jy? Skoon sand? Of iewers iets op klip uitgekrap? As daar regtig niks is nie, is God se genade groot oor jou. As daar tog iets is, moet jy dit onverwyld verwyder. Jy is niks beter as Jesus nie. Om te vergeef, is soos om 'n gevangene vry te laat net om te ontdek dat hierdie gevangene eintlik jyself was!